Covid-19: Bedrywighede by howe, Opod duur só voort

Hoofregter Mogoeng Mogoeng (Junie 2017) (Foto: REUTERS/Siphiwe Sibeko via African News Agency/ANA)

Suid-Afrikaanse howe sal tydens die algehele landswye afsondering weens Covid-19 tot ʼn beperkte mate oop bly, en bedrywighede by die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) duur voort. 

Howe

Suid-Afrikaanse howe sal tydens die algehele landswye afsondering weens Covid-19 tot ʼn beperkte mate oop bly, het hoofregter Mogoeng Mogoeng Woensdag gesê.

Hy het die hoofde van hooggeregshowe en laer howe opdrag gegee om doelgemaakte besluite te neem. Dit stel howe in kans om oop te bly en tot ʼn beperkte mate operasioneel te bly, soos bepaal deur die hoof van elke hof ná konsultasiegesprekke met hul kollegas, het Mogoeng in ʼn verklaring gesê.

Tydens die afsondering sal die volgende geakkommodeer word: indien van dokumente en die verhoor van dringende aansoeke; borgtogaansoeke en appèlsake op sake wat verband hou met vryheid, huishoudelike geweld, onderhoud en sake waar kinders betrek word.

Mogoeng het gesê alhoewel die konstitusionele hof en ander hooggeregshowe tans in reses is, sal hulle ook tot ʼn beperkte mate operasioneel wees om dringende sake te hanteer.

Opod

(Foto: SA Polisie)

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), die waghondorganisasie van die polisie, het Woensdag aangekondig sy bedrywighede duur voort tydens die landswye algehele afsondering weens Covid-19.

“Suid-Afrikaners kan gerus wees dat ons dienste nie opgeskort sal word tydens hierdie periode nie. Ons het ʼn beperkte getal ondersoekbeamptes in al nege provinsies op bystand wat die dienste sal lewer binne die Opod-mandaat,” het Sontaga Seisa, nasionale woordvoerder van Opod, gesê. “Ons provinsiale bestuur is ook gereed om seker te maak dat ons werk voortduur.” 

Botaniese tuine en dieretuine 

(Foto: Pretoria Nasionale Dieretuin)

Die nasionale botaniese tuine en die nasionale dieretuin sluit egter op 25 Maart 2020. 

Craig Allenby, direkteur van die nasionale dieretuin, het in ʼn verklaring gesê die besluit om ʼn dag voor die algemene landswye afsondering weens Covid-19, is geneem om personeel die geleentheid te bied om voorbereidings te tref en seker te maak daar is geen probleme wanneer bedrywighede aan noodsaaklike werkers oorhandig nie. 

“Ons het omvattende planne beraam rondom ons bedrywighede om seker te maak dat die tuine steeds tydens dié periode versorg word. ʼn Groot prioriteit was die nasionale dieretuin. Ons is nie bereid om in te boet op die welstand van ons diere nie. Ons het die nodige kennis en ervaring om dit te verseker,” het Carmel Mbizvo, waarnemende hoof- uitvoerende beampte, gesê.

“Ons wens alle Suid-Afrikaners alles van die beste toe tydens dié afsonderingsperiode en ons sien uit daarna om julle binnekort weer te sien sodra die afsondering opgehef word.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Venter ·

En dis ‘n meevaller vir die mense wat voor die Zondo kommissie ge-impliseer word, nou nie dat dit ‘n verskil sal maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.