Covid-19: Dié hospitale mag heropen

Netcare se Kingsway-hospitaal in Amanzimtoti in KwaZulu-Natal. (Foto: Netcare)

Netcare het Saterdag bevestig dat die Netcare St Augustine-hospitaal en Netcare Kingsway-hospitaal in KwaZulu-Natal mag heropen.

“Sedert die twee betrokke hospitale in April vir nuwe opnames gesluit is, het Netcare baie nou saam met die provinsiale departement van gesondheid gewerk aan alle sake wat met Covid-19 verband hou by die hospitale en beplanning dat hulle weer kan oopmaak,” het Craig Murphy, streekdirekteur van Netcare-hospitale aan die kus, in ʼn verklaring gesê.

“Voorbereidings vir albei hospitale duur voort om Maandag, 11 Mei 2020, te heropen. Die hospitale het verlede week reeds hul ontsmetting van alle fasiliteite op die perseel verskerp. Dokters by Netcare St Augustine-hospitaal en Netcare Kingsway-hospitaal sal ook van Maandag uit hul spreekkamers konsulteer.”

Murphy het gesê die maatskappy is dankbaar dat die hospitale weer noodsaaklike gespesialiseerde mediese sorg kan bied aan die gemeenskappe wat hulle bedien. “Ons bedank die gemeenskap vir hul geduld en begrip oor die afgelope paar weke.”

Netcare se St Augustine-hospitaal in Glenwood, Durban. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Hy het sy waardering uitgespreek vir die “ongelooflike bydraes” van die verpleeg- en ondersteuningspersoneel, dokters, ander gesondheidsorgpraktisyns en kontrakteurs wat op die voorste linies werk van die stryd teen Covid-19. “Baie dankie vir elkeen se ongelooflike poging onder hierdie omstandighede.”

Die hospitale is in April vir nuwe opnames gesluit kort nadat verskeie gevalle van Covid-19 aangemeld is. Die hospitale se ongevalle-afdelings is ook weens voorsorgmaatreëls gesluit terwyl alle dringende chirurgiese gevalle na ander hospitale oorgeplaas is.

Maroela Media het vroeër berig die St. Augustine-hospitaal is gesluit toe 66 gevalle van die nuwe koronavirus teen 9 April in die hospitaal bevestig is. Vier mense het teen dié tyd in die hospitaal weens die virus gesterf.

Verskeie gevalle is sowat ’n week later by die Kingsway-hospitaal aangemeld waarna dieselfde protokol gevolg is. Dit is onbekend hoeveel mense by Kingsway positief getoets het vir die nuwe koronavirus.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.