Cosatu wil land tot stilstand bring

(Foto: Twitter)

Die vakbond Cosatu beplan volgende Woensdag ʼn nasionale stilstand in reaksie op die sosio-ekonomiese kwessies wat die land tans in die gesig staar.

Dié aankondiging volg ʼn week nadat die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu) aangedui het hy sal ook op dieselfde dag ʼn nasionale stilstand hou weens dieselfde rede.

Cosatu het Donderdag tydens ʼn media-inligtingsessie in Braamfontein, Johannesburg, inligting oor die nasionale stilstand verskaf.

“Die staking is in reaksie op die voortdurende beurtkrag, brandstofprysstygings en stygende voedselpryse. Ons wil druk op die regering én die private sektor plaas om die sosio-ekonomiese uitdagings reg te stel en op te los,” het Zingiswa Losi, Cosatu se president, tydens die inligtingsessie gesê.

“Sakeondernemings maak hul deure toe en is nie in staat om nuwe werkers aan te stel nie, weens die ekonomiese krisis waaronder ons gebuk gaan. Boonop het die ondernemings nie voldoende energietoevoer nie, wat ʼn groot kommer is. Dit het ook weer ʼn groot uitwerking op die ekonomie. Daar sal nie beleggers in ʼn ekonomie belê waar daar nie voldoende en betroubare energievoorsiening is nie.”

Losi sê hulle kan nie aanhou om terug te sit terwyl werkers ly nie. “Daarom dring ons daarop aan dat ons almal Woensdag hande vat en lig op hierdie kwessies werp.”

Volgens die vakbond is die staking nie net vir sy lede nie, maar vir enigiemand wat ook raadop is oor die land se probleme.

Die stakings word sover beplan vir onder meer Rustenburg, Klerksdorp, Mahikeng en Pretoria. Dit is nog nie duidelik presies hoe die vakbond en sy stakers te werk sal gaan op die betrokke dag nie.

Intussen het TLU SA ʼn beroep op die polisie gedoen om te wys dat hy die kapasiteit en die wil het om die land, sy inwoners en infrastruktuur op die dag van nasionale stilstand te beskerm.

“Dat daar sabotasie aan infrastruktuur kan wees, is ʼn werklikheid,” sê Bennie van Zyl, hoof van TLU SA.

“Vantevore was daar verskeie gevalle waar die polisie bystaan en net kyk hoe skade aan eiendom plaasvind. Die blaam moet op die regering gepak word wat nie sy verantwoordelikheid nakom om die inwoners van die land te beskerm nie.”

Volgens Van Zyl is dit nou tyd dat die polisie wys dat beamptes steeds die landswette kan toepas.

“Daar is hopeloos te veel gevalle van die polisie wat sy plig laat vaar het om die land en sy inwoners te beskerm. Daar is diegene wat reeds begin vra of ons land onregeerbaar geword het. Dit is nou die geleentheid vir die regering en die polisie om sterk op te tree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Pieter ·

Cosatu, What comes around, stays around. Jul eie boompie wat julle geplant het se vrugte.

GWS ·

Wat hierdie mense nie besef nie is dat hierdie soort aksies tot nog meer onstabiliteit lei!!!

Kokerboom ·

Stakings los NIE ekonomiese probleme op, inteendeel dit vererger dit. Verwyder liewer korrupte politieke partye en kaders asook jul kommunistiese ideologieë

Anel ·

En wat gaan dit help? Besef hulle hoeveel geld die land nog meer verloor elke keer as hulle staak? En hoeveel verwoesting gaan die lot stakers veroorsaak? Hulle kan mos niks vreedsaam doen nie!!!!!

Chris dupreez ·

Hoe onnosel kan jy wees, as die ekonomie tot stilstand gebring word, dink julle dat lewenskoste gaan daal.

domheks ·

Stem saam met TLU. Polisie hou net toesig! Beskerm nie die land en sy mense nie. Cele moet verantwoordelik gehou word.

