Covid-19: Banke en verhuurders moet vergunnings maak

bankkaart-banke-transaksie

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Die regering het ingrypende stappe aangekondig om verbruikers en ondernemings wat weens die koronavirus finansieel in die moeilikheid is, te help met spesiale maatreëls.

Die maatreëls het betrekking op banke en huurkontrakte en is vervat in Staatskoerante wat Maandag en Dinsdag gepubliseer is. Die bepalings is dadelik van krag.

Wat banke betref word mededingingsmaatreëls vir handelsbanke versag en in ʼn mate opgehef sodat banke mekaar van hulp kan wees om die finansiële vloei in die land aan die gang te hou en veral toe te sien dat daar genoeg banknote is. Dit is spesifiek sodat die maatskaplike uitwerking van koronavirus verminder kan word.

Banke moet oopbly en spesifiek sorg dat salaris- en loonuitbetalings so goed moontlik voortgaan.

Ondernemings en individue wat – spesifiek weens die uitwerking van die koronavirus – in die skuld raak of wie se skuldposisie vererger, is geregtig op betaalvakansies waartydens hulle ʼn ruk lank nie hul skuld hoef af te betaal nie. Nuwe beperkings op beslaglegging van eiendom is ook ingestel.

Die regulasie in die Staatskoerant, wat uitgereik en onderteken is deur die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, benadruk dat slegs persone en ondernemings waarvan die finansiële moeilikheid regstreeks verband hou met Covid-19, vir die spesiale maatreëls in aanmerking kom.

Meer besonderhede oor die presiese werking hiervan sal binne die volgende twee weke verskaf word. Die regulasies is voorts onderworpe aan veranderings, wat in die Staatskoerant aangekondig sal word.

Enige voorstelle in hierdie verband kan voor 6 April by die departement van handel en nywerheid ingehandig word, by [email protected].

Die regering het ook maatreëls gepubliseer in verband met huurkontrakte en huurverpligtinge tussen eienaars van eiendom aan die een kant, en restaurante, sekere winkels en verskaffers van persoonlike dienste aan die ander kant. Die doel is om die kleinhandelsektor teen die ekonomiese impak van die koronavirus te beskerm.

Die nuwe maatreëls maak voorsiening vir skriftelike ooreenkomste tussen die eienaars van verhuurde eiendom en diegene wat dit van hulle huur, spesifiek vir die duur van die tyd van algehele afsondering.

Dit maak voorsiening vir betaalvakansies, plaas beperkings op die uitsit van huurders en veranderings in huurooreenkomste met die spesifieke doel om die wa deur die korona-drif te kry vir sukkelende ondernemings.

Benewens restaurante word winkels wat enige tekstielware verkoop (soos klere, skoene, lakens, handdoeke, komberse en tapyte) deur die maatreëls bygestaan. Ondernemings soos haarkappers, skoonheidsalonne en ander wat persoonlike dienste verskaf, sal ook hierby baat vind.

Ondernemings wat nie voor die koronavirus in die knyp was nie, maar nou as gevolg daarvan in finansiële moeilikheid beland het, kwalifiseer vir hierdie hulp. Alle nuwe ooreenkomste tussen huurders en verhuurders moet skriftelik gedoen word en daar moet skriftelik rekord gehou word van alle tersaaklike vergaderings.

Die maatreëls bly van krag vir die duur van die tyd van afsondering en kan met ʼn kennisgewing in die Staatskoerant hersien word. Voorstelle ter verandering kan gestuur word na [email protected].

Die volledige bepalings is op die webblad greengazette.co.za beskikbaar as Staatskoerant, nommers 43127 en 43134.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Daar is bedrieërs nuus in omloop waarin huurders vertel word dat hulle vir 3 maande nie huur hoef te betaal nie. Ek het ‘n kopiè daarvan en huurders het my reeds daaroor uitgevra.

Niklaas ·

Soveel instansies staan saam in die krises tye . Ek hoor ook nie teveel gekla nie. Almal aanvaar hierdie lot van ons . Dis werklik verblydend .

Hoe nou? ·

So verhuurders, afhanklik van huur inkomste om te oorleef, moet nou maar klippe kou vir die volgende maand(e)? Waarom kan banke nie oorbruggings fasiliteite toestaan aan mense en ondernemings wat nie hulle huur kan betaal nie? Dan is daar mos nie ‘n verdere domino effek nie? Ons is mos almal saam hierin, of sommiges weer meer as ander?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.