Covid-19 eis bekende Namibiese sakeleier  

Nico Tromp. (Foto: Verskaf)

Die FAK het gesê hy het met skok en leedwese kennis geneem van die dood van Nico Tromp (72), Namibiese sakeman en leiersfiguur van die Afrikaanse kultuurlewe in die land.

Die dagblad Republikein berig Tromp is Sondag in die vroeë oggendure aan Covid-19 dood.

“Die FAK spreek hiermee sy diepe medelye uit teenoor Denése, sy vrou, sy kinders en kleinkinders, asook sy talle vriende en die Namibiese sakegemeenskap,” het prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, gesê.

“Ons is oorweldig deur Nico se onverwagte en voortydige dood. Tegelyk vind ons vertroosting in die aanwesigheid van God as die diepste grond van ons bestaan, die uiteindelike beskikker van lewe en dood. Ons gebed is dat die Tromp-familie en almal wat ten nouste deur hierdie tragiese gebeure geraak word, troos en berusting in sy beskikkende aanwesigheid sal vind.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en hoofleier van Die Voortrekkers, het gesê woorde ontbreek om sy hartseer oor Tromp se skielike dood te verwoord. “Daar is baie wat ʼn mens oor oom Nico sou kon sê. Topsakeman in Namibië en Suid-Afrika. Langsdiendende uitvoerende hoof op die JSE. Entrepreneur met ’n reuse- Afrika- en internasionale netwerk. Kerkman. Volksman. Familiemens. Gesinsman. Oupa. Die eerste Voortrekker van Namibië wat ’n Presidentsverkenner geword het. Die eerste Namibiër wat hoofbeskermheer van Die Voortrekkers geword het.”

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, oorhandig in 2013 ’n toekenning vir uitnemende leierskap aan Nico Tromp in Windhoek, Namibië. (Foto: Verskaf)

Tromp se seun, Phillippus, dien op die FAK se direksie. “Dit is met groot hartseer en leedwese dat ons moes verneem van die afsterwe van een van Netwerk Namibië se stigterslede en voormalige voorsitter, Nico Tromp,” het Elizma Theron, bestuurder van Netwerk Namibië, gesê.

Netwerk Namibië is in 2006 gestig ten einde om te sien na die Afrikaanse taal en kultuur ná die Namibiese onafhanklikheidswording in 1990. Die organisasie werk nou saam met taal- en kultuurorganisasies in die land om aan Afrikaans meer blootstelling te gee en werksaamhede te koördineer.

In 2013 is ’n formele internasionale kultuurvennootskap met die FAK aangegaan. In dieselfde jaar het Tromp ’n toekenning van die FAK ontvang vir uitnemende leierskap. “Hy sal onthou word vir sy passie vir Afrikaans en sy mense, en die manier hoe hy vir elkeen ’n plekkie in die son kon sien en besorg. Hy was ’n uitmuntende leier wat die beste in ’n span na vore kon bring, en laat beslis ’n leemte by almal wat hy aangeraak het. Hy laat reusevoetspore in verskeie dele van die Namibiese samelewing. Ons innigste simpatie aan sy vrou, Denése, sy kinders, Philippus, Gerard, René en Este, en kleinkinders,” het Theron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tersia ·

So jammer vir die agterblewenes, hiermee betuig ek my simpatie met die familie. God alleen kan vertroos.

Stephen ·

Ek het die voorreg gehad om Nico 50 jaar te ken. Hier was voorwaar een van die eerbaarste mense wat bestaan het. Hy was n uitstekende sakeman en voorbeeld vir almal wat hy ontmoet het.
Innige simpatie aan sy vrou Denese en kinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.