Covid-19: ‘Delta-variant dalk rede vir stadige afplatting’

(Argieffoto: Getty Images/AFP)

Wanneer ʼn mens na die Covid-19-statistieke van die afgelope paar weke kyk, blyk daar nie ʼn merkbare afname in nuwe Covid-19-gevalle te wees nie, ondanks kenners se voorspelling dat Suid-Afrika teen einde Augustus die derde golf sou oorkom het.

Kenners meen nou hoewel dié verskynsel aan verskeie faktore toegeskryf kan word, is die Delta-variant waarskynlik die grootste oorsaak daarvoor.

Ander faktore, waaronder die nienakoming van Covid-19-regulasies, koue temperature, die onlangse onluste in die land, asook foutiewe statistieke kan ook tot dié tendens bydra.

Luidens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se statistieke was die gemiddelde getal nuwe gevalle tussen 26 Julie en 15 Augustus 10 894. Die aantal nuwe Covid-19-gevalle wat tussen 7 en 20 Augustus aangemeld is, het ook konstant tussen 6 590 en 14 728 gewissel.

“Die verskyning van die Delta-variant, wat vinniger as die oorpronklike variant versprei, is waarskynlik die hoofoorsaak dat die derde golf nie vinnig afplat nie,” sê Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van strategie en volhoubaarheid by Solidariteit.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, stem saam en sê dié variant is veel erger as wat mense dink.

“Die virus muteer al hoe vinniger. Die Delta-variant is baie aansteekliker en versprei ook baie vinniger.

“Dit is uiters belangrik dat mense waaksaam en versigtig moet wees,” sê Van Staden.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, meen hoewel die Delta-variant waarskynlik die aandrywer is, is die grootste probleem met Covid-19 die pieke.

“Gestel 100 mense word ernstig siek van Covid-19. Dit is hanteerbaar indien hulle dit oor ʼn tydperk van 10 weke kry. Indien al 100 egter in twee weke hospitaalbehandeling benodig, kan die gesondheidsorg nie byhou nie.”

Volgens Mulder speel die koue winterweer ook ʼn rol in die stadige afplatting van die syfers.

Mardon sê verder die nienakoming van Covid-19-regulasies kan ook tot die toename in die groot aantal nuwe gevalle in veral KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap bydra.

“Die onlangse onluste in KZN kan dalk ook bydra tot die hoë voorkoms van positiewe gevalle in dié provinsie.” Dié provinsie teken die afgelope week daagliks meer as 3 000 nuwe gevalle aan en premier Sihle Zikalala het vroeër gesê die provinsie is nou amptelik in die derde golf. Hy gee onlangse onluste die skuld vir die styging in Covid-19-gevalle.

Mardon dink egter nie die onluste is die enigste sondaar nie. “Ons sien nie dieselfde tendens in Gauteng nie, ondanks die onluste wat ook hier plaasgevind het. Daar is ook ʼn hoë toename in positiewe gevalle in die Wes-Kaap, waar geen onluste was nie.”

Mulder sê aangesien die onluste in KZN hoofsaaklik in die buitelug plaasgevind het, is dit onwaarskynlik dat dít die toename in gevalle in dié provinsie voortdryf.

Van Staden meen die laksheid om Covid-19-voorskrifte na te kom, is toenemend sigbaar.

“Nie almal gee gehoor aan die gewone gesondheidsreëls soos sanitering en die dra van maskers in die openbaar nie.

“Ons sien mense in veral informele nedersettings en selfs in massas op straat in die groot stede soos Johannesburg en Durban wat doodeenvoudig nié hierdie voorskrifte nakom nie.”

Mardon sê dit is opmerklik dat positiewe gevalle aan die begin van die week aansienlik minder is en nader aan die einde van ʼn week toeneem.

“Dít dui vir my daarop dat daar waarskynlik oor naweke en vroeg in die week baie minder Covid-19-toetse gedoen word en dat mense eers vanaf Dinsdae meer gaan toets.

“Die oënskynlike vermindering vroeg in die week behoort dus nie soveel gewig te dra nie en daar behoort ʼn weeklikse gemiddeld bepaal te word om vas te stel of daar werklik ʼn afplatting is.”

Só lyk die provinsies

Al hoe meer nuwe Covid-19-gevalle word in KwaZulu-Natal aangemeld en altesame 29% van nuwe gevalle is nou in dié provinsie. Dit word gevolg deur die Wes-Kaap (24%), Oos-Kaap (15%) en Gauteng (11%). Die Vrystaat verteenwoordig 6%, Noordwes 5%, Mpumalanga 4%, die Noord-Kaap 3% en Limpopo 2%.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het egter Donderdag in ʼn verklaring gesê die eerste tekens is daar dat dié provinsie gaandeweg van die kruin van die derde golf af wegbeweeg.

“Gevalle is besig om af te neem en ons sien daagliks ʼn gemiddeld van 2 861 nuwe diagnoses.

“Hospitaalopnames het ook ʼn plato bereik met sowat 320 nuwe opnames per dag.”

Hoewel daar steeds daagliks sowat 100 sterftes in dié provinsie aangeteken word, blyk dit dat hierdie getal ook begin afneem.

“Die positiwiteitskoers vir toetse is teen ʼn gemiddeld van 37% steeds hoog, maar het ook afgeneem.”

