Covid-19: Al minder aktiewe gevalle in Gauteng

(Foto: Brian Inganga/AP)

Dit lyk of pasiënte in Gauteng nou vinniger van die nuwe koronavirus herstel as wat nuwe Covid-19-gevalle aangemeld word. Dít sowat ses weke nadat Gauteng ʼn vinnige toename in infeksies begin ervaar het, wat daartoe gelei het dat dié provinsie intussen die nuwe episentrum van Covid-19 geword het.

Die Gautengse wetgewer het in sy jongste weeklikse verslag rakende Covid-19 meer duidelikheid gegee oor die oorsaak van Covid-19-verwante sterftes in die provinsie, die beskikbaarheid van hospitaalbeddens en die aantal aktiewe gevalle in die provinsie.

Uit die verslag is dit duidelik dat die meerderheid Covid-19-sterftes in die provinsie met diabetes en hipertensie verband hou en dat amper die helfte van sterftes binne drie dae ná diagnose aangeteken is.  Die verslag wys egter ook dat die minderheid pasiënte wat in Gautengse hospitale opgeneem word, suurstof of ʼn ventilator benodig.

Luidens die verslag neem die aantal positiewe gevalle Covid-19 in Gauteng steeds daagliks met tussen 4 000 en 6 000 nuwe gevalle toe.

(Foto: Unsplash)

Tog lyk dit of pasiënte in Gauteng tussen 12 en 16 Julie vinniger herstel het as wat nuwe gevalle aangemeld is, terwyl die aantal sterftes konstant op 1% van gevalle bly staan. Die gevolg is dat die aantal aktiewe gevalle sedert 12 Julie geleidelik begin afplat het.

Luidens die verslag het 32% van Covid-19-pasiënte teen 9 Julie herstel. ʼn Week later (op 16 Julie) het dié syfer tot 43% toegeneem. Die aantal aktiewe gevalle het terselfdertyd van 67% tot 56% gedaal, wat beteken dat ʼn beduidende aantal pasiënte (24 818) in ʼn kwessie van ʼn week herstel het van die nuwe koronavirus.

Johannesburg het op die tydstip die meeste aktiewe gevalle Covid-19 in Gauteng gehad. Die gebiede Alexandra, Wynberg, Sandton en Orange Grove het veral gebuk gegaan, gevolg deur Doornkop, Soweto, Dobsonville en Protea Glen.

Dié groepering het ten spyte van die aantal aktiewe gevalle, terselfdertyd die hoogste herstelsyfer van al die gebiede in Gauteng.

Sterftes

(Foto: Insung Yoon/Unsplash)

Luidens die verslag het altesaam 338 pasiënte tussen 9 en 16 Julie weens Covid-19 in Gauteng omgekom.

Volgens die Gautengse wetgewer het 69% van dié pasiënte gesterf binne ʼn week nadat hulle met Covid-19 gediagnoseer is.

Byna die helfte van die provinsie se Covid-19-sterftes (47%) het binne net 3 dae vanaf diagnose plaasgevind.

Sowat 39% van Covid-19-pasiënte het binne twee dae en 27% binne ʼn dag of ure nadat hulle opgeneem is, gesterf.

Luidens die verslag het meer as die helfte (59%) van die provinsie se pasiënte wat teen Donderdag aan Covid-19 gesterf het, aan diabetes en/of hipertensie gely. ʼn Kwart (25%) van dié pasiënte het egter geen onderliggende siektetoestande gehad nie.

Hospitaalbeddens

(Foto: Daan Stevens/Unsplash.com)

Bitter min pasiënte het tot dusver suurstof of ventilators nodig gehad. Die verslag voorspel egter dat daar binnekort ʼn groot tekort aan hospitaalbeddens kan wees.

Luidens die Gautengse wetgewer se verslag is 5 748 Covid-19-pasiënte teen Donderdag in ʼn Gautengse hospitaal behandel, van wie 285 (4,9%) aan ʼn ventilator gekoppel is. Altesaam 431 pasiënte (7,5%) het in dié stadium suurstof ontvang. “Terwyl die aantal nuwe opnames in hospitale steeds styg, herstel die meeste van die mense in hospitale wel. Die herstelkoers is tans net meer as 60%,” word in die verslag genoem. “Tot dusver kon ons almal wat behandeling in ʼn hospitaal benodig, opneem.”

Daar word wel in die verslag voorspel dat die provinsie teen vroeg September, wanneer die piek van die nuwe koronavirus na verwagting Gauteng sal tref, tussen 7 973 en 10 281 hospitaalbeddens in die waakeenheid van sy hospitale nodig gaan hê, met 4,8% van pasiënte wat na verwagting gedurende die piek in ʼn kritieke toestand gaan verkeer.

Volgens die Gautengse wetgewer was daar teen Donderdag dus 8 520 hospitaalbeddens, hetsy in waakeenhede of gewone sale, beskikbaar vir Covid-19-pasiënte. Gautengse private hospitale het egter in die stadium slegs 749 hospitaalbeddens in hul waakeenhede beskikbaar, terwyl provinsiale hospitale maar oor 393 hospitaalbeddens in hul waakeenhede beskik.

Die provinsie beplan wel om meer beddens vir sy gewone sale aan te skaf. Luidens die verslag is nog 45 beddens in die private sektor en 159 in die openbare sektor teen Donderdag aangeskaf, terwyl 1 400 beddens teen die einde van die maand vir staatshospitale in die Dr. George Mukhari-hospitaalgroepering en Chris Hani Baragwanath-hospitaalgroepering beplan word.

Nog 1 575 hospitaalbeddens sal na verwagting teen die einde van die maand gereed wees, word in die verslag aangedui.

“Terwyl die aantal infeksies steeds vinnig toeneem, wil ons die mense van Gauteng daarvan verseker dat ons saam die storm aanpak. Ons versterk deurlopend ons reaksie met die nodige maatreëls om die infrastruktuur en mediese toerusting in al ons fasiliteite ʼn hupstoot te gee om in die toenemende vraag na behandeling te voorsien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kiewiet

Ek glo al lankal nie die Covit 19 statistieke nie.
Wat word bedoel met die NUWE Covit besmetting. Is dit nie maar dieselfde virus nie?

Jacques

Ek verstaan nie, hoe kan hulle ‘n piek voorspel vir September, maar die aktiewe gevalle daal? Dit klop nie. Ek sou sê dit piek wanneer jou aktiewe gevalle op hulle hoogste getal is.

marius

Hoeveel toetse is gedoen ?

Mathilda

Die Nuwe Covid 19???? Van wanneer af is daar ‘n nuwe een.???

Martie Smartie

Ek verneem mens moet warm water met suurlemoen drink elke dag, dit verminder kanse op ernstige simptome