Cosatu wil privatisering van Pikitup verhoed

Pikitup (Argieffoto)

Pikitup (Argieffoto)

Die vakbondfederasie Cosatu het Dinsdag onderneem om die aankondiging deur die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, dat hy beplan om die rommelverwyderingsmaatskappy Pikitup te privatiseer, teen te staan.

Sizwe Pamla, woordvoerder vir Cosatu, het in ʼn verklaring gesê hulle sal Mashaba se planne teenstaan om die munisipaliteit se mandaat aan die privaat sektor uit te kontrakteer.

“Ons is gereed en bereid om die stad van Johannesburg tot stilstand te dwing indien die burgemeester dink hy gaan sy vriende in die Free Market Foundation die kans bied om hul anti-werker en anti-vakbondbeleide in te stel,” het Pamla gesê. “Die vakbondfederasie is onwankelbaar in sy opposisie teen die privatisering van staatsdienste.”

Mashaba het reeds tydens sy veldtog voor die munisipale verkiesing op 3 Augustus, sy planne, om Pikitup te privatiseer, bekend gemaak en die vullisverwyderingsmaatskappy in verskillende dele op te deel.

Die munisipalewerkersvakbond Samwu het Dinsdag ook gesê Mashaba se droom, om Pikitup te verkoop, nie bewaarheid sal word nie.

Pamla het gesê privatisering sal die sosio-ekonomiese belange van armes benadeel en tot swakker dienste vir armes lei, aangesien hulle nie die dienste deur privaat maatskappye sal kan bekostig nie.

“Herman Mashaba se plan sal tot beduidende werksverliese lei met al hoe meer werkers wat gekontrakteer word op beperkte vastetermyndienskontrakte,” het Pamla bygevoeg. “Dit sal werkers verwyder van die bedingingseenhede wat oor ʼn paar jaar in die openbare sektor opgerig is, en tot ʼn vermindering lei in inkomste, voordele en werksveiligheid.”

ʼn Maand lange onbeskermde staking deur werknemers van Pikitup het in April vanjaar toenemende kommer veroorsaak oor die impak op die gesondheid en omgewing in Johannesburg deur vullis wat nie verwyder word nie. Pikitup moes ongeveer R1 miljoen per dag betaal sodat privaat kontrakteurs die vullis kan verwyder en vir veiligheidsdienste om die tydelike werkers te begelei.

Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anti regering ·

Die mense het gepraat en vir die DA die mandaat gegee om JHB te regeer en hierdie klink na ‘n stap in die regte rigting ,moet nie dat cosatu julle voorskryf nie .

Sus ·

Vakbonde het Engeland op sy knieë gehad. Dit gaan ‘n sterk man kos om Pikitup se nonsens te stop. Kom ons hoop dis die eerste stap in die regte tigting.

KarooKlong ·

Wonder wat gaan cosatu en samwu maak as Pikitup totaal en al vou?

TM ·

Cosatu is glad nie bekommerd oor die werkers nie. Hulle is bekommerd oor hulle eie sakke wat geraak gaan word en dat hulle “reg” van ontwrigting en stakings nou ‘n duik gaan vang.

Peter ·

Hier kom ‘n ding! Tot nou toe het die stert die hond geswaai. Die Suid Afrikaanse vakunies het heeltemal te veel spiere.

Lance ·

Verseker n stap in die regte rigting …en lees net asb enige kontrak deur …nie soos die anc wat al die nulle sien en net teken nie

Johann ·

Mag COSATO n lamgat eerste hou hier val! Nog NOOIT oor “the people” gegaan. Gaan oor die topbrass se sakke.

snoefie ·

cosatu is suur oor die verlies aan lede geld wat dit te wee sal bring.

jurie blanche ·

nie nodig om pick it up te verkoop nie laat net toe dat privaat kontrakteurs operate. laat dit n diens word waar jy n keuse het wie doen jou vullis verwydering . Maar as jy n gebou besit moet jy n kontrak in plek he.

Johann Marx ·

Maak hulle toe!!! Gee in elke woonbuurt ‘n klein sakeman die kans om die vullisdromme te hanteer….en fokus julle op wat julle moet doen, nl. die verantwoordelike bestuur van die stortingsterreine. Pikitup se Formule 1 drywers jaag soos maniakke deur ons woonbuurte…..en dis die swakste diens vir die duurste prys. Dit kos nie R72 om ‘n asblik in ‘n trok om te keer, en die hele vrag na ‘n stortingsterrein toe te ry nie……….veral as daar 800 huise in een woonbuurt is. ‘n Klein sakeman sal dit baie meer effektief doen….vir die helfte van die Pikitup Rip-off…

Columbiana ·

Dis reg as Cosatu weier om te privatiseer maar laat dan toe dat privaat instelling kompiteer met die useless instelling. Laat ons toe om keuse te hê van wie ons wil gebruik. Ek ks bereid om te wed dat amper almal ander instelling met dienslewering sal verkies bo “never Pikitup”. Laat ons self kies!

Jeanne ·

Hoekom wil julle privatisering verhoed? Ek dink die mense wat die asdromme uitgooi, staak ten minste 3 keer ‘n jaar dan moet ons privaat maatskappye (soms sommer ‘n bakkie wat by ons huis aankom en aanbied) betaal om ons asdromme te verwyder. As jy nie ‘n diens wil of kan lewer nie MOET hy GEPRIVATISEER word . hulle het genoeg waarskuwings gehad en genoeg tyd om hulle dinge agtermekaar te kry. Wat al hierdie UNIONS moet onthou, aanhoudende stakings breek ‘n bedryf, soos dit die mynbedryf gebreek het en die Poskantoor en so baie ander . maar staak staak hulle . HOU OP STAAK, dalk sal al die dienste nie die gevaar loop om geprivatiseer te word nie .. as julle staak, lewer julle nie ‘n diens nie en ONS moet ekstra betaal terwyl ons reeds op ons munisipale rekeninge vullisverwydering ingesluit het. Neewat, geen simpatie nie, lewer ‘n diens en hou op staak en kla en tekere gaan, dan sal daar geen rede wees vir privatisering nie.

Hendrik ·

Dit is baie moeilik om uit te kom as jy jouself in ‘n hoek geverf het. Dit gaan in alle sektore so en swak besluite op swak besluite word gemaak. Ek dink persoonlik dat inwoners moet baie meer betrokke word/bly met hulle wykssake en daar is mos wykskomitees daarvoor. Moenie net wag vir die verkiesings elke 5 jaar nie. Ek kan egter nie praat nie want ons het ons omie wat elke Saterdag te vuillisdrom kom haal. A tog dit is so lekker om tussen jou eie mense te bly. Sterke julle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.