Courier Guy nié gepos ná lasterklag

Argieffoto (Foto: Will Francis/Unsplash)

Die Advertensiebeheerraad (ARB) het die afgelope week beslis dat ʼn advertensie waarin ʼn vrou die woord “jir” gebruik, niks met godsdiens te doen het nie.

In die radioadvertensie vir The Courier Guy se Pudo Locker-stelsel sê ʼn vrou: “So ek het my ma se verjaardaggeskenk hier in Kloofendal. Sy’s mos innie Kaap! Nou moet ek in ʼn ry staan ​​om dit vir haar te stuur, jirrr, toue is so 2019. Nee man!”

Vanessa Roux, ʼn luisteraar wat dié advertensie in Junie op Hot 91.9FM gehoor het, het die klag by die ARB aanhangig gemaak en gesê sy neem aanstoot teen die gebruik van die woord, wat volgens haar ʼn verwysing na “Here” of “God” is. Sy het aangevoer dit is godslasterlik en dat sy grootgemaak is om nie die Here se Naam ydellik te gebruik nie.

Die ARB het bevind dat die advertensie niks met godsdiens te doen het nie, en dat die gebruikte woord “jir”, en nie “jirre” nie, ʼn algemene uitdrukking in Kaapsafrikaans is. Dit is soortgelyk aan woorde soos “jislaaik”, wat gewoonlik gebruik word om irritasie, ergernis of ontsteltenis aan te dui. Ander kenmerke van die dialek wat voorkom is die vermenging van Afrikaans en Engels, en frases soos “She’s mos innie Kaap” en “lekka quick”.

Vanuit ʼn objektiewe perspektief bevind die raad dat die boodskap van The Courier Guy se advertensie duidelik is: die ongerief daaraan verbonde om in ‘n ry te staan ​​wanneer jy ʼn pakkie wil pos teenoor die gemak om van die adverteerder se Pudo-diens gebruik te maak.

Die ARB het voorts in sy bevinding gesê dat aanstootlikheid subjektief is, en wat sommige persone dalk lasterlik vind, vir ander humoristies of onbenullig is. Hoewel dit vir sommige godsdiensgroepe ongemaklik kan wees om sulke frases in advertensies te hoor of sien, is dit egter nie ʼn waarborg vir die verwydering daarvan nie. Veral wanneer die konteks van die advertensie nie ʼn aanstootlike boodskap kommunikeer of afbreuk doen aan ʼn bepaalde godsdiensgroep of godsdiens in die algemeen nie.

Suid-Afrika is ʼn sekulêre samelewing met veelvuldige godsdienste, sê die raad, en daarom is dit byna onmoontlik om aan alle kerkgroepe en denominasies se reëls te voldoen. Indien daar gehoor gegee word aan alle godsdiensgroepe se vereistes, sal adverteerders byvoorbeeld ook nie varkvleisprodukte of vroue met onbedekte hare in hul reklame mag gebruik nie.

“Dit is nie redelik dat ʼn lid van ʼn bepaalde godsdiens verwag dat advertensies aan al reëls van hul godsdiens moet voldoen nie. Daar word dus bevind dat die advertensie nie in stryd is met klousule 1 van Afdeling 2 van die Gedragskode vir die Reklamepraktyk nie.”

Die raad het ook aangevoer dat luisteraars waarskynlik nie hul siening van God sal verander as gevolg van hierdie advertensie nie. Dit is boonop aanvegbaar dat ʼn persoon wat God aanbid deur dié advertensie aangemoedig word om te begin laster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

SwartBees ·

@Mevrou Vanessa Roux. Ek is saam met jou op die een. Ons is nie onder klippe uit gebroei nie. DIT IS ‘n KLAP IN DIE GESIG VAN MY GODSDIENS, MY GELOOF, MY INTEGRITEIT EN MY WAARDES. Maar wat kan ons anders verwag van mense wat die knie buig teenoor die anti-chris.

Andries ·

M.a.w. almal, en die een wat die advertensie gemak het, en wat volgens jou die woord, wat alledaags in die Kaap gebruik, is antichritene. Moenie met die bybel onder die arm staan en klippe gooi nie. DIT IS ANTI CHRIS.

Anoniem ·

Vanessa Roux ek stem 100% saam met jou, en ondersteun jou.

Johann ·

En dis wat gebeur as “mense regte” ter wille van politieke gewin BO ALS EN ALMAL gereken word.

Verenzo ·

Dis so hartseer om te sien dat die gemiddelde christen nie weet wat die Naam van die God van die Bybel is, asgevolg van die bybelvertalers wat Vader se Naam meet as 7 000 keer vervang het met die woord “HERE”. Die woord wat op manstoilette se deure staan. Deur die woord “here” te gebruik oortree jy nie die Gebod wat se “Jy mag die naam van YHWH jou God nie ydellik gebruik nie”, want HERE is nie Sy Naam nie.

