Covid-19: Drie afsonderingscenario’s en die resultate daarvan

Die algehele landwye afsondering is Vrydag ingestel. (Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

Die mate waartoe mense aan vereistes vir afsondering voldoen, kan ʼn reusagtige impak hê op die verspreiding van die koronavirus in SA.

Statistiek wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) saamgestel is, toon dat daar waarskynlik met slegs ʼn 70%-voldoening aan isolasievereistes ʼn bitter klein afname in die infeksiekoers sal wees, terwyl daar met ʼn 80%- en 90%-voldoening ʼn drastiese afname te wagte kan wees.

“Dit is ten beste ʼn skatting as ʼn mens werk met ʼn basiese reproduksiekoers (die koers waarteen die infeksies toeneem) van 2,3 persone wat deur een geïnfekteerde persoon aangesteek word,” sê Morné Malan, Strategiese Spesialis: Navorsing en Kommunikasie by SNI.

Volgens Malan styg SA se infeksiekoers tans teen ʼn geweegde gemiddeld van sowat 55 per dag. Die 70%-scenario veronderstel dat hierdie getal bitter min afneem, terwyl die 80%- en 90%-scenario’s drastiese afnames toon.

“Daar is egter talle veranderlikes wat ons uiteraard nie in ag kan neem nie, en hierdie is ten beste ʼn skatting om die tendense in verskillende scenario’s te probeer voorstel,” verduidelik hy.

Volgens Connie Mulder, hoof van SNI, bly die interaksie van Covid-19 met Vigs die grootste veranderlike. “Ons hou die invloed van dié interaksie fyn dop – dit gaan ʼn bepalende faktor wees,” sê Mulder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Erik ·

Miskien kyk ek iets mis, maar hierdie 3 scenario’s maak glad nie vir my sin nie. Verstaan ek reg dat met die 80 -90% sukses die getalle dadelik sal begin afneem?

Net 2 vrae:

1. Daar is reeds duisende toetse gedoen waarvan die uitslag nog onbekend is.
2. Daar moet nog duisende toetse geneem word van mense wat tans nog geen simptome toon nie.

Dalk sit ek die pot heeltemal mis!

Frik ·

Stem saam met Erik. Die syfers gaan aanvanklik steeds skerp styg en dan hopelik afplat. Sal egter nie die pandemie heeltemaal hokslaan nie.

Cherokee ·

Erik, ek het ook begrip daarvoor gesoek en tot die gevolgtrekking gekom dat dit te doen het met die oorlaaide bevolking van Suid Afrika, waarvan massas in Kayalitcha (sp?) tipe nedersettings woon, waar absoluut geen beheer oor inperking is nie. Hoe perk jy ‘n gesin in wat in ‘n vrag-houer woon? Daardie mense woon in kleiner hokkies. Terug na die persentasie-skatting. dit is omdat 10, 20 en 30 persent soveel 100de duisende mense behels.

mediator1979 ·

Ons gaan nou die onbekende in so al wat oorbly is spekulasie .Ek stel voor isoleer jouself en kyk na jou geliefdes by die huis .Los die spekulasies .

Salome ·

En in die massas wat in die strate ronddans, kuier, draf, inkopies doen…ek wil nou nie ‘n doemprofeet wees nie…maar dit grens aan omtrent 50% ‘gehoor gee’. Indien so baie.
Die wat nie wil hoor nie, moet voel. Net jammer die onskuldiges gaan saam met hulle voel. Ons kan net bid dat die Here, in hierdie tyd van die Pase, die onheil by ons huise laat verby gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.