Covid-19: Afrika het nou meer as 1 miljoen gevalle

Dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streeksdirekteur vir Afrika (Foto: Twitter/@MoetiTshid)

Afrika het nou meer as 1 miljoen Covid-19-gevalle aangemeld sedert die virus aan die begin van die jaar na die vasteland versprei het. Só het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in Afrika Donderdag bekendgemaak.

Suid-Afrika is steeds die episentrum van die virus in Afrika met dié land wat verantwoordelik is vir meer as 50% van die positiewe gevalle op die vasteland.

Suid-Afrika is een van die vyf lande ter wêreld wat die ergste deur die virus geraak word. Die land is tans op die kruin van die pandemie.

Altesaam 8 307 nuwe bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus is Donderdag in Suid-Afrika aangemeld, wat die algehele getal Covid-19-gevalle in die land op 538 184 te staan bring. Volgens die jongste statistieke het Egipte 95 006, Nigerië 45 244, Ghana 39 642 en Algerië 33 626 bevestigde Covid-19-gevalle tot dusver aangemeld.

Altesaam 693 620 (amper 70%) pasiënte het in dié stadium reeds in Afrika herstel, terwyl 22 114 (net meer as 2%) aan die virus gesterf het.

Volgens die jongste statistieke wat deur die WGO uitgereik is, het tien lande op die vasteland die afgelope twee weke 89% van die nuwe gevalle uitgemaak. Nuwe gevalle het ook die afgelope twee weke met meer as 20% toegeneem in 16 lande in Afrika, vergeleke met die vorige week.

Die WGO in Afrika het Donderdag in ʼn verklaring gesê dat hy meer steun aan 11 lande gaan verleen wat bykomende hulp aangevra het in die stryd teen die pandemie.

Dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streeksdirekteur vir Afrika, sê van die lande wat versuim om te toets veroorsaak dat al die gevalle nie aangemeld word soos dit moet nie. “Dit verhoed ons om die volledige prentjie en ware statistieke van die Covid-19-pandemie in Afrika te begryp,” sê sy.

Moeti sê namate die impak van die virus in sekere lande in Afrika toeneem, sal die WGO ook meer steun verleen. Volgens die WGO het sy eerste groep gesondheidskundiges reeds in Suid-Afrika aangekom. Hulle is tans in kwarantyn.

’n Tweede groep kundiges sal volgende week ontplooi word. Daar sal na verwagting meer as 40 kundiges opgeroep word om in die land se gesondheidsektor steun te verleen.

Moeti sê op versoek van die Suid-Afrikaanse regering sal kundiges van die WGO-Afrika by die nasionale reaksiespanne ingedeel word, wat nou saamwerk met plaaslike amptenare vir openbare gesondheid om enkele van die dringende uitdagings wat die land in die gesig staar, die hoof te bied.

Volgens Moeti help die WGO en ander VN-agentskappe ook om noodsaaklike mediese toerusting vir die Afrikalande wat ʼn tekort ervaar, in die hande te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan ·

Suid-Afrika het reeds op 21 Julie 2020 die kruin van infeksies bereik en uiteraard kort daarna die kruin wat sterftes betref. Die radikale oorspeling van die hele affêre deur die media en die regering word elke dag duideliker. As daar ‘n “pandemie” is, sou die 2018 griep ‘n meer as tweemaal erger pandemie moes gewees het en elke jaar se TB sterftes viermaal erger. Daar is steeds geen poging sigbaar vir die media om te streef om rasionaliteit oor te dra nie. Sensasie verkoop beter, al gaan die angs, paniek en ekonomiese ineenstorting lei na baie ellende en tientalle meer sterftes as die virus.

Elsabe ·

Ek wonder waarom Suid-Afrika helfte van die +/- miljoen gevalle op die vasteland het. Word minder toetse gedoen noord van ons of is die res van Afrika met ‘n sterker immuunstelsel geseend? Miljoene leef in armoede en sterf van honger, so hoekom, indien, is hul immuniteit beter as ons s’n?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.