Altesaam 1 170 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, is nou in Suid-Afrika aangemeld.
Maroela Media het aanvanklik berig dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydagoggend die land se eerste sterftes weens Covid-19 aangekondig. Die slagoffers is twee vroue, onderskeidelik 48 en 28 jaar oud.
Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het egter vanaand gedurende ’n mediakonferensie in Pretoria namens Mkhize gesê slegs een van die pasiënte se dood kan vir seker aan die koronavirus toegeskryf word. Die ander pasiënt het in dié stadium vermoedelik weens Covid-19 omgekom; daar word nog op die uitslag van die toetse gewag, het Mthembu gesê.
Een van die vroue is intussen as Madeleine van Wyk (48) geïdentifiseer. Van Wyk was ʼn alumni van die Universiteit Stellenbosch (US) se sakeskool. Dit is egter nie seker of sy wel die slagoffer is wat vir seker weens Covid-19 oorlede is nie.
Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het sy medelye namens die universiteit met Van Wyk se familie betuig.
Luidens mediaberigte is Van Wyk in die Durbanville Mediclinic behandel voor haar dood.
Voorsittende beamptes van die parlement het ook hul innige meegevoel met die vroue se naasbestaandes betuig.
“Die koronavirus diskrimineer nie. Mense van verskillende sosiale klasse, ouderdomme, rasse en gelowe word besmet. Leiers in die regering en ’n wye verskeidenheid openbare figure, die rykes en die armstes van die armes, diegene met ’n swak of sterk immuniteit, jonk en oud oor die hele wêreld, is van die wat die virus opgedoen het,” het Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, gesê.
Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.
Die erns van die situasie word nie besef deur Suid-Afrikaners nie. Die storie gaan hande uitruk. Regering, onder die “leierskap” van CR, het geslaap en moes al in Desember maatreëls ingestel het om die verspreiding van die virus te bekamp.
Enigeen wat dink die jwarentyn gaan eindig na 3 weke gaan ‘n redelike skok kry.
Ek het ook so gevoel dat dit langer gaan neem. Met die agterstand van toetse… En die hordes wat nie gaan toets nie…. Dink ek daar is baie meer gevalle as wat ons van weet.