Winde sê die derde golf hou langer as die eerste en tweede golwe. “Hoewel dít baie druk op die gesondheidstelsel plaas, het ons genoeg hospitaalbeddens en suurstof beskikbaar.”

Winde moedig inwoners opnuut aan om van die geleentheid gebruik te maak om ingeënt te word en aan Covid-19-regulasies gehoor te gee.

Gauteng het vir lank die pandemie voortgedryf, maar het die afgelope maand ʼn beduidende afname in nuwe positiewe gevalle getoon.

Dié provinsie het op 3 Julie 16 012 nuwe gevalle in een dag aangeteken, die hoogste wat nog tydens die pandemie in ʼn provinsie in die land aangemeld is. Die getalle het sedertdien afgeneem en luidens die provinsiale regering se statistieke is daar tussen 5 en 12 Augustus altesame 11 777 nuwe gevalle aangeteken. Tussen 13 en 20 Augustus was dié getal altesame 9 061.

Onbetroubare statistieke

Van Staden sê hy is egter bekommerd dat die statistieke op ʼn daaglikse grondslag nie 100% akkuraat deurgegee word nie.

Dit is dus moeilik om akkurate ontledings van die derde golf asook voorspellings vir die vierde golf te maak.

“Dít kan veroorsaak dat die vierde golf vroeër aanbreek, maar dat ons dit eers heelwat later aan die syfers sal sien.

“Teen daardie tyd is die kruin waarskynlik reeds bereik en het afplatting reeds begin. Daarom ook dat inperkingsregulasies geen sin het nie.”

Mulder sê Suid-Afrikaners kan die vierde golf waarskynlik tussen Desember en Februarie verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Piet parys ·

So die onluste is die oorsaak van verspreiding en nie die mense wat die onluste veroorsaak het nie ??????? .
Dis tyd dat die verantwoodelikes vir die onluste die blaam kry saam met onbevoegheid van die staat . Die onluste kry die blaam want dis hoekom als in die afgrond bestuur word en dit en dat moet die skuld kry en nie mense nie.

Anel ·

Dit sal dan somer wees, Desember tot Maart. Die virus hou nie van hitte nie. So wat julle nou eintlik vir ons sê is dat alles weer toe gedluit gaan word in daardie tyd. Die hoedman en sy gevolg gaan die strande en vakansie oorde patrolleer. Ek het nie geweet ons het sulke goeie sieners nie wat die volgende golf van siektes kan sien nie. Jammer hulle kan nie al die ander siektes so goed beplan nie, soos TB en Vigs en so meer. En klink my so sal dit aangaan tot 2025. Kyk ook maar die wat siek word is die wat heeldag masker dra en elke 5 sekondes hande was. Soos ons seun sê, ons liggame is gewoond aan kieme wat die honde lek onder hulle sterte en dan kry jy ‘n lek deur die gesig, voor jy kan keer. Dit word tong in die kues gesê, maar dis hoe dit is. Hoeveel boere op plase het nou al regtig siek geword? Dra hulle heeldag maskers en was heeldag hande? Ek glo nie. Sois die engelse sê “I rest my case”.

Francois Le Cochon ·

Anel, as jy ‘n aktuaris was, sou jy die wetenskap van voorspellings begryp.

Ilze ·

Als mooi vooruit beplan ja. Dink nie enige ander virus was al ooit so mooi vooruit beplan nie.

jou gewete ·

hahahahahahahahahahahah jy hoef nie n aktuaris te wees om te sien dis n klug

Ovelia ·

As di verpleegpersoneel nt opdaag om te spuit as hul gese ht hul gaan kom. Jy staan ure en wag en hul kom nie

Deon ·

Die onluste was darem maar bietjie lank terug om nou n skielike impak te he of hoe het ek dit nou? Hoe lank na jy bloot gestel word aan die virus begin jy simptome wys? n Paar dae of n maand?

jou gewete ·

ag wat maak dit saak, ons wag nou vir die volgende variant wat Oktober 25 kom. hy gaan nou n anner ene wees. hou hom dop. sy naam is geen verkiesing

Jacobus ·

Op een bladsy van nuus probeer SAHPRA iets verduidelik, vervalste uitslae en foutiewe uitslae. Ek het sterk Geloof maar dit stop kort by ons regering. Daar is gesamentlike pogings om dinge erger/ rooskleuriger te laat lyk!

Anna-Marie ·

Volgens verskeie viroloë en immunoloë is dit die gewone patroon vir nuwe Virusse. Die eerste golf is minder aansteeklik, maar dodeliker. Vir die virus om te oorleef, muteer hy en word swakker, maar meer aansteeklik. Daar is patrone waargeneem met vorige pandemies soos die 1918 griep waar golwe min of meer elke 4-5 maande plaasvind. Ek probeer nog uitvind oor dit – maar my teorie is dit het iets met die lewensiklus van Virusse te doen. Dit is hoekom golwe vooirspel kan word. Wees maar versigtig vir die inenting. Dit kan nie alles doen wat mense glo dit kan doen nie.

Barney ·

Hoe toets mens vir delta as die toetse nie kan onderskei tussen griep, verkoue of die rona nie? Vra maar net want die CDC se die toetse is useless en toets vals positief as jy bo 40 vergrotings zoom.

Jan ·

Data-analiste waarsku reeds ‘n jaarlank dat infeksies en sterftes nou vrees- en angsgedrewe is. Desnieteenstaande word die vreessindroom steeds volstoom deur die media gedryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.