Covid-19: Aktiewe gevalle daal met 31%

(Grafika: pixabay)

Die getal aktiewe Covid-19-gevalle het van 90 103 gevalle op 20 Augustus afgeneem tot 62 582 gevalle Vrydag – ʼn daling van 31% oor die afgelope paar weke.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê verskeie sleutelaanwysers dui op verbetering in die stand van die Suid-Afrikaanse pandemie. Suid-Afrika het nou die sewende meeste gevalle per land wêreldwyd, ʼn verbetering van die vorige vyfde meeste gevalle.

Die land se herstelkoers staan ook op ʼn stewige 88%.

Op 12 Julie vanjaar het die getal positiewe toetse op 30% gestaan – die hoogste gedurende die pandemie – terwyl dit in hierdie stadium nasionaal op 11% staan.

“Hoewel Suid-Afrika die sewende meeste positiewe gevalle het, is ons 13de wat betref die gesamentlike Covid-19-verwante sterftes wat opgeteken is,” het Mkhize gesê.

Teen Vrydagaand is ʼn bykomende 115 sterftes aangemeld: 15 in KwaZulu-Natal, 43 in Gauteng, 12 in die Oos-Kaap, 18 in die Vrystaat, vier in die Wes-Kaap, 11 in die Noord-Kaap en 12 in Limpopo. Dit bring die getal Covid-19-verwante sterftes op 14 678 te staan.

Tot op hede is 635 078 Covid-19-gevalle in Suid-Afrika bevestig en altesaam 557 818 mense het reeds van die virus herstel, het Mkhize gesê.

Volgens die minister het die Mediese Navorsingsraad (MNR) Dinsdag in ʼn verslag bekend gemaak dat die getal onnatuurlike sterftes in die land in die algemeen daal, hoewel dié tempo begin verstadig het.

“Aan die ander kant het dieselfde verslag aangedui dat die getal onnatuurlike sterftes wel weer toeneem ná die verslapping van alkoholbeperkings. Onnatuurlike sterftes oortref nou die MNR se voorspelde getal.”

Volgens die minister word daar ook met kommer kennis geneem van video’s op sosialemediaplatforms van mense wat groot partytjies hou en kuierplekke ná die aandklokreël besoek. Mkhize het mense ook gemaan om nie drankies of rookgoed te deel nie.

“Wanneer jy kuier en ontspan, moenie jou waaksaamheid verslap en jou lewe en die lewe van jou geliefdes in gevaar stel nie. Die bedreiging van ʼn tweede golf is ʼn werklikheid.

“Terwyl die naweek begin, pleit ons by Suid-Afrikaners om die aandklokreël te gehoorsaam en nie uitermate en onverantwoordelik te drink nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ronel ·

In Kroonstad word daar lekker by nagklubs gekuier sonder maskers of enige sosiale distansieëring. Maar moet asb net nie laat by jou eie familie kuier nie, dan het jy groot moeilikheid.

Oros Soros ·

Jy mag nou by jou familie kuier. Jy mag tot 10 besoekers ook ontvang. Die hele Covid-19 affere is ‘n klugspul

Jaco ·

Net soos Trump gesê het. Die media is besig om die hele covid19 uit verband te ruk. En hier by ons het dit n besigheid geword.

Francois Le Cochon ·

Medici in SA verwag ‘n heruitbreek onder die gegoede klas, omrede hulle die pandemie as “verby” sien, en nie meer die nodige maatreels belangrik ag nie.

Jakes ·

Ek sal enige inligting oor Covid met n graaf sout op eet want dis baie duidelik dat die inligting deurspek is met snert.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.