Covid-19-advieskomitee nié ontbind

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê hy het nié die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 (MAK) ontbind nie hoewel enkele veranderinge aan die komitee gemaak word noudat Suid-Afrika vermoedelik oor die ergste van die Covid-19-pandemie is.

Bewerings oor die komitee se ontbinding doen sedert die naweek die rondte nadat mediaberigte na ʼn brief verwys het waarin die minister sy dank teenoor die lede van die advieskomitee uitspreek.

“Die MAK word nie ontbind nie. Die minister het die entiteit bloot versterk in ooreenstemming met die verwikkelinge van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika,” sê die departement van gesondheid nou.

“Die opvatting dat die minister die MAK ‘ontbind’ het omdat hy nie na die komitee se raad wou luister nie, is ver van die waarheid verwyder. Die feit is dat die minister byna alle (meer as 95%) van die MAK se raad aanvaar en geïmplementeer het.”

Die departement verduidelik verder dat indien die regering se optrede vroeër van die komitee se raad verskil het, dit bloot die gevolg was van die feit dat Mkhize en die regering ook faktore en/of insette van ander belanghebbendes moes oorweeg.

“Diegene wat volhard dat die regering nie ag geslaan het op die advies van die MAK nie, is oneerlik en wil die publiek mislei.”

Volgens die departement is die MAK einde Maart te midde van die Covid-19-pandemie met die beste bedoelings gestig. Die komitee het toe uit verskeie patoloë, laboratoriumpraktisyns, klinici, praktisyns en navorsers vir openbare gesondheid bestaan.

Die versterkte MAK sal egter nou ook biomediese praktisyns, kliniese kundiges, spesialiste in etiek, die verpleegberoep, sosiale wetenskaplikes en gemeenskapsleiers insluit aangesien ʼn meer holistiese benadering tot die bestuur van gevalle en voorkomende maatreëls nou vereis word.

“Dit het dus nodig geword om die MAK te versterk sodat dit ooreenstem met sy mandaat om raad te gee oor doeltreffende meganismes vir die voorkoming van die oordrag van Covid-19.

“Die versterkte MAK sal steeds ’n mate van kontinuïteit handhaaf, en baie van die kundiges van die oorspronklike klinies-biomediese MAK is behou, insluitend die sittende voorsitter prof. Abdool Karim, prof. Marc Mendelson, prof. Sthembiso Mkhize, prof. Rudo Mathivha en prof. Nombulelo Magula.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Hoor my lied: Hier gaan ‘n hele nuwe departement gestig word, om poste aan kaders uit te deel.

Pieter

Alles wat julle ANC kommuniste aan raak verander in gemors.

Belinda

Ja nee weer ‘n hele span wat heeldag sit en duime rol vir ‘n lekker salaris, onthou net ministers die finansiele inspuiting gaan ook saam met Covid stop, waar gaan jul die ponde vandaan kry, want ek glo hul werk ook nie vir peanuts nie.

Danie

Is dlaminie zuma nog daar want mandela het haar vergewe oor korrupsie sê Waldimar. Nou dink sy is die kat se snor. Cyrel se favourite meisie, untachable! Al die mense wat nie met haar saam stem is gefirea

Scalla

Is Prof Gray dalk betrokke by MAK?