Covid-19: Dringende ingryping in Oos-Kaap nodig, meen DA

Foto: Hush Naidoo/Unsplash

Die Demokratiese Alliansie het Maandag in ʼn verklaring gesê die Oos-Kaapse gesondheidstelsel het die afgelope paar weke begin ineenstort en duisende lewens in gevaar gestel.

“Dit is hoekom die DA die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, twee weke gelede skriftelik versoek het om die provinsiale departement van gesondheid onder administrasie te plaas kragtens artikel 100 van die Grondwet,” het Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister van gesondheid, gesê. “Die slakkepas waarteen ingryping in die provinsie plaasvind, veroorsaak nog sinnelose lewensverlies.”

Die DA sal nou ook adjunkpres. David Mabuza nader en versoek dat daar dringend ingegryp word in die provinsie.

Die party het Maandagoggend ʼn oorsiginspeksie gehou by Cecelia Makiwane-hospitaal om eerstehands te sien met watter probleme hospitale in die provinsie sukkel, buiten die toenemende geval pasiënte vanweë Covid-19. “Kwessies soos chroniese personeeltekorte, ʼn gevaarlike gebrek aan suurstofvoorraad en ondoeltreffende persoonlike beskermingstoerusting is net ʼn paar van die probleme,” het Gwarube gesê.

“Ons het vanoggend ook uitgevind die hospitaal het slegs twee kritiekesorgbeddens vir Covid-19-pasiënte. Alhoewel daar planne is om nog 12 beddens by te voeg, het dit nog nie gebeur nie – ondanks die toename in gevalle. Dit is vanoggend bevestig dat honderde Covid-19-toetsstelle met pasiënte se besonderhede op die N2 tussen Oos-Londen en Mdantsane gevind is. Dit is nog nie duidelik waar dié monsters vandaan kom nie, maar dit dui op die absolute chaos wat in die Oos-Kaap ontvou.”

Gwarube het gesê dit is duidelik dat daar nog lewensverlies sal wees as daar nie dringend ingegryp word nie. “Dit is eenvoudig nie genoeg dat minister Mkhize ʼn paar mense stuur om die provinsie te ondersteun nie. ʼn Hele bedryfspan is dringend nodig om fasiliteite te ondersteun en bestuur is nodig om te voorkom dat mense sinneloos sterf.

“Die regering kan nie die lot van duisende mense in die Oos-Kaap ignoreer wat sterf weens jare lange verwaarlosing van die gesondheidstelsel nie. Terwyl verskeie dele van die land onder die impak van die pandemie gebuk gaan, moet alles gedoen word om seker te maak die stelsel bedien mense so goed as moontlik. ʼn Versuim om dit te doen, is ʼn direkte oortreding van die Grondwet. Die reg tot gesondheid realiseer nie, weens blote staatsnalatigheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suzette ·

En wie moet ons bedank – die anc!! Hulle is die oorsaak van absolute verval in Suid-Afrika, op alle vlakke.

Ansie ·

Nou gaan die Oos-Kapenaars seker weer die Wes-Kaap instroom.

JM ·

Môre is nog ‘n dag, te veel moeite om die agterstelle te lig en lewe te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.