Covid-19: ‘Daar ís hospitaalbeddens beskikbaar’

(Foto: Adhy Savala/Unsplash)

Die steeds stygende Covid-19-gevalle en ‑sterftes het talle Suid-Afrikaners diep bekommerd oor of hulle, indien nodig, ʼn hospitaalbed gaan kry as hulle behandeling vir die virussiekte of enige ander siektetoestand nodig het. Private hospitaalgroepe het aan Maroela Media gesê dat, hoewel lede van mediese fondse nie voorkeur geniet nie, hul hospitale steeds genoeg plek het vir Covid-19‑pasiënte. Dokters kyk wel na ʼn persoon se ouderdom, kans op oorlewing en soms selfs beroep wanneer besluit word of ʼn pasiënte in die hoësorgeenheid opgeneem word of nie.

Suid-Afrika se getal bevestigde Covid-19-gevalle het teen Woensdagaand op 311 049 gestaan en 4 453 sterftes is reeds aangemeld.

Die koers waarteen infeksies in veral Gauteng bly styg, wek in hierdie stadium groot kommer. Volgens die Gautengse gesondheidsdepartement is daar teen Dinsdagaand altesaam 5 576 mense in private en staatshospitale in Gauteng vir Covid-19 behandel.

Die Gautengse provinsiale gesondheidsdepartement het onlangs aangekondig dat hy ʼn ooreenkoms met private mediese diensverskaffers aangegaan het om die las op staatshospitale te help verlig.

‘Kommer verstaanbaar’

(Foto: Insung Yoon/Unsplash)

Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare-hospitale, sê die publiek se kommer oor kapasiteit is verstaanbaar, gegewe die onlangse styging in Covid-19-gevalle, veral in Gauteng.

“Hoewel ons ʼn beduidende toename in die vraag na behandeling van Covid-19-pasiënte ondervind, kan ons bevestig dat ons hospitale in Gauteng steeds die vermoë het om Covid-19‑ en ander pasiënte te behandel.”

Du Plessis sê Netcare het die afgelope paar maande sy aantal kritiekesorgbeddens en ventilasie-toerusting verhoog en het in hierdie stadium meer as 1 600 beddens vir akutesorgpasiënte. Meer as ʼn duisend hiervan is in Gauteng. Die meeste Covid-19-pasiënte kan egter in gewone sale behandel word.

Hy sê die getal infeksies in Gauteng gaan na verwagting aanhou styg en sou een van Netcare se hospitale nie kapasiteit in ʼn gepaste eenheid het nie, pasiënte na van sy ander hospitale oorgeplaas sal word.

Netcare het ʼn ooreenkoms met die regering aangegaan om staatspasiënte met Covid-19 te behandel. “In die lig van die ongekende omstandighede en om volhoubaarheid te verseker, het Netcare hom verbind om Covid-19-staatspasiënte op ʼn kosteverhalingsgrondslag te behandel.”

Volgens Du Plessis het Netcare tot dusver weinig verwysings van staatshospitale vir die behandeling van Covid-19-pasiënte gehad. “Netcare het egter nog geen Covid-19-pasiënt weggewys wat nood mediesebehandeling nodig het nie.”

Dr. Charl van Loggerenberg, algemene bestuurder van noodmedisyne by Life Healthcare, sê ook dié groep het tot dusver die minimum versoeke van die staat gekry om namens hom pasiënte te behandel.

Die hospitaalgroep het op provinsiale vlak ooreenkomste met die Wes-Kaapse en Gautengse regerings aangegaan om staatspasiënte te behandel, maar dit het nog geensins ʼn uitwerking op die kapasiteit van sy hospitale gehad om ander Covid-19-pasiënte te behandel nie, het Van Loggerenberg gesê.

Ingevolge die ooreenkoms is die bedrag vasgestel wat die staat betaal om staatspasiënte in private hospitale te behandel. Die bedrag sluit die hospitaal se koste, medisyne, spesialiste, radiologie, patologie en die dienste van gesondheidswerkers in.

Mediese fonds verseker nie opname

ʼn Hospitaalpersoneellid ontsmet haar hande by die Tygerberg-hospitaal. (Argieffoto: Nardus Engelbrecht/AP)

Op die vraag oor of pasiënte met mediese fondse voorkeurbehandeling in ʼn private hospitaal gaan kry, het Du Plessis gesê om “suksesvol op die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika te reageer, is dit uiters belangrik dat staat- en private gesondheidsdiensverskaffers saamwerk en gesamentlik fokus op die verskaffing van behandeling aan diegene wat dit benodig”.

