Covid-19: Drie KZN-skole tydelik gesluit

(Foto: Unsplash)

Nadat skole landwyd Maandag weer na meer as twee maande vir matrieks en gr. 7-leerders heropen het, het minstens drie skole leerders reeds gevra om tuis te bly ná bevestigde gevalle van Covid-19. Al drie dié skole is in KwaZulu-Natal.

Die Savannah Park Secondary School in Chatsworth het ouers Dinsdag ingelig dat ʼn onderwyseres by die skool positief vir die virussiekte getoets het. Die betrokke personeellid was egter nie Maandag en Dinsdag by die skool nie en was nie in enige stadium in aanraking met leerders nie, het Asogan Naicker, die skoolhoof, in ʼn omsendbrief aan ouers gesê.

Die skool bied klasse aan vir leerders van gr. R tot gr. 12.

Naicker sê ná ʼn vergadering met die onderwysdepartement is die skool opdrag gegee om klasse vir gr. 7- en gr. 12-leerders tydelik op te skort.

Die gesondheidsdepartement sal siftingstoetse van personeel by die skool doen, en die geboue sal ontsmet word.

Ook die Apollo Secondary School in Chatsworth is tot minstens Donderdag gesluit nadat ʼn onderwyseres positief vir Covid-19 getoets het.

Luidens ʼn verklaring het die onderwyseres verlede week vir diens aangemeld en was sy meestal in die personeelkamer en administrasiekantore wat gereeld ontsmet en skoongemaak word. Sy het nie Maandag gaan werk nie.

Die skool se personeel is Dinsdag vir Covid-19 getoets en alle akademiese aktiwiteite is op aanbeveling van die onderwysdepartement opgeskort.

Die skool het ouers bedank wat hulle kinders Maandag skool toe gestuur het en sê leerders pas goed aan by die veiligheidsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die virus te bekamp.

By die Deccan Road Primary School in Pietermaritzburg het ʼn onderwyser ook positief vir Covid-19 getoets. Die betrokke personeellid was Maandag by die skool toe onderrig hervat is.

Sharon Naidoo, die waarnemende hoof, het in ʼn brief aan ouers gesê as voorsorgmaatreël word aanbeveel dat alle leerders wat by die skool was fyn dopgehou word vir simptome en in isolasie gehou word.

Die skool is Woensdag ontsmet.

Maroela Media het vroeër berig ʼn leerder by Grey-kollege in Bloemfontein het ook positief vir Covid-19 getoets. Die skool is nie in dié stadium gesluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annelize ·

En dit gaan uitkring. Dis nie dat ek doemprofeet probeer wees, of negatief wil wees nie, ek self sit in naels kou oor my Gr5 kind, want die Akademiese jaar is “in ruins” , maar hoor wat ek vandag se, die skole se deure gaan vinniger weer begin sluit as wat dit nou oopgemaak het.

Agge nee ·

Annelize, jy is ‘n doemprofeet en negatief, al wil jy nie wees nie. Daardie “hoor wat ek vandag sê’ klink vir my na leedvermaak. Ons as onderwysers doen alles in ons vermoë om julle kinders veilig te hou, maar die ouers maak die kinders so verskriklik bang. Ons het al ‘n ondersteuningsgroep vir kinders wat so bang is, banggemaak deur ouers. Ek kan nie die Departement se redenasie verstaan nie. ‘n Skool word toegemaak omdat ‘n onderwyser positief getoets het. Een wat glad nie met die kinders in aanraking was nie. Dit is ontneem van alle logika. As my tante in Kaapstad positief vir Covid19 toets, dan gaan ek, wat haar jare laas gesien het, in isolasie hier in die Limpopo. Ek staan verslae, nog een van hulle besluite wat van alle logika ontneem is. Amper soos jy mag op die “boardwalk” stap, dan is jy reg, maar as jy op die strand stap, is jy verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.