Covid-19: Buchan het virus glo voor Mighty Men gehad

Angus Buchan by die Mighty Men-konferensie (Foto: Mighty Men Eastern Cape/Facebook)

Talle mense het hul kommer op sosiale media uitgespreek oor die moontlikheid dat die prediker Angus Buchan glo die nuwe koronavirus (Covid-19) onder lede gehad het tydens die Mighty Men-konferensie in die Oos-Kaap.

Dié konferensie het die naweek van 13 tot 15 Maart op die plaas Mooi Uitsig by Jeffreysbaai plaasgevind.

Die Mighty Men-saamtrek het twee dae ná die Jerusalem Prayer Breakfast-geleentheid (JPB) by die Divine Restoration Ministeries-kerk in Bloemfontein afgeskop. Verskeie mense, insluitend Buchan, het na dié geleentheid positief vir Covid-19 getoets. Vyf oorsese gaste het reeds tydens die geleentheid die virus onder lede gehad.

Buchan het verlede week Donderdag aangekondig dat hy en sy vrou, Jill, positief vir die virus getoets het.

Volgens Piérre Maré, woordvoerder van die Mighty Men-bestuurskomitee, het die bestuurskomitee van die Mighty Men dadelik die nodige stappe gedoen toe Buchan se toetsuitslae positief teruggekom het.

Duisende het vanjaar die Mighty Men-konferensie bygewoon. (Foto: Mighty Men Eastern Cape/Facebook)

“Ons het dadelik die duisende wat die Mighty Men-konferensie bygewoon het, oor Buchan se toetsuitslae op ons Facebook- en webblad in kennis gestel,” sê Maré.

Volgens Maré het Buchan geen simptome by die konferensie getoon nie.

“Diegene van ons wat direk in kontak met Buchan was, is dadelik in isolasie geplaas. Die Oos-Kaapse departement van gesondheid is ook in kennis gestel om te verseker dat die regte prosedures gevolg word,” sê Maré.

Die evangelis Freek Vermaak van George, wat ook saam met Buchan ’n spreker by die Mighty Men-saamtrek was, sê ná 14 dae het hy of sy gesin nog geen simptome getoon nie.

“My 15-jarige tweelingseuns was die hele naweek in noue kontak met Buchan. Hulle het die kamerawerk gehartig en die hele konferensie afgeneem. Op die verhoog het Buchan een van my seuns ’n drukkie gegee,” vertel Vermaak.

Vermaak sê die Mighty Men-naweek was hartroerend.

Vermaak glo die konferensie het mense se harte voorberei vir die afsonderingstyd waarin die land tans verkeer. “Die virus het aanvanklik so ver gevoel. Jy besef eers dit is ’n werklikheid as dit soos nou aan jou eie deur kom klop,” sê Vermaak.

Raad afkomstig van die departement van gesondheid is op die Mighty Men se Facebook-blad gedeel sodat diegene wat vermoed dat hul Covid-19 tydens die konferensie opgedoen het, die nodige stappe kan doen en voorsorg tref. “Ons hoop diegene wat glo hulle kon in kontak met Buchan gewees het laat hulle toets.”

Maré sê Buchan en sy vrou is gesond en in isolasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

Die berig weerspreuk homself, die opskrif lees:
Buchan het virus glo voor Mighty Men gehad

Die berig lees:
Talle mense het hul kommer op sosiale media uitgespreek oor die moontlikheid dat die prediker Angus Buchan dalk reeds die nuwe koronavirus (Covid-19) onder lede gehad het tydens die Mighty Men-konferensie in die Oos-Kaap.

Daar is duidelik ‘n verskil tussen, glo voor en dalk reeds…

Megan Swart ·

Dagsê Wielspore
Dankie vir jou kommentaar. Die artikel is gewysig om dit duideliker te maak vir lesers.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Ilse ·

Hoe regverdig hy en ander godsdienstige leiers sulke onverantwoordelike optrede?

Gawie ·

Ilse, daardie byeenkomste was lank voor die pandemie se erns in Suid-Afrika bekend geword het. As jy kyk sal jy sien dat met die eerste berigte van besmetting in SA het hy al sy ander byeenkomste summier afgestel – dit is wat ek verantwoordelikheid noem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.