“Die besluit om pasiënte op te neem wat ernstig siek is weens Covid-19-verwante toestande word gegrond op die kapasiteit in intensiewesorg- en hoësorgeenhede en neem in ag die beskikbaarheid van spesialiste, intensiewesorg-verpleegpersoneel, ventilators en hoëdruksuurstof,” het Van Loggerenberg gesê. “Ons kan tydens ʼn wêreldwye pandemie nie beddens eenkant hou vir pasiënte met ʼn mediese fonds nie – of dit nou in intensiewesorg‑ of akutesorgeenhede is.”

Hy sê die hospitaalgroep kan ook steeds ander pasiënte behandel.

Dr. Stefan Smuts, hoof- kliniese beampte van Mediclinic, sê die groep het ʼn ooreenkoms met die Wes-Kaap aangegaan om pasiënte te help behandel en is gereed om soortgelyke ooreenkomste met ander provinsies aan te gaan.

Smuts sê pasiëntbehandeling word gegrond op die kliniese omstandighede en die beskikbare kapasiteit en nié op die manier waarvoor daar vir behandeling betaal word nie.

Mediclinic sal pasiënte opneem as die provinsiale gesondheidsdepartement só ʼn versoek rig  en indien hy genoeg beddens en mediese personeel beskikbaar het om bykomende Covid-19-pasiënte te behandel.

Smuts sê Mediclinic-hospitale ondervind steeds ʼn toename in Covid-19-verwante opnames en die getalle in Gauteng bly styg. “Hoewel hospitale steeds beddens beskikbaar het, is beddens in intensiewesorg‑ en hoësorgeenhede in aanvraag. Hospitaalbedbesetting wissel weens die dinamiese beweging van pasiënte in en uit fasiliteite.”

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) sê ook prioriteit word dan gegee aan pasiënte wat die beste kans op oorlewing het, ongeag of hulle geld of ʼn (mediese) fonds het.

Coetzee sê indien ʼn hospitaal oorvol is, word pasiënte weggewys, maar behandeling oor nood- en intensiewesorgbehandeling berus uiteindelik by die behandelende dokter.

Sy sê ook die besluitneming oor behandeling verskil tydens ʼn pandemie van normale omstandighede, omdat daar in só ʼn geval moontlik ʼn tekort aan broodnodige suurstof, beddens en ventilators kan wees.

Hoe besluit dokters op behandeling?

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Intensiewesorgvereniging het vroeër vanjaar al riglyne bekend gemaak waarvolgens besluit word oor behandeling tydens die Covid-19-pandemie. Die doel van die riglyne is om die maksimumvoordeel vir die bevolking te verseker en die “beste vir die grootste getal” mense te doen.

“Dié doelwit is anders as die tradisionele fokus van mediese etiek, wat wentel om die welstand van individuele pasiënte. ʼn Noodsorgprioriteringstelsel sal gebruik word vir alle pasiënte met kritieke siektetoestande wat aan die gewone aanwysers vir intensiewesorgbeddens voldoen en nie net diegene met die siekte of sindroom wat die openbare gesondheidskrisis veroorsaak het nie,” lui die riglyne.

Coetzee verduidelik dat dit beteken dat ʼn persoon wat erg beseer met ʼn steekwond opgeneem word, moontlik voor ʼn Covid-19-pasiënt wat minder siek is, behandel sal word.

Volgens die riglyne sal pasiënte ook nie kwalifiseer vir ʼn bed in ʼn akutesorgeenheid as verdere behandeling as hopeloos beskou word nie. Dit sluit in diegene wat reeds breindood is, chroniese, terminale of onomkeerbare siektes het waar die dood binnekort gaan intree, onomkeerbare breinskade, of akute onomkeerbare orgaanverswakking het.

Die ouderdom van pasiënte word ook in sommige gevalle in ag geneem. “Jonger individue geniet voorrang omdat hulle nog die minste kans gehad het om deur die lewe se fases te gaan.”

