Covid-19: Dís hoeveel hospitaalbeddens SA kort

Deur Elaine Krige en Eunice Stoltz

Hospitaalbeddens in die Wes-Kaap se intermediêresorg-fasiliteit. (Foto: CTICC/Facebook)

Volgens vooruitskattings wat die regering verlede week bekendgemaak het, sal Suid-Afrika se Covid-19-gevalle tussen Julie en Augustus ʼn hoogtepunt bereik en vinnig ʼn tekort aan derduisende hospitaalbeddens tot gevolg hê. Dit is volgens ʼn model wat saamgestel is deur van die land se voorste kenners oor die pandemie. Sommige Kaapstadse hospitale is boonop reeds vol. In reaksie hierop het die regering inderhaas talle veldhospitale met meer as 3 000 beddens in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Gauteng opgerig.

Suid-Afrika het teen Vrydag meer as 27 000 Covid-19-gevalle en 577 sterftes aangemeld.

Die regering se voorlopige vooruitskattings vir die volgende paar maande wys egter dat dié syfer waarskynlik heelwat gaan toeneem. Dié berekeninge wys:

  • Suid-Afrika sal teen Junie meer as 30 000 Covid-19-gevalle hê, met meer as 500 sterftes.
  • Die land sal in die bes moontlike scenario teen Augustus ʼn hoogtepunt van 800 000 gevalle bereik. ʼn Meer pessimistiese vooruitskatting behels dat Suid-Afrika in Julie ʼn hoogtepunt van 1,1 miljoen aktiewe gevalle bereik en dan stelselmatig begin afplat.
  • Teen November kan tussen 40 000 en 50 000 mense aan Covid-19 gesterf het.
  • Teen einde Mei sal Suid-Afrika ongeveer 500 van die 3 300 beddens in hoësorgeenhede nodig kry. Tydens die hoogtepunt van die pandemie sal dié syfer toeneem tot tussen 25 000 en 35 000.
  • Die land sal waarskynlik tydens die hoogtepunt van die pandemie tussen 70 000 en 90 000 gewone hospitaalbeddens benodig. Suid-Afrika beskik oor ongeveer 90 000 van dié beddens. Luidens die model sal verskillende provinsies waarskynlik op verskillende tye ʼn hoogtepunt bereik, wat beteken die gevalle sal nie eweredig oor die land versprei wees nie.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, by die CTICC Intermediêresorg-fasiliteit. (Foto: CTICC/Facebook)

“Maak nie saak hoe ons daarna kyk nie, ons sal nie genoeg plek in hospitale of hoësorgeenhede hê nie, hoewel ons nog onseker is presies wanneer of vir hoe lank hierdie probleem sal duur,” voorspel die regering se kenners.

Covid-19-pasiënte wat in hospitale behandel word, sal gemiddeld 12 dae lank in die hospitaal moet bly. Indien pasiënte so siek is dat hulle in die hoësorgeenheid opgeneem moet word, sal hulle gemiddeld 18 dae in die hospitaal bly, lui die regering se verslag.

Die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad het verlede week ʼn verdubbeling in die aantal Covid-19-pasiënte gesien, berig Groundup. ʼn Dokter aan dié hospitaal het aan Groundup gesê die hospitaal sal binnekort nie meer kan voorbly nie. “Selfs as ons al die oop beddens in die hospitaal gebruik, sal ons steeds te veel pasiënte hê,” sê die dokter. Die hospitaal het ʼn week gelede reeds meer as 120 Covid-19-pasiënte in sewe gewone sale en 19 pasiënte in die hoësorgeenheid behandel.

News24 het boonop verlede week berig dat Tygerberg-hospitaal se hoësorgeenheid reeds amper vol is. Dié hospitaal het 48 beddens in die hoësorgeenheid, waarvan 25 vir Covid-19-pasiënte opsygesit is, wat almal verlede week vol was. Teen Vrydag het die Wes-Kaap 64% (17 754) van gevalle in Suid-Afrika aangemeld.

In reaksie hierop het die Wes-Kaapse regering aangekondig dat ʼn intermediêre versorgingseenheid binnekort gereed sal wees om pasiënte te behandel. Die fasiliteit is by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) opgerig en sal ʼn bykomende 850 Covid-19-pasiënte kan behandel.

Kwarantyngeriewe by die Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap. (Foto: Courtney Africa/ANA)

KwaZulu-Natal het Vrydag sý eerste veldhospitaal op die skouterrein, bekend as die Royal Showgrounds, in Pietermaritzburg amptelik bekendgestel. KwaZulu-Natal se oostelike Ilembe-distrik asook die eThekwini-distrik wat die Durbanse metropool insluit, is as brandpunte in dié provinsie geïdentifiseer.

