Covid-19: Dán mag jy terugkeer werk toe

(Foto: Brian Inganga/AP)

Die departement van indiensneming en arbeid het gesê persone, wat positief getoets het weens Covid-19, kan slegs ná ʼn tydperk van self-isolasie en onder streng voorwaardes terugkeer werk toe.

Tibor Szana, hoof-inspekteur vir beroepsgesondheid en veiligheid by die departement, het gesê mediaberigte het verkeerdelik aangedui dat Covid-19-pasiënte nie eers negatief hoef te toets voor hulle terugkeer werk toe nie.

“Indien ʼn werker met Covid-19 gediagnoseer is en kragtens die riglyne van die departement van gesondheid geïsoleer het, mag ʼn werkgewer die persoon slegs toelaat om terug te keer werk toe ná die persoon die verpligte 14 dae van self-isolasie afgehandel het,” het Szana gesê.

Ander voorwaardes sluit in dat die werknemer medies ondersoek moet word om te bevestig dat die persoon geskik is om terug te keer werk toe indien die persoon matige of erge simptome beleef het.

Szana het gesê dit is noodsaaklik dat die werkgewer seker maak dat daar streng voldoen word aan persoonlike higiëne, die dra van gesigmaskers, sosiale distansiëring, en hoes-etiket en dat die werknemer streng gemonitor moet word vir enige simptome indien die persoon terugkeer werk toe.

Daar sal ook van ʼn personeellid vereis word om vir minstens 21 dae lank ʼn chirurgiese masker te dra sedert die persoon gediagnoseer is – in hul eie belang en in die belang van diegene rondom hulle.

“Die nuwe riglyne bepaal ook dat die omvang van blootstelling ook bepaal word van persone wat in kontak was met ʼn werker wat met Covid-19 gediagnoseer is, om te bepaal of daar ʼn hoë risiko of lae risiko van oordrag tussen die personeellede was,” het Szana bygevoeg. “In die geval van ʼn lae risiko, kan die werkgewer die werker toelaat om aan te hou werk met ʼn gesigmasker, met voldoening aan standaard voorsorgmaatreëls, en die werkers se simptome moet vir 14 dae lank gemonitor word sedert die eerste kontak.

“In die geval van ʼn hoë risiko moet die werker 14 dae lank in kwarantyn bly en die werkgewer van daardie werknemer moet siekverlof vir daardie periode toestaan kragtens artikel 27.3.”

Enige werkgewer wat onseker is oor enige van die riglyne word versoek om die hoof-inspekteur te kontak by 082 883 5737.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harry ·

Ek hoop hierdie mense maak dieselfde vereistes van toepassing op griep, brongitis en long ontsteking.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.