Covid-19: Beweerde geweldsmisdadigers dalk vrygelaat

Argieffoto

Sowat 2 000 verhoorafwagtende gevangenes in Gauteng, onder wie dié wat van geweldsmisdade aangekla word, kan dalk binnekort vrygelaat word. Dít, volgens ʼn e-pos aan aanklaers en landdroste, omdat oorvol tronke ʼn gevaar inhou vir die verspreiding van Covid-19.

Dit sluit in sowat 750 gevangenes wat weens die aard en erns van hul beweerde oortredings nie vir borgtog in aanmerking gekom het nie en reeds langer as twee jaar verhoorafwagtend en in aanhouding is. Name van mense wat aangekla word van moord, verkragting en aanranding verskyn ook op dié lys.

ʼn Verdere groep van meer as 1 000 gevangenes gaan ook moontlik vrygelaat word. Hul beweerde oortredings was minder ernstig en hulle het wel borgtog ontvang, maar is steeds agter tralies omdat hulle nie in staat was om dit te betaal nie.

Maroela Media is in besit van ʼn e-pos wat gister wyd versprei is en waarin aanklaers en landdroste gevra word om ʼn opdrag van die waarnemende direkteur van openbare vervolgings, adv. Rodney J. de Kock, uit te voer. Daarvolgens is hulle aangesê om hofsake waarby hulle betrokke was te hersien, gevangenes se borgtoggeld te wysig of hulle selfs met net ʼn waarskuwing vry te laat.

Die lot van beskuldigdes wat reeds langer as twee jaar verhoorafwagtend is vir oortredings soos moord, roof en verkragting moet ook heroorweeg word in die lig van die hoë risiko vir Covid-19-infeksie in die provinsie se oorvol tronke.

Bronne in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aan Maroela Media gesê die dossiere van die betrokke sake waarvoor iemand in aanhouding is, sal deurgewerk moet word voor ʼn besluit vir vrylating van ʼn gevangene geneem kan word, veral in sake waar borgtog om watter rede ook al, aanvanklik deur die hof geweier is.

Die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, het ontken dat sy departement iets met so ʼn aansoek te doen het. Hy het aan Maroela Media gesê DKD huisves net gevangenes en dat die NVG sulke aansoeke hanteer.

Die NVG se woordvoerder vir Gauteng, Phindi Mjonondwana, het gesê die inhoud van die e-pos is selfverduidelikend en dat hulle nie verder kommentaar gaan lewer nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se kantoor in Pretoria. (Foto: Google Maps)

Die e-pos verwys ook na aansoeke wat ingevolge artikel 63A van die Strafproseswet deur die gevangenisowerhede by die howe ingedien kan word. Artikel 63A handel spesifiek oor ondraaglike toestande in tronke en verwys na die menswaardigheid en fisieke gesondheid van die betrokke gevangenes. Dis veral tans, weens die dreigende gesondheid- en veiligheidsgevaar in tronke, uiters relevant. Gevangenes kan feitlik onmiddellik vrygelaat word indien ʼn landdros tevrede is dat so ʼn aansoek geldig is.

Maroela Media het reeds berig oor opstande in die land se tronke omdat gevangenisowerhede na bewering nie gehoor gee aan die regering se noodmaatreëls en voorskrifte nie. Onluste het onder meer uitgebreek in die korrektiewe sentrums te Krugersdorp, Worcester, Baviaanspoort en Leeukop.

DKD ontken dit en sê in ʼn mediaverklaring wat Woensdag uitgereik is dat die huidige chaos en die gewelddadige optrede van gevangenes die gevolg is van strenger maatreëls wat tans toegepas word om smokkelhandel en die gebruik van onwettige selfone in tronke te bekamp. Dit het glo niks met Covid-19 te doen nie. Volgens dié verklaring voldoen die departement aan die nodige maatreëls om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.

Maroela Media is egter in besit van skokkende videomateriaal wat wys hoe bebloede beseerdes deur medegevangenes op komberse uit die selle by die Baviaanspoort-gevangenis in Tshwane gedra word terwyl die bewaarders toekyk. In die video kan gesien word dat nóg die bewaarders nóg die gevangenes ʼn sosiale afstand handhaaf en dat niemand gesigmaskers dra nie.

Mediaberigte Donderdag verwys na tot 20 ernstig beseerde gevangenes by Baviaanspoort van wie twee glo in ʼn kritieke toestand is. Die DKD ontken dat die gevangenes in Baviaanspoort ernstig beseer is. Die departement sê slegs twee gevangenes is vir geringe beserings behandel, asook dat die owerhede ingelig is.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Andre ·

So jy mag moord pleeg, verkrag ens, solank jy net nie drink nie want dan Sluit hulle jou toe.

Ou Baardbek ·

By die lees van die berig het ek begin dink dat EK dalk van my kop af is???

koos10 ·

Nou dit is gekheid!
Waarvan hierdie mense nou leef as hulle los gelaat word???
Hulle gaan heelmoontlik doen waarvoor hulle ten eerste gevang is, die SAPS sal hulle ook nie kan stop of aankeer nie, want sien hulle moet mos die vervolg wat nie by die inperkings reëls hou nie, soos rook of drink of rond loop.

Fedup ·

Empty all the prisons. Maybe that will be to the government’s liking.

Joggie ·

Nou gaan hulle maar weer gaan moor! Dan gaan hulle slagoffers darem nie van COVID-19 dood nie, hoe absurd!

Nie Verbaas ·

Name van verkragters, moordenaars ook op lys? Hulle gaan net aangaan waar hulle opgehou het. Gaan regerings amptenare net na die tyd om verskoning vra by die families as daar weer mense verkrag of vermoor is? Praat van gevangenis se regte, wat van die persone wat verkrag of vermoor is se regte?

Charmain ·

Maar Janusz Walus sal nie vrygelaat word nie ????‍♀️

Genis ·

Liewe Vader van genade, is hierdie mense gek? Dan is ons mense eers in gevaar… Sal enige iets uitdink om hulle boeties te bevry…

Alta ·

Het hulle nog nie hulle les geleer nie. Hieveel moorde is gepleeg na die vorige amnestie wat Pres Ramaphosa afgekondig het. En die hartseerste is dit is klein kindertjies wat op die wreedardigste manier verkragn en vermoor word. Word wakker julle kan dit nie doen.

Patches ·

Ek is jammer , hulle kan maar sit. Hierdie misdadigers het aan geen een van die slagoffers se regte gedink voor hulle gemoor en verkrag het nie, waarom moet hulle regte nou skielik in ag geneem word. Sal een van die grootste foute wees om hulle vry te laat.

Deon ·

Laat hulle vry, maar laai hulle in n bussie en gaan laai hulle voor die ministers se huise af. En gee vir hulle n inkopie lys met wat in elkeen se huis is….. Die persone wat hierdie idees uit dink moet n bietjie ondersoek word om te kyk of hulle koppe reg aangeskroef is…. Waarom voel ek nie regtig verbaas nie

katerinadiekat ·

Waarom is daar nie lankal nog tronke gebou nie??????

Sonneblomkind ·

Ag mooi man.. nou gaan hulle net aangaan met hulle misdaad en ons betaal daarvoor. Belaglik. Daar is mos n rede hoekom hulle in die tronk is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.