Covid-19: Die getalle begin afneem – Mkhize

Werkers in beskermingspakke berei ʼn kis voor met die liggaam van iemand wat vermoedelik aan Covid-19 gesterf het. (Foto: Achmad Ibrahim, AP)

Die minister van gesondheid het Woensdagoggend ʼn relatief positiewe beeld geskets van die huidige situasie wat Covid-19 in Suid-Afrika betref.

Zweli Mkhize het tydens ʼn virtuele vergadering verwys na data wat sy departement ingewin het oor die aantal Covid-19-gevalle wat sedert Maart in verskeie provinsies aangemeld is. Hieruit wil dit voorkom of die aantal nuwe gevalle in verskeie provinsies reeds begin afneem het. Dit terwyl alle provinsies steeds genoeg hospitaalbeddens het en die koers waarteen mense weens die virus omkom, ook afgeneem het.

Luidens dié data het die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Gauteng reeds ʼn hoogtepunt bereik wat die getal nuwe daaglikse gevalle betref, en neem dit al ten minste die afgelope drie weke stelselmatig af. Dit wil egter voorkom of die gevalle in KwaZulu-Natal nou skerper begin toeneem. Dié provinsie het tans 85 986 gevalle en dit word verwag dat dit binnekort meer sal wees as in die Wes-Kaap, waar 97 261 mense tot dusver positief getoets het.

“Ons is versigtig optimisties dat ons die piek in die meeste dele van die land bereik het, maar dit is eintlik nog te vroeg om met sekerheid te kan sê. Ons is ook bang dat sodra ons alle regulasies ophef en ophou om die basiese gesondheidsmaatreëls toe te pas, die getalle weer vinnig sal begin toeneem,” het Mkhize gesê.

(Argieffoto: SJ Objio/Unsplash.)

Hy sê sy departement het aanvanklik gedink dat die afname in aantal daaglikse toetse wat uitgevoer word, kon bydra tot die afname in gevalle. “As ons egter kyk na die aantal opnames in hospitale, is dit duidelik dat daar inderdaad minder mense is wat Covid-19 aansteek.” Suid-Afrika het Donderdag minder as 20 000 Covid-19-toetse uitgevoer, in vergelyking met sowat 50 000 toetse twee weke gelede. Mkhize het ook gesê dat Suid-Afrika se getalle vir toetsing goed met dié van die res van die wêreld vergelyk.

Mkhize het verder daarop gewys dat Suid-Afrika nog nie sy kapasiteit vir hospitaalbeddens in enige van die provinsies bereik het nie en tans ʼn afname sien in die aantal mense wat weens Covid-19 in hospitale opgeneem word. “Daar is nie ʼn gebied waar ons geen plek vir hospitaalpasiënte het nie. Ons kan nou bevestig dat die aantal Covid-19-gevalle, opnames in hospitale en selfs sterftes minder is as wat ons aanvanklik verwag het.”

Die minister is ook positief oor die afname in die aantal Covid-19-verwante sterftes in hospitale se intensiewe eenhede. “Volgens verskeie studies het dié getal met tussen 25% en 40% afgeneem sedert die middel deksametasoon in Junie in hospitale aangewend is. “Die sterftekoers in intensiewe sorgeenhede is ook heelwat minder as die 80% wat aan die begin van die pandemie aangeteken is.”

Mkhize het hom ook uitgespreek oor berigte dat gesondheidswerkers siek word en selfs sterf weens ʼn tekort aan persoonlike beskermingstoerusting vir dié werkers. “Verskeie vakbonde het reeds hul ontevredenheid hieroor gelig en ons is veral bekommerd oor berigte dat ʼn dokter by die Dr. George Mukhari-hospitaal [in Pretoria] dood is weens ʼn gebrek aan dié produkte. Die departement ondersoek tans die geval.”

In dieselfde asem het Maroela Media Dinsdag berig oor persoonlike beskermingstoerusting wat die regering in Julie aan die Kubaanse regering geskenk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Magda ·

BLABLALBAL kan niks glo wat hulle se nie – wag nog steeds vir uitslae van 24 JUNIE 2020 by PTA WES Hospitaal gedoen.

Piet ·

Minder getoets so minder positiewe getalle, logika. Toets net mense wat self navore kom met moontlike simptome. Belaglik om voor die voet in massa te toets. Kon BAIE geld sover gespaar het deur slegs selektief te toets soos voorgestel.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek vind dit soms moeilik om al die interpretasies te verstaan. Dit daar gelaat.

Die Regering en Mnr. Ramaphosa se geloofwaardigheid is groot skade aangerig deur:
• Onduidelike Regulasies
• Patetiese verduidelikings van die logika (gebrek aan logika) agter sekere stappe en beperkings
• Die warboel van uitsprake wat Ministers en hulle buiksprekers pleeg, dikwels waarskynlik om eie agendas te ondersteunen
• Swak en ongetoetsde bronne, statistieke en bewyse wat gebruik word om beleid en besluite te verklaar
• Korrupsie in die Regring se eie geledere wat as “per abuis” of ander snert afgemaak word.

4ntj13 ·

Hier in Bloem probeer hulle nou nie eens meer hul gekonkel met C19-syfers wegsteek nie. Dit ontstel my dat sommige mense wat voorgee om te kan dink, pens en pootjies daarvoor val! Op ʼn internasionale webblad vir intimidasie van joernaliste, is Bloem prominent. Jhb het ook ʼn heelwat kleiner kolletjie. Dis amper makliker vandag om sterftesyfers uit ʼn ½-vernietigde Beirut te kry!

Rentia ·

So dit is basies die naaste wat ons sal kom aan “SA ons het (weereens) die bobbejaan agter die bult gaan haal”?

Verseker gun mens dit nie aan iemand om asemnood te hê nie, maar lyk of hulle uiteindelik begin besef dat die wêreld maar kan aanhou draai ? Met ‘n herstelkoers van amptelik 70% kan ons dalk maar terugkeer na normaal? Ander siektes (bv. hartkwale, diabetes, nierkwale, longkwale, TB, griep ens ens ens.) veroorsaak baie meer sterftes elke liewe jaar!

koos10 ·

Ok, nou is daar ook bewyse dat rokers nie in groot getalle op gehou rook het nie, en baie meer deel a,g,v pryse. Nou val die verbod se regverdiging, reguit deur die mat.
Is die verbod op drank of die verbod op beweging ook verantwoordelik hiervoor?

OF begin die regering regmaak, met hierdie inleiding, om hierdie sinnelose regulasies te verslap voordat hulle slae in die hof kry? Hef die verbod op tabak en drank op en verkondig dan vir almal dat dit die verbod was wat veroorsaak het dat die getalle afneem.

koos10 ·

Gaan lees gerus IOL se hoof berig. “WHO flies in 40 medical experts to SA as infections surge”.
En dit uit dieselfde minister se mond. En ons gee PPE’s weg vir Kuba.
Wie lieg vir wie en hoekom???????

Jakes ·

Wat help dit dat die Corona sterftes afneem maar ons mense word teen n geweldige tempo daagliks vermoor?

Lourens CFG ·

Dan kon hulle mos nou al laaaankal na vlak 1 gesak, én sigarette weer toegelaat het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.