Covid-19: 204 skoliere, werkers positief by Oos-Kaap-skool

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Die departement van onderwys in die Oos-Kaap het bevestig 204 persone by ʼn skool in die provinsie het positief getoets vir Covid-19.

Die departement het Dinsdag in ʼn verklaring gesê 204 leerlinge en koshuis-assistente by die Makaula Senior Secondary School in KwaBhaca (Mount Frere) het positief getoets en dokters is na die skool ontplooi.

Die departement van basiese onderwys het gesê skole mag vanaf 8 Junie weer oopmaak en leerders in graad 12 en graad 7 het eerste teruggekeer skool toe.

Die Oos-Kaap het tans die derde hoogste getal gevalle in die land (16 895) ná Gauteng (22 341) en die Wes-Kaap (52 554).

Sizwe Kupelo, provinsiale woordvoerder van gesondheid, het gesê die departement ondersoek ook die moontlikheid om die koshuis in ʼn isolasiefasiliteit te omskep.

Dokters is ontplooi om die skool se koshuisgeriewe te assesseer en te bepaal of dit aan die minimum standaarde vir kwarantyn- en isolasiefasiliteite voldoen, soos beligting, geventileerde vertrekke en sanitasiefasiliteite.

“Altesaam 24 leerders het aanvanklik verlede week positief getoets saam met 180 ander, wat koshuis-assistente insluit wat vandeesweek positief getoets het,” het Kupelo gesê.

Alle provinsiale departement versoek inwoners steeds om aan die afsonderingsmaatreëls te voldoen en goeie higiëne en sosiale distansiëring toe te pas.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.