Waarnemer ·

Verlaag die brandstofprys tot die stand waar dit in 2014 was en n kwart vd land se probleme is opgelos.Raak ontslae van e tol en nog n kwart vd probleme is opgelos.Raak ontslae van al die korrupte leiers en nog n kwart vd probleme is opgelos.Rask ontslae van al die kaders by Eskom en al die land se probldme is opgelos.

Di ·

WAT presies wil hulle nou eintlik hiermee bereik behalwe om verdere verwoesting te saai en die ekonomie verder te laat daal. MENTALITEIT van sekeres laat my prakeloos! Raak ontslae van al die vakbonde, dis die grootste EUWEL buiten die EFF in die land

Sarel ·

Cosatu moet eers voor hulle eie deur vee…iemand jan asb die Besems skenk

Nettie ·

Ons plaas druk op die privaatsektor omdat sakeondernemings in die privaatsektor moet sluit oor die tekort aan krag. Hmmm?!

Geert ·

Dit is omtrent verstommend wat Cosatu kwyt raak. Ek sou saamstem dat die privaat sektor die probleme sal kan oplos, dit is inderdaad voor die hand liggend, maar dan moet die ANC verdwyn en daarmee saam al die BEE twak.

Bertie ·

Kan Cosatu nie maar met oplossings vorendag kom nie? Is hulle intelligensievlakke werklik so laag dat hulle nie met iets kreatiefs en opbouend vorendag kan kom nie?

Boon ·

Cosatu mislei die werkers. Hulle is deel van die ANC alliansie regering saam met die SA kommunistiese Party. Hulle hoef nie te staak nie, maar moet eenvoudig net met hulle eie comrades vergader en uitvind waarom hulle die land so pateties swak bestuur. En as hulle nie tevrede is nie, kan hulle onttrek uit die alliansie en hulle eie kandidate stel met die volgende verkiesing. Dis werklik so eenvoudig soos dit. Kan Maroela die boodskap aan hulle stuur asb?

PieterJ ·

Ai mense, dis soos om wiskunde vir my hondjie te verduidelik.

Manie ·

In die geval, mag jou hondjie dalk beter verstaan as die klomp patete.

Erika ·

Nou hoe gaan dit die land help? Dink hulle die petrol prys gaan daal met R5.50 dink hulle Eskom gaan oornag nie meer loadshedding toepas nie? Goed staak as dit moet, maar moet dan net nie plunder, en winkels beroof en skade aanrig nie, want wie gaan betaal vir al die skade, sou daar wees? Sou petrol prys wel een of ander tyd afkom, gaan kos pryse daal of nog steeds styg? Elke keer wat mens jou voet in winkel sit, is die goed net duurder. Niemand van ons, nie net staats amptenare, sukkel, want daar is geen teken van verhoging in salaris nie, maar intussen styg COST OF LIVING uurliks, never mind weekliks. Hoe op aarde moet mens bestaan probeer maak? Almal van ons leef van die hand na die mond. Hierdie ‘SHUTDOWN’ gaan ons niks baat nie. Of gaan ons kort na die staking verhogings kry, back dated 2019??? Dan kan julle maar staak!!

WILLEM ·

Hoe werk die mense se koppe?? Wil alles vernietig in plaas van om ‘n bydrae te maak om RSA ‘n beter plek te maak. Ons bly in huise met mure om en alarm stelsels, agter sterk dief wering, hoekom??

Wondermaarnet ·

Hoe dom is hierdie mense? Om die land tot stilstand te ruk rig meer skade aan en as hulle nie gereeld als afbreek of afbrand nie gaan daar meer geld wees om sake te verbeter, maar nou word daar geld gemors word om goed reg te maak of te vervang.

Jack ·

Hoeveel keer het hulle al probeer om die land tot stilstand te bring en nog nooit geslaag nie. Hulle bly nog steeds die verloorders in alles. Klomp saboteurs.

Maritza ·

Los ons uit! As ons wil werk wil ons werk. Moenie selfsugtig wees en julle probleem ons sin maak nie. Gemors!!

Swerwer ·

Wens net die wesens wil ‘n slag besef met al hul stakings/brand en vernietiging dra hul heer hartlik by tot die vinnige vernietigende Rommelstatus RSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.