Covid-19: Botswana verklaar noodtoestand

‘n Klant ontsmet sy hande in ‘n winkel in Francistown, Botswana. (Foto: AP)

Mokgweetsi Masisi, president van Botswana, het Dinsdag ’n noodtoestand in dié land verklaar nadat Botswana Maandag sy eerste drie bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld het. ’n Algehele landwye afsondering van 21 dae is vanaf Donderdag om middernag in dié land van krag.

Masisi het gesê hy is bewus daarvan dat 21 dae moontlik nie genoeg tyd is om die verspreiding van die nuwe koronavirus in Botswana hok te slaan nie. Die land se parlement sal binnekort vergader om te bespreek of die afsonderingstydperk verleng moet word.

Landsburgers sal voorlopig vir die volgende drie weke slegs hul huise mag verlaat om noodsaaklikhede aan te koop. Slegs noodsaaklike werkers sal kan voortgaan met bedrywighede.

Bantu Holomisa ontvang toetsuitslae

Bantu Holomisa, die leier van die UDM, het negatief vir Covid-19 getoets.

Maroela Media het vroeër berig Holomisa is Saterdag vir Covid-19 getoets in die lig van eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, se toetsuitslae. Meshoe het positief vir Covid-19 getoets nadat hy vroeër vandeesmaand ʼn kerkbyeenkoms in Bloemfontein bygewoon het.

Holomisa het sedertdien kontak met Meshoe gehad.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Geen besoekers by staatshospitale

Die departement van gesondheid in Gauteng het opnuut ’n beroep op inwoners van dié provinsie gedoen om nie pasiënte by Gautengse staatshospitale gedurende die algehele afsondering te besoek nie. Dít nadat verskeie pasiënte steeds besoekers gedurende die tydperk van afsondering ontvang het.

Kwara Kekana, woordvoerder van die departement, het gesê alle pasiënte wat hulle by die hospitale aanmeld, sal vir tekens van Covid-19 nagegaan word. Diegene met respiratoriese probleme sal ook ’n masker moet dra as voorsorgmaatreël.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.