Petrus Albertus ·

Die naam van die God van die Ou Testament was ook nie YHWH nie, dit is alleen maar ‘n plekhouer wat die Jode gebruik het om na die Here te verwys juis omdat hulle nie die naam mag gespreek het nie ander kere is die woord Adonai ook gebruik – wat nader is aan ons bekende term “Here”. So niemand weet wat die Ou Testamentiese Jode gedink het die naam van die Here is nie, gelukkig weet ons in die lig van die Nuwe Testament dat dit nie die korrekte naam van die Here is wat red nie maar die geloof in Jesus Christus. Baie vreemd dat die ou heidense bygeloof dat jy die naam van die god moet ken om dan nou die godheid te kan manipuleer nou weer hier, op hierdie plek en tyd, kop uitsteek.

Verenzo ·

Dis jou mening en ek respekteer dit, maar volgens my oortuigings is die Naam van God, wat Jesus ook self aanbid het belangrik. Ek het ‘n onlangse studie in Joodse Teologie gedoen en bevind dat dit deel is van die Joodse wette (Talmud) is om nie die Naam van YAHUAH uit te spreek nie en nie ‘n Bybelse wet nie. Volgens bewyse vanuit historie kan gesien word dat YHWH die Naam van God is, dit kom ook meer as 600keer voor in die Nuwe Testament geskrifte.

VaalDonkie ·

Here, oftewel “Lord”. Jy weet, oorlat hy Heer van alle here is. Ook omdat daar meer as een in die Drie-eenheid is. Ontspan vir my net so bietjie.

En in elk geval, om Sy Naam ydelik te gebruik is wanneer jy rondloop en verkondig jy’t ‘n “woord gekry” en dan profeteer jy uit jou eie kop uit en mislei mense.

So chill maar. Alles is oraait.

Wielspore ·

Die woord jir in die advertensie het geen verwysing na God (Here), in die taal wat gebruik word beteken jir dan eerder irritasie, ergernis of ontsteltenis.
Ons almal het ‘n reg op ons eie opinie en dit is glad nie afdwingbaar op iemand anders. So as jy met iemand verskil, gee jou opinie, moet nie ander mense se tyd mors on jouself te bevorder.
Gaan kuier bietjie in die Kaap, jou mond sal oophang as jy hoor hoe word daar Afrikaans gepraat word.

Ria ·

Inderdaad is dit godslasterlik. Daar bestaan nie andersins so n woord. So wat is die oorsprong dan? Enige iemand kan die konnotasie maak

koos10 ·

Maar die Generaal van die SAPS word ontslaan omdat hy kaapse Afrikaans gebruik het op ‘n FB boodskap? Die selfde woorde wat die Minister van Sport gebruik het toe die Springbokke wêreldbeker toe is.

Leana ·

Dit is hoe mense in die kaap praat en regtig nie nodig om aanstoot te neem nie.

Annatjie ·

Ek dink die Bybel se betekenis van jy mag die naam van die Here nie ydelik gebruik is vir die bemarkers wat bybelversies gebruik om hulle produkte te verkoop . Dit is absoluut aaklig as bemarkers dit doen en dan is hulle nog oneerlik ook.

VaalDonkie ·

Soos die een: “All these things I will give to You, if falling down, You will worship me.”

Fae Fubar ·

As ‘n mens so vuisvoos is, oor die Amerikaners wat die Here se naam ydelik gebruik, asof dit ‘n komma is, dan krap dit wel wanneer ‘n mens woorde soos hierdie in advertensies hoor.

Anel ·

Maar toe een kla oor ‘n bieradvertensie wat te manlik is, is dit summier verwyder. Lyk my net sekere mense mag aanstoot neem oor iets

Santie ·

Wie merk so baie negatief die laaste tyd op maroela media. Mens het dit nie gesien tot so 2 tot 3 maande terug. En ek se as daar oor n ander godsdiens gepraat word is daar moeilikheid maar christene mag maar aangevat word. Dan moet ons maar net stil bly.

Fae Fubar ·

Nee Santie, die papbroek sluip al ‘n hele ruk op Maroela rond. Altyd af-duimpie gewys elke keer wanneer iemand ‘n opmerking maak soos “Mag die Here julle vertroos” en so aan. ‘n Regte anti-Christen vent, maar ons sê nooit boe of ba nie.

Cherokee ·

Jy’s reg Fubar, en sò reg dat dit my verbaas dat dit MM nie pla nie. Hul sensorraad werk oortyd, maar daardie merkies wat ateïsme uitspel, word toegelaat.

Kruidjie-roer-my-nie ·

So ons mag nou maar sê “allah toue is so 2019”
Of “vishnu toue is so 2019”?
Of “your father’s forefathers, toue is so 2019”?
Wat het van wedersydse respek geword?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.