Covid-19 bied nuwe geleenthede vir skole

flip-buys-2017-11-02-featured

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die impak van Covid-19 en die gepaardgaande maatreëls het etlike positiewe gevolge vir die land en veral vir Afrikaanse skole. Só meen kenners aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Die SOS meen veral Afrikaanse skole het nou die ideale geleentheid om tegnologie tot voordeel van die leerproses aan te wend.

Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging, was een van die sprekers tydens ʼn aanlyn konferensie van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) Vrydag. Hy sê almal besef dit is die grootste krisis wat die wêreld getref het sedert die Spaanse griep. “Die maatreëls wat getref is om hierdie virus te beperk, veral in Suid-Afrika, kan selfs ʼn groter effek hê as die pandemie self. Sommige van hierdie gevolge is egter positief,” sê Buys.

Buys sê die impak van die pandemie is waarskynlik kleiner op skole en die onderwysstelsel sal statisties dalk makliker herstel as ander sektore.

“Die Afrikaanse gemeenskap is ook beter geposisioneer ten opsigte van die pandemie. Ons navorsing wys dat ʼn maksimum van 10% van Afrikaanssprekendes hul werk verloor, teenoor 50% van mense in ander gemeenskappe,” sê Buys. “Die dissipline in Afrikaanse skole sal dit waarskynlik ook makliker maak om aan te pas by die nuwe normaal van gesonde onderwysomgewings na afloop van die pandemie.”

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding aan die SOS, sê Covid-19 skep baie bekommernisse, maar ook geleenthede vir skole.

Buys sê die toekoms het versnel, ook wat tegnologie in onderwys betref en die SOS se Wolkskool kry geweldige ondersteuning en belangstelling in dié tyd. Dié aanlyn leerplatform het reeds 93 000 intekenare tydens die tydperk van algehele afsondering bygekry en bied leerders die geleentheid om gehalte onderrig in Afrikaans tuis te ontvang.

Volgens Valentyn van der Merwe, hoof van innovasie aan die SOS, sal die gebruik van platforms soos google classroom nou al hoe meer relevant raak soos al meer skole tegnologie saam met tradisionele leer gebruik om die leerervaring te bevorder.

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Johan Koekemoer, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (VAW), sê dit is goed vir die skoolgemeenskap om blootgestel te word aan die omstandighede wat deur afsondering geskep word. “Dit skep die geleentheid vir ons om ons kinders aan selfgesentreerde leer bloot te stel en vaardighede aan te leer wat nodig is vir die vierde industriële revolusie. Nou het ons die voorreg dat onderwysers en kinders deel is van ʼn nuwe leerervaring. Onderwysers moet net ʼn kopskuif maak oor hoe ons leer.”

Die SOS is tans besig met die opstel van ʼn vyf-punt-plan wat moet help om skole so vinnig moontlik weer op dreef te kry. Dit sluit in die daarstel van ʼn digitale strategie, die hersiening van skole se begrotings vir 2020, die hersiening van die kurrikulum en ʼn strategie vir eksamens.

“Die SOS is van mening dat skole so vinnig moontlik moet hervat.  Ons stem beslis nie saam met die departement van basiese onderwys se voorstel dat laerskoolleerders eers later in die jaar terugkeer skool toe nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat die departement die afgelope week aan die kabinet voorgestel het dat matrikulante en gr. 7-leerders op 6 Mei skool toe gaan en dat die ander grade dan geleidelik infaseer word. Volgens dié voorstel sal gr. R-, gr. 1- en gr. 2 -leerders eers in Julie teruggaan skool toe.

Buys sê nóg goeie nuus is dat die pandemie nou ʼn kruin in baie lande bereik en dus nie onbepaald voortgaan nie. “Talle skole wêreldwyd is ook steeds oop of word nou weer oopgemaak.”

Hy sê wetenskaplikes werk ook onverpoos aan oplossings vir die pandemie en die huidige krisis kan oplossings bied om toekomstige pandemies en krisisse te voorkom.

“Nog ʼn voordeel is dat Eskom ook ʼn blaaskans kry om belangrike instandhoudingswerk te doen.  Die pandemie lei ook tot bykomende druk op die regering om die regte beleidsbesluite te maak, soos in die geval van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Die regering word gedwing om geld vir meer dringende prioriteite aan te wend, eerder as om nog geld aan die lugdiens beskikbaar te stel.” Hy meen die belangrike bydraes van boere tot voedselsekerheid tydens die afsondering kan ook die debat oor grondhervorming in boere se guns swaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Katjie ·

Ek stem saam. Dit bied die kinders die geleentheid om die blootstelling te kry aan “afstandsonderrig”. Afstandsonderrig is een van die mediums wat kinders na skool kan gebruik om verder te studeer. Dit is goedkoper, maar dit benodig disipline. Beide die gaan die kinders nou aan blootgestel word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.