Covid-19 bring finansiële onsekerheid vir Netcare

Netcare se St Augustine-hospitaal in Glenwood, Durban. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Netcare het Maandag ʼn daling van 6,3% in sy inkomste per aandeel vir die halfjaar tot Maart getoon. Dié private hospitaalgroep verdien tans 79c per aandeel. Netcare het Maandag in ʼn verklaring gesê weens die Covid-19 is daar ontsettende onsekerheid oor die res van die boekjaar.

Netcare het gesê die handel in aandele gedurende die eerste vyf maande van die 2020-boekjaar was in ooreenstemming met markverwante vooruitskattings. Dit het egter alles verander toe die eerste geval van die nuwe koronavirus in Maart in Suid-Afrika aangemeld is.

“Nadat die eerste Covid-19-geval aangemeld is, is Netcare finansieel egter aansienlik beïnvloed deur omvattende voorbereiding van sy hospitale en die gevolglike vermindering van pasiëntgetalle. Dit het veroorsaak dat ons sedert middel Maart minder pasiënte opgeneem het,” lui Netcare se verklaring.

“Netcare het tot op hede ongeveer R150 miljoen aan die verbetering van sy waakeenhede bestee deur die aankoop van ventilators, gespesialiseerde lugfilters en ultraviolet ontsmettingsrobotte,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring het Netcare egter eers die werklike finansiële trefkrag van die nuwe koronavirus in April beleef, toe die algehele landwye afsondering in Suid-Afrika ingestel is in ʼn poging om die nuwe koronavirus hok te slaan. Niedringende chirurgie en die behandeling van traumagevalle moes in dié tyd uitgestel word, wat daartoe gelei het dat die gemiddelde besetting in Netcare se hospitale met tot 32,5% gedaal het.

Maroela Media het vroeër berig drie van Netcare se hospitale moes ook tydelik sluit nadat personeel by dié hospitale met Covid-19 besmet is. Die Netcare St Augustine-hospitaal, Netcare Kingsway-hospitaal en Netcare se Ceres-hospitaal is sedertdien weer oopgestel.

Luidens dié verklaring is Netcare steeds in ʼn bestendige finansiële posisie, ten spyte van etlike uitdagings die afgelope paar maande en kon hulle dit regkry om miljoene rande te spaar deur die uitstel van nienoodsaaklike kapitale projekte.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delon ·

enigiemand wat nou aandele koop in enigiets kan net sowel die geld brand
geen mens kan nou met sekerheid voorspel watter maatskappye hierdie depresie gaan oorleef nie , die ineenstorting gaan nou eers begin

Riaan ·

Maar nou hoe nou?? Dis dan n hospitaal en volgens DZ en CR is ons op die brink van uitsterwe met n bleek uitkyk op ons toekoms. Geen partytjie of genot nie. Net sit en wag vir die einde. Iets hier is nie soos die ander nie.

Betzie ·

In Bloemfontein is ek meegedeel dat my tandarts by Medicross slegs ‘n tand mag trek of antibiotika voorskryf gedurende die grendeltydtyd. Gesag van bo het dit glo so bepaal. Dit was in Meimaand.

Delon ·

tyd dat jy van tandarts verander , as jou tandarts die regering bo jou gesondheid plaas dan verdien hy nie jou besigheid nie

Johanncb ·

Wil Netcare graag hê meer mense moet siek word? Dit is dan presies wat vermy word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.