Covid-19-bywerking: Eerste pasiënt ‘virusvry’

Argieffoto ter illustrasie

Die 38-jarige man van Hilton in KwaZulu-Natal wat vroeër vandeesmaand die eerste pasiënt in Suid-Afrika was om positief te toets vir die nuwe koronavirus wat die siekte Covid-19 veroorsaak, het volkome herstel. Dié man is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Nomagugu Simelane-Zulu, KwaZulu-Natalse LUR van gesondheid, het Maandag gedurende ’n mediakonferensie gesê altesaam vier van die 402 gevalle wat tot op hede in die land aangemeld is, het reeds van die virus herstel. Dié pasiënte is van KwaZulu-Natal en vermoedelik deel van die toergroep wat na Italië gereis het voordat hulle die virus opgedoen het.

Al vier, onder wie die inwoner van Hilton se vrou, is oor die naweek uit die hospitaal ontslaan.

Simelane-Zulu verduidelik dat ’n pasiënt virusvry verklaar word wanneer die pasiënt nié meer simptome toon nie. ’n Pasiënt moet ook twee keer negatief vir die virus getoets word. Al vier pasiënte is virusvry verklaar.

“Daar is hoop. Mense herstel van hierdie virus en kan teruggaan huis toe,” het die LUR gesê.

Rolprentvervaardiger toets positief

Die Amerikaanse rolprentvervaardiger Harvey Weinstein het intussen positief vir Covid-19 getoets. Weinstein dien tans tronkstraf in ’n maksimumsekuriteit-gevangenis in die Amerikaanse deelstaat New York uit, nadat hy skuldig bevind is op aanklag van verkragting en seksuele aanranding.

Harvey Weinstein (Februarie 2020) (Foto: John Minchillo, AP)

Weinstein is nou in isolasie in die Wende Correctional Facility in Alden geplaas. BBC berig twee gevangenes het Sondag in die gevangenis positief vir Covid-19 getoets.

Talle personeellede by die gevangenis is nou in kwarantyn geplaas.

Weinstein se regspan het gesê hulle is nou bekommerd oor sy gesondheid aangesien die eens bekroonde rolprentvervaardiger onlangs vir ʼn hartkwaal behandel is nadat hy van pyn op sy bors gekla het.

Ford staak produksie

Die motorreus Ford het aangekondig dat hy oor die naweek produksie in Suid-Afrika, Indië, Thailand en Viëtnam gestaak het, te midde van die koronavirus. Dit sluit in die produksie van motors en enjins.

Luidens ’n verklaring sal produksie vir minstens ’n paar weke gestaak word na gelang van nasionale beperkings, beperkings op verskaffers en handelaarsvoorraad.

“Die gesondheid en veiligheid van ons werknemers, handelaars, kliënte, vennote en gemeenskappe bly ons hoogste prioriteit,” het Mark Ovenden, president van Ford’s International Markets Group, gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.