Covid-19: 73 onnies, 22 skoliere toets positief in Noordwes

Mmaphefo Matsemela, provinsiale LUR vir onderwys (Foto: Molaole Montsho/ANA)

Minstens 106 nuwe Covid-19-gevalle is in skole in Noordwes aangemeld, het die provinsiale departement van onderwys Maandag bevestig. Die nuwe gevalle is 11 personeellede, 73 onderwysers en 22 skoliere.

Mmaphefo Matsemela, provinsiale LUR vir onderwys, het gesê die betrokke skole moet die standaard bedryfsprodure volg wat betref Covid-19.

“Ek wil al ons beamptes in die departement aanmoedig om die standaard protokol te volg wanneer Covid-19-gevalle aangemeld word. Skoolhoofde moet seker maak dat hulle in kontak bly met die plaaslike kliniek,” het sy in ʼn verklaring gesê.

“Skole moet ook stappe doen om inligting te versprei oor die siekte en die moontlike oordrag binne die skoolgemeenskap. Die Covid-19-gevalle wat ons aangemeld het, is ʼn teken dat die pad nog lank is en ons moet ʼn positiewe houding handhaaf om seker te maak ons oorkom die pandemie.”

Elf skole van Dr Kenneth Kaunda, Dr Ruth Segomotsi Mompati en Bonjanala-distrikte het reeds weer oopgemaak ná hulle weens Covid-19-gevalle gesluit moes word. Die departement het die skole veilig verklaar ná die ontsmet is.

Ruskraal Primary School in Lethabong naby Rustenburg is tot 8 Julie gesluit nadat drie onderwysers op 22 Junie positief getoets het vir Covid-19. Die skool is ontsmet en sou op 25 Junie weer oopgemaak het, maar slegs sewe onderwysers het opgedaag. Die ander is glo in self-isolasie en wag vir hul uitslae. Mokotedi Mokotedi, die skoolbeheerliggaam se algemene sekretaris, het gesê ouers het ʼn besluit geneem om die skool langer gesluit te hou om ʼn verdere verspreiding van die virus te voorkom.

Dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het gesê die uitbreking in skole is ʼn gevolg van skoliere of onderwysers wat onwetend die virus in hul gemeenskappe opgedoen het voor hulle teruggekeer het skool toe. “Dit is hoekom ʼn intensiewe sifting- en toetsingsprogram in skole van stapel gestuur is, sodat ons gevalle so vinnig as moontlik kan identifiseer.”

Mkhize het gesê die departement poog om die skoolkalender verder so min as moontlik te ontwrig. “Ons werk, in samewerking met ons kenners, werk nou saam met die departement van onderwys sodat skole nie onnodig hoef te sluit nie.”

Volgens hom sal daar na verwagting oor die volgende paar weke ʼn verdere toename wees in Covid-19-gevalle in die verskillende provinsies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.