Noluthando Nkosi, woordvoerder vir die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal, kon nie sê hoeveel pasiënte dié hospitaal kan behandel nie.

Gauteng het tans gesamentlik in die privaat en openbare sektor 8 301 beddens beskikbaar, waarvan 1 142 in hoësorgeenhede is.

Premier David Makhuru het in sy jongste voorligting aan die provinsiale bevelsraad in Gauteng gesê die provinsie beoog om teen einde Julie vanjaar ʼn bykomende 1 600 beddens beskikbaar te stel, waarvan 900 beddens in hoësorgeenhede sal wees.

Kwara Kekana, woordvoerder vir die Gautengse departement van gesondheid, sê die departement se projek om 175 bykomende hoësorgeenheid-beddens by die Ashanti Gold-hospitaal in Carletonville op te rig, is in die proses om voltooi te word.

Hiermee saam word vyf bykomende terreine ingerig wat sal dien as kwarantyn- en isoleringsentrums. Die terreine sluit onder meer geriewe by Eskom, Transnet en Telkom in, asook die Roodeplaatdam-oord en die Johannesburgse Ekspo-sentrum.

Die Oos-Kaap het teen Vrydag die derde meeste gevalle (3 306) van die algehele Covid-19-infeksiegetal opgeteken. Dié provinsie het die tweede meeste sterfgevalle (77) landwyd aangeteken.

Dié provinsie het 118 beskikbare hoësorgeenheid beddens met 52 beskikbare ventilators wat regoor die provinsie versprei is.

Judy Ngoloyi, woordvoerder vir die LUR van gesondheid in die Oos-Kaap, sê bykomende ruimtes vir Covid-19 pasiënte is binne bestaande mediese persele opgerig.

Die Nelson Mandela-stadion is tans in fase twee en het 450 beskikbare beddens terwyl die mikpunt 1000 beddens is. Intussen beoog die provinsie om ‘n veldhospitaal by die Volkswagen fabriek op te rig wat 4000 beddens beskikbaar sal stel. Die fasiliteit is egter nog nie operasioneel nie.

Volgens Ngoloyi is die provinsie besig om sowat 200 beddens te finaliseer by die Buffalo City-stadion. Hiermee saam word daar beplan om in die provinsie nog ses distrikte van veldhospitale te voorsien wat 500 beddens elk sal kan bevat. Sou omstandighede homself daartoe verleen sal die aantal beddens na 2000 vermeerder word, se Ngoloyi.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Willem ·

Hulle lieg so oor syfers ek glo niks meer nie. Ek wag dat die noorde se lae syfers begin uitkom dan praat ons weer met slim reddy en mkhize

Willem ·

En hul het dit al 2maande terug geweet. Nou moet ons toegesluit bly vir hul nonsens

Oujongvrou ·

So wat hulle se is dat net die kaap en kzn in die inperking ( wat veronderstel was om voorbereidings te tref) gesorg het vir bykomende beddens.

Jan ·

Wat help nbed as hulle nie kan toets nie . Wil net weet of mense nog doodgaan van ander siektes of nie

Karlahari ·

Tygerberg Hospitaal Wes Kaap het 48 hoë sorg beddens beskikbaar. Oos Kaap in totaal 66 en dit sluit stede soos PE en Oos Londen in.
Swakste behuising en skole infra struktuur is ook in die Oos Kaap.
Maar dit is een van die ANC se sterkste vestings?.
Hier is die hoofman nog baas en almal doen wat hy sê uit vrees dat hulle hulle blyplek sal verloor.
Hoe kan jy vooruitgang hê in so n argaiese stelsel?
Die provinsie is n skande maar opposisie partye gebruik nie die geleentheid om kiesers in te lig oor hoe die kies stelsel werk nie.

Anel ·

Niu vir hoe lank wil hulle ons nog afsonder? As ons afgedonder is moet dasr mos niemand siek word en doidgaan nie? Lig die grendel dat mense kan aangaan met hul lewens. Mens gaan nou begin doodgaan van die honger.

Jack ·

Hulle sal nou die war room moet vra wat onder oorlog toestande geld wat betref beddens. Tente en draagbare van seil. Dis wat voorle en maklik om te vervaardig. Kry by china hulle is mos die land se meester en hulle het ook die gemors veroorsaak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.