Diegene wat werk doen wat belangrik is vir die openbare gesondheidsreaksie of diegene wat ʼn belangrike rol speel in die behandeling van pasiënte en die handhawing van die maatskaplike orde, se behandeling kan ook geprioritiseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

NEO ·

Dus die aanloop tot die nasionale gesondheid versekering. As jy lid van ‘n mediese fonds is baat dit jou niks. Jy betaal ten duurste vir die beste versorging vir jou familie net om te hoor dat almal met of sonder ‘n mediese fond gelyke behandeling kry.

katerinadiekat ·

So waarvoor betaal my man derduisende per maand aan n mediese fonds?????

Anel ·

Dit is siek!!! As ek nou ‘n mamma is met jong kinders en werk nie in die spesiale dienste soos wat hulle noem nie, staan ek nie kans nie, want, soos ek verstaan beteken my werk nie veel vir hulle nie. Of ek het ouers wat by my inwoon ek ek is hulle enigste inkomste, maar ek doen die die spesifieke werk wat die regering wil hê nie, al betaal albei van ons ons ore van ons kop af vir oirdentlike medies, beteken my lewe minder as die persoon met Vigs, TB ens. Eie dink die mense is hulle? God? Ek het dan gedink almal is gelyk, maar lyk my net wanneer dit hulle pas. En kyk maar wie gaan die mense wees wat weggewys gaan word! Net soos daar op alle doodsertifikate aangedui MOET word dat rede vir afsterwe corona is. En hulle wil privaat medies wegvat? Hierdie land is siek!!!

Kobus ·

Jy hoef nie bekommerd te wees nie Anel, jy verkondig al van Februarie dat die virus n bohaai oor niks is nie, en as jy dit kry, “sweet” jy dit net uit deur twee dae in die bed te bly.

katerinadiekat ·

That is hardly the point, Kobus. Die punt is dat Anel peperduur betaal vir n mediese fonds so sy behoort toegelaat te word vir behandeling as sy dit nodig het. Hoeveel van diegene want Nie mediese fondse het nie, kan se dat hul enigsins n werk het, of n meer belangrike werk as Anel. Maar Hulle sal toegelaat word vir behandeling. Hoe de joos is dit regverdig??? Mens betaal juis duur aan mediese fondse en meeste van ons maak groot opofferings om dit te kan bekostig VIR WANNEER ONS ERNSTIG SIEK OF BESEER word.

Of Anel nou die virus in 2 nagte uitsweet tuis of n ventilator in n hospitaal nodig kry – DIE PUNT IS SY BETAAL VIR n PLEK IN DIE HOSPITAAL AS SY DIT NODIG KRY. DUISENDE RANDE ELKE MAAND. Die hoofletters is nie n geskree nie, ek wil net he jy moet dit mooi kan sien sodat jy dalk kan begin verstaan hoe mediese fondse Veronderstel is om te werk.

Kobus ·

My kommentaar was n bietjie tong in die kies- as jy Anel se kommentare lees is enigiets oor covid altys soos sy dit stel, n ” berg oor n molshoop”. Miskien sal sy dit op n stadium ernstig begin opneem.

Dirk Mostert ·

Sy of ek mag om ‘n ander mediese rede as Covid19 in die hospitaal beland. Ek dink ook Covid19 is ‘n globale scam.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek is op mediese pensioen. So sal maar sorg my testament en sake is in orde.

marius ·

Jammer maar ons dink nie jy gaan dit maak nie , so gaan sterf maar by jou huis . Betaal net die R2000 vir die diagnose by ontvangs en onthou dit kan nie by jou mediese fonds verhaal word nie . Totsiens en hoop jy het ‘n heerlike dag verder . Hierdie berig bevestig dat sommige medici so koud en genadeloos soos ‘n moord dolk is !

Kobus ·

Ek dink jy behoort eerder die sisteem en die tekorte te blameer, as die besluite wat dokters soms gedwing word om te maak agv die tekorte. My vrou is n dr. en ek verseker jou om te kies wie n bed kry en wie n ventalator kry en wie dalk dood gaan agv so n besluit is die mees onregverdigste en moeilikste besluit wat jy op dokters kan plaas.Geen mens behoort voor so n keuse geplaas te word nie.

Dirk Mostert ·

Ek wat ten duurste mediese versekering betaal (slegs hospitalisasie) moet dus terugstaan vir mense wat nie voorsiening maak nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.