Covid-19: DA se aksieplan om entstof te bekom

(Argieffoto: Unsplash)

Die Demokratiese Alliansie sê hy is verheug oor die nuus dat die Wes-Kaapse regering proaktief werk om ʼn Covid-19-entstof in die provinsie te bekom.

“Ons doen ʼn beroep op die nasionale regering om ons leiding te volg en dieselfde te doen,” het John Steenhuisen, leier van die DA, Sondag in ʼn verklaring gesê.

“Meer as ooit tevore het die tyd aangebreek vir die Suid-Afrikaanse regering om die mense eerste te plaas en dringend ʼn bilaterale ooreenkoms te verseker om die entstof na ons land te bring. Dit is nie goed genoeg om vir die tweede kwartaal van die jaar te wag nie, en selfs dan sal die aanvanklike entstof slegs vir 10% van die bevolking beskikbaar wees.”

Steenhuisen sê ander lande was in staat om dit te doen. “Hoekom kan ons nie ook nie? Colombia, ʼn land wat sosio-ekonomies byna identies is aan Suid-Afrika, kon dadelik ʼn Covid-19-entstof bekom en het reeds 9 miljoen dosisse verseker.”

Ondanks die feit dat Colombia deel is van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Covax-program, het die land die vertragings en tekortkominge van die inisiatief raakgesien en eerder ʼn bilaterale benadering gevolg om entstof vir sy burgers te verseker, het hy bygevoeg.

“Hoe langer hierdie ANC-regering toegang tot ʼn Covid-19-entstof vertraag, hoe meer lewens sal die land aan die virus afstaan.”

Hy meen die Suid-Afrikaanse regering is alleen verantwoordelik vir die lewensgevaarlike vertraging in toegang tot ʼn Covid-19-entstof. Shabir Madhi, professor in entstof-ontwikkeling aan die Universiteit van die Witwatersrand, het onlangs gesê: “Ons betrokkenheid by die kliniese ontwikkeling van entstof moes ons in ʼn voordelige posisie geplaas het vir vroeë toegang. Klaarblyklik het ons nie van dié geleentheid gebruik gemaak nie. Ons is in ʼn moeilike posisie wat toegang tot entstof deur die loop van 2021 betref.”

Steenhuisen sê Suid-Afrika moet, net soos talle ander opkomende ekonomieë, van dié roete gebruik maak. “Ons het ʼn sespunt-aksieplan saamgestel om seker te maak dat ons toegang tot ʼn Covid-19-entstof vir alle Suid-Afrikaners kan bespoedig om die land se mense weer op hul voete te kry.”

Die DA stel die volgende voor:

  1. Dat die regering dringend met bilaterale onderhandelings begin, net soos talle ander lande gedoen het, met goedgekeurde entstof-verskaffers om toegang tot ʼn entstof vir Suid-Afrikaners te bespoedig. Al is dit net, in hierdie stadium, om entstof te bekom vir gesondheidwerkers, onderwysers en paramedici, asook die mees kwesbare lede van die samelewing, insluitend ouer persone. Die stappe in dié verband moet met die nasionale vergadering gedeel word om voldoende toesig en aanspreeklikheid te verseker.
  2. Dat die Suid-Afrikaanse Beheerraad vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) sy vereiste entstof-goedkeuring so doeltreffend as moontlik kan afhandel.
  3. Dat die regering, in detail, bepaal hoeveel dosisse van die entstof nodig is om die hele bevolking in te ent en noodsaaklike finansiële voorsiening te maak om dit aan te skaf. Volgens ons beraming, teen $10,22 per entstof, sal dit sowat R9,5 miljard beloop om 50% van die bevolking in te ent. Die nasionale tesourie moet dus dringend sowat R20 miljard beskikbaar maak om te verseker dat die hele land ingeënt kan word teen Covid-19.
  4. Die regering moet ʼn definitiewe tydlyn verskaf wat betref deelname aan Covax, die datum wanneer die entstof beskikbaar sal wees, hoeveel dosisse beskikbaar sal wees en hoe dit toegeken sal word.
  5. Dat die regering hierdie week nog ʼn strategie moet ontwikkel om so vinnig as moontlik die entstof toe te dien aan burgers wat dit benodig en om fasiliteite te identifiseer wat gebruik sal word om die entstof te stoor en toe te dien.
  6. Om te verseker dat inspuitings, naalde, deppers, yskaste en ander toepaslike benodighede aangeskaf word om die entstof toe te dien. Dit moet deursigtig aangepak word en met aanspreeklikheid om korrupsie te voorkom wat tydens die eerste ronde van PPE-aanskaffing opgemerk is.

Steenhuisen sê die regering moet ook begin identifiseer watter bedrywe die ergste deur die afsonderingsperiode geraak is om geteikende verligtingsprogramme te vestig sodat strategiese en belangrike bedrywe van ons ekonomie beskerm kan word en poste bewaar kan word. “ʼn Algemene verbod, sluiting en beperkings kan nie toegepas word tensy alle betrokke belanghebbendes geraadpleeg is en die nodige verligting in dié stadium verskaf word nie.”

Volgens hom is ʼn entstof tans die enigste oplossing en die enigste alternatief vir die afsondering, wat nie meer ʼn lewensvatbare of volhoubare oplossing is om die verspreiding van die virus in ons land te voorkom nie. “Dit is die enigste opsie sodat ons na ʼn tipe normaal kan terugkeer. Die nuwe jaar moet nuwe voornemens bring om Covid-19 te bekamp. Ons moet die lewens van burgers beskerm en ons ekonomie ʼn kans gee om die lang pad na ʼn tipe herstel te begin volg.”

Hy sê die Suid-Afrikaanse ekonomie het ná byna ʼn jaar van verlammende beperkings in een van die ergste en langste afsonderingsperiodes in die wêreld verwoestende verliese gely. “Daar was die afgelope jaar ook ʼn uitsonderlike toename in werkloosheid waar die afsondering talle bedrywe van die land gesluit het. Die enigste doel wat afsondering dien is om tyd te verskaf om voldoende gesondheidsorgkapasiteit te skep sodra die afsonderingsperiode opgehef word. Dit is duidelik dat die gesondheidsorgkapasiteit nie opgebou is nie. Dit beteken die afsondering was die enigste instrument wat die regering in sy arsenaal het om Covid-19 te bekamp. Dit is nie meer volhoubaar terwyl ons ʼn nuwe jaar begin nie.”

Hy sê die tyd het aangebreek om die hulpbronne van die land aan te wend om Covid-19 volhoubaar en beslissend te bekamp. “Dit gaan beteken moeilike keuses moet gemaak word en daar moet ʼn sterk besluit wees om die oorlog teen virus te wen, soveel as moontlik burgers te red en die ekonomie aan die gang te hou.”

Steenhuisen sê die tyd het aangebreek dat die parlement ook ʼn ad hoc-komitee van die nasionale vergadering aanstel om spesifiek die entstof-program in Suid-Afrika te hanteer. “Dit sal verseker dat die verkose verteenwoordigers gereelde verslae ontvang van die proses, die vordering kan monitor en toesig kan hou om seker te maak daar word nie ʼn groter gemors daarvan gemaak nie. Die nuwe jaar moet ʼn nuwe voorneme bring om Covid-19 te bekamp. Ons kan nie in ʼn onbepaalde afsondering bly nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.