Covid-19: Dís hoeveel beddens in Gauteng kort

Argieffoto ter illustrasie (Foto: AP)

Al sou die Gautengse departement van gesondheid al die beddens in sy kwarantynfasiliteite gebruik wat vroeër vanjaar spesifiek vir die Covid-19-pandemie opgerig is, sal die departement stééds nie genoeg hospitaalbeddens hê wanneer die nuwe koronavirus sy verwagte piek later vanjaar bereik nie.

Dít terwyl ʼn kenner meen dat die regering nie genoeg gedurende die algehele landwye afsondering gedoen het om voor te berei vir die verwagte piek nie.

Gauteng is in dié stadium die nuwe episentrum en die provinsie het tans meer aktiewe gevalle van Covid-19 as die Wes-Kaap. Die tempo waarteen nuwe infeksies die afgelope week in Gauteng aangeteken is, is boonop veel hoër as dié van die Wes-Kaap, het Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling by die burgerregteorganisasie AfriForum, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Kwara Kekana, woordvoerder van die departement, het vandeesweek aan Maroela Media gesê Gauteng het in dié stadium reeds vyf kwarantynfasiliteite met beddens ingerig te midde van die pandemie.

Dié fasiliteite is die Eskom Training Centre in Midrand, die Telkom Training Centre in Olifantsfontein, Transnet Esselen Park in Kempton Park, die Nasrec Expo Centre in die suide van Johannesburg en ʼn fasiliteit by die Abe Baily-natuurreservaat in Carletonville.

Volgens Kekana het dié fasiliteite altesaam 1 661 beddens waarvan 297 in dié stadium spesifiek deur mense gebruik word wat in kwarantyn positief vir Covid-19 getoets het.

(Foto: Daan Stevens/Unsplash.com)

Kekana het verduidelik dat enige van dié beddens ingespan kan word wanneer die verwagte piek tref. “Dit is egter belangrik om die behoeftes van ʼn pasiënt te bepaal na gelang van sy of haar toestand. Daar is verskillende kategorieë van pasiënte wat verskillende beddens sal benodig, waaronder kritieke beddens, hoësorgbeddens en algemene beddens,” het Kekana verduidelik.

Daar word in dié stadium egter beraam dat Gauteng ʼn tekort van 6 878 hospitaalbeddens gaan hê wanneer die nuwe koronavirus sy verwagte piek teen einde Augustus of begin September bereik. Kenners verwag dus nie dat dié 1 661 kwarantynbeddens ʼn duik gaan maak in die tekort aan hospitaalbeddens nie.

Bandile Masuku, die Gautengse LUR van gesondheid, het vroeër vandeesweek verduidelik dat die verwagte tekort gegrond is op die voorspelling dat ongeveer 8 000 beddens vir ernstige siek pasiënte benodig sal word tydens die piekperiode. Daar is tans net 1 122 hospitaalbeddens in die provinsie se waakeenhede beskikbaar.

Die situasie wat gewone hospitaalbeddens betref, is selfs meer beroerd nadat Masuku aangedui het dat daar tydens die piekperiode na verwagting 25 000 gewone beddens benodig gaan word. Daar is egter slegs 6 803 gewone hospitaalbeddens beskikbaar. Dit beteken dat die provinsie ʼn tekort van sowat 18 000 gewone hospitaalbeddens in sy provinsiale hospitale gaan hê.

hospitaal

Argieffoto: Erkan Utu/Pexels.com

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, sê die regering het bitter min tydens die afsonderingstydperk gedoen om die gesondheidstelsel behoorlik voor te berei vir wat voorlê. “Ons het meer tyd bekom, maar ons het uit ʼn gesondheidsorgperspektief niks daarmee gedoen nie, behalwe om Covid-19 se piek in die winter in te skuif,” meen Mulder. “ʼn Baie donker prentjie staar Suid-Afrika eintlik nou in die gesig en ons kan verwag dat die aantal gevalle teen einde Julie sal verdubbel,” sê Mulder.

Maroela Media het vroeër berig die regering het in Mei vooruitskattings bekendgemaak wat bepaal dat Suid-Afrika se Covid-19-gevalle reeds tussen Julie en Augustus ʼn hoogtepunt kan bereik. Die regering het tóé reeds voorspel dat dit vinnig ʼn tekort aan derduisende hospitaalbeddens tot gevolg gaan hê.

Die regering se voorlopige vooruitskattings het onder meer bepaal dat Suid-Afrika teen Junie meer as 30 000 Covid-19-gevalle sou hê, met meer as 500 sterftes.

Dié syfer is in werklikheid veel hoër. Altesaam 131 800 bevestigde gevalle is teen Saterdagaand in die land aangemeld. Die land se dodetal staan reeds op 2 413.

Volgens die regering se voorlopige vooruitskattings sal die land waarskynlik tydens die hoogtepunt van die pandemie tussen 70 000 en 90 000 gewone hospitaalbeddens benodig. Suid-Afrika het in Mei oor ongeveer 90 000 van dié beddens beskik. Luidens die model sal verskillende provinsies waarskynlik op verskillende tye ʼn hoogtepunt bereik, wat beteken die gevalle sal nie eweredig oor die land versprei wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan

Jy perk die land in. Vat al die mense regte weg . En nogsteeds het hulle niks gedoen nie . Die anc het die sesie verloor

marius

Hulle kan ‘n hoogtepunt bepaal ? Het hulle dobbelstene gegooi hiervoor ?

Frederick Johannes

Lyk of die hoofrede vir die inperkingstyd maar net was om op rokers se tone te trap en onwettige sigarethandel in die hand te werk. Die regering lei jan publiek se aandag af met onbenullighede en stop sy kaders se sakke propvol, in plaas daarvan dat hulle werk maak van dinge wat werklik nodig is. Is dit nou swak beplanning of word dit gedoen met voorbedagte rade?

koos10

Het julle enigsins ‘n ander reaksie van die regering verwag? Ons kan drank en sigaret verkope in hof gaan verdedig, maar nie doen wat die doel van die inperking was nie. Die hele regering is doelloos. Tyd vir hulle om te gaan!

Jaco

Eks net bly al die klem is nie meer op die Wes-Kaap nie. Dit was naby, bitter naby, om die Wes-Kaap weer op vlak 5 van inperking te sit.
Inperking gaan nie net oor die coronavirus nie. Dit gaan ook oor die ruïnering van wit besighede spesifiek en die algemene onderdrukking van wit mense.