Covid-19-adviesraad wou nooit derde drankverbod hê

(Argieffoto: pixabay)

Dit blyk of selfs die regering se raadgewers vir die hantering van die Covid-19-pandemie nie ten gunste was van die derde drankverbod, wat vir vyf weke aan die einde van Desember ingestel is nie. In dié tyd is alle verkope en vervoer van drank verbied, kwansuis om die druk op hospitale tydens die tweede virusgolf te verlig. Dié besluit het die verlies van derduisende rande aan inkomste en ook talle werksverliese tot gevolg gehad.

Die regering het verlede week sommige van die ministeriële adviesraad se aantekeninge gepubliseer. Volgens dié aantekeninge het die adviesraad nooit ʼn algehele verbod op die koop en verkoop van drank voorgestel nie en slegs aanbeveel dat drankverkope tot sommige dae beperk word. Ten spyte van dié aanbeveling en pleidooie van rolspelers in die drankbedryf, het die regering steeds besluit om ʼn algehele drankverbod van 5 weke lank in plek te stel.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba) sê nou hoewel hulle dié mate van deursigtigheid verwelkom, dit “ontstellend” is dat die regering nie ag slaan op sy eie raadgewers en gesondheidskenners se aanbevelings nie.

“Dit het ’n geweldige nadelige uitwerking op die bedryf gehad,” sê Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, oor die derde alkoholverbod. “Salba het herhaaldelik gevra dat die regering sy redenasie agter die besluit om verkope te verbied of te beperk, verduidelik en om die gedagtegang rakende die beperking [van alkohol] te probeer verstaan.”

Mngadi sê die derde drankverbod het ’n nadelige uitwerking op die toerisme-, gasvryheid- en drankbedryf gehad – bedrywe wat in daardie stadium reeds lamgelê was deur afsonderingsregulasies.

“Ons het voortdurend ons bereidwilligheid bevestig om met die regering saam te werk met die algemene doel om die impak van die Covid-19-pandemie te beperk en die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat groei.

“Die president het ons verseker dat besluite gegrond is op aanbevelings van wetenskaplike raadgewers op die adviesraad.”

Mngadi bestempel die verskeie kere wat ʼn verbod op alkohol gedurende 2020 en 2021 ingestel is, as ’n “nasionale sosio-ekonomiese ramp”, wat meer as 200 000 werkgeleenthede in gedrang gebring het en R36,3 miljard in verkope verlore laat gaan het.

Volgens Salba het die land verlede jaar R51,9 miljard se verlies aan bruto binnelandse produk (BBP) as gevolg van die verbod gely en die belastinginkomsteverlies sonder aksyns het R29,3 miljard beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JohanR ·

Die regering? Dink eerder Nkosazana Dlamini-Zuma. Sy is agter baie van die dinge wat gebeur het sedert 26 Maart 2020.

SomeOne ·

ek verwonder myself telkemale, waar kom sy eintlik in die prentjie vir reëls wat saam met covid geneem word, is dit moontlik omdat haar van ook deels zuma is

Samuel ·

NDZ het baie meer mag gehad en het seker steeds, as wat ons dink.

Kokerboom ·

Die regering kaap ons en ten spyte van hul patetiese regeer betaal ons nog hul salarisse!!!!

Stefaan ·

Nou kan kopdoek maar betaal vir die verliese wat gelei is gedurende daardie tydperk

Francois Le Cochon ·

Ten minste het dit baie verdriet en lewens gespaar. Minder vrouens en kinders is deur dronkes aangerand.

koos10 ·

Francios. Jou redenasie is soos om voertuie te blameer vir pad sterftes.

Mariana ·

Die adviesraad bestaan uit een persoon Nkosazans Dlamini-Zuma. Sy neem al die besluite. Dit is soos knoffel teen Vigs. Sy dink mos sy is slim. Toe nie, mnr die president moet sy adviesraad ontbind, hulle was in baie opsigte verkeerd met hulle “raad”. Kyk wat kos dit nou die land en dis nog afgesien van die geplunder aan die hulpfondse vir die virus. Mense is in alle opsigte benadeel.

Alleen Wolf ·

Nee, nie ontbind nie, net ‘n slag luister na goeie raad, maar helaas, dis JZ wat regeer deur kopdoekie wat die septer swaai.

koos10 ·

Wys jou net. Kan boggerol glo wat uit enige ANC lede se mond kom!

Johanncb ·

Wanneer gaan Dr NDZ ons land en sy ekonomie ophou teister en uitmergel? Besef sy wat sy besig is om te doen, en dit vir persoonlike gewin? ????

Althes ·

Dlamini Zuma. Dalk moet jul ñ regsgeding met haar hê? Om terug te dink aan 2020 was daar baie belaglikhede deur haar ingestel

Bernard ·

As jou sussie verslaaf is aan Savannah is jy negatief teenoor drank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.