Covid-19 eis groot gees in Afrikaanse onderwys

Neil Prinsloo is in 2014 as hoof- uitvoerende beampte van Napso aangestel en het drie jaar later (2017) die leisels as bedryfshoof van Privaatskool Moria oorgeneem (Foto: Neil Prinsloo, Facebook)

Medelye vir Neil Prinsloo (46), skoolhoof van Privaatskool Moria in Outjo, Namibië, wat Dinsdagoggend aan Covid-19 oorlede is, stroom sedert sy dood in. Prinsloo was ook jare lank die hoof- uitvoerende beampte van die Namibiese Privaatskole-organisasie (Napso).

Volgens vriende en kollegas laat Prinsloo se dood ’n groot leemte in die Afrikaanse en Christelike onderwysgemeenskap van Namibië en Suid-Afrika.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) en jare lange vriend van Prinsloo, vertel hy het sowat vier weke gelede met ’n skok verneem dat Prinsloo per ambulans na ’n hospitaal in Windhoek op pad is. Hy het positief vir Covid-19 getoets en sy suurstofvlakke het een aand beduidend gedaal.

“Hy was lank in ’n ernstige toestand in die hospitaal. ’n Paar dae voor sy dood het sy toestand verbeter, maar toe beleef hy ’n terugslag. Ons is Dinsdagoggend van sy heengaan in kennis gestel,” vertel Vermeulen aan Maroela Media.

Vermeulen en Prinsloo se paaie het in 2003 gekruis. Vermeulen was skoolhoof van Privaatskool Moria en Prinsloo is daardie jaar as predikant by die Gereformeerde gemeente Outjo aangestel.

“Ek en hy het toe al baie nou saamgewerk omdat die skool die predikante gereeld by die skool se aktiwiteite betrek het.”

Vermeulen sê Prinsloo was passievol oor die jeug en kinders.

“Hoe meer hy as predikant by die skool betrek is, hoe meer het hy belangstelling in die onderwys getoon. Hy het later die bediening vir die onderwys verruil.”

Prinsloo is in 2014 as hoof- uitvoerende beampte van Napso aangestel en het drie jaar later (2017) die leisels as bedryfshoof van Privaatskool Moria oorgeneem. Hy is in Januarie vanjaar as skoolhoof van dié skool aangestel.

Privaatskool Moria is die oudste Afrikaanse private skool ter wêreld. Dié skool is in 1991 gestig.

Neil Prinsloo en sy gesin (Foto: Verskaf)

Vermeulen sê Prinsloo het as bedryfshoof van die skool gereeld bande met Suid-Afrikaanse onderwysinstansies, soos die SOS, gesmee.

“Hy het dikwels opleidingsessies van die SOS bygewoon en ons was gereeld in kontak oor onderwyskwessies. Ons het nog voor sy dood gesels oor hoe ons Privaatskool Moria by die SOS se Wolkskool betrokke wil kry.”

Volgens Vermeulen was Prinsloo vol entoesiasme, innoverend, kreatief en het altyd nuwe idees vir die onderwys gehad. Hy het ook groot drome vir die toekoms van onderwys gehad.

“Hy het ’n groot liefde vir Afrikaanse en Christelike skole en die voortbestaan daarvan gehad.”

Loutjie Grobler, adjunkhoof van Privaatskool Moria, sê Prinsloo was ’n energieke persoon met diep Christelike waardes wat diep spore in die skool, kerk en gemeenskap getrap het.

Privaatskool Moria en Napso Namibië het op Facebook hul innige medelye aan Prinsloo se geliefdes betuig.

Die Instituut vir Christelike Onderwys het Prinsloo se lof op hul Facebookblad besing, veral wat betref sy onbaatsugtige bydrae in die Christelike onderwysgemeenskap.

“Neil het altyd planne beraam om die Christelike onderwys uit te bou, alles om altyd tot eer van die Here kinders op te voed. Hy het oral waar hy gaan die brood en die vissies uitgedeel, kinders gemaan om dit met albei hande aan te gryp en te eet van dit wat ewigheidswaarde het. Christelike onderwys was vir hom om kinders op te voed om ligdraers te wees. Gehalte en uitnemendheid was vir hom ook van groot belang,” skryf die instituut.

Prinsloo word oorleef deur sy vrou, Aletta, en vier kinders, Dawid, Jan, Isabel en Linda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Die Boerepompie ·

Wat n ramp
Ek voel saam julle famelie bid eie Hete om julle by te staan

zulk ·

Innige simpatie vir n werklik besondere mens.
Kyk net moontlik na stelling van oudste Afrikaanse privaatskool ter wêreld van 1991 af – ek is seker dit is nie korrek nie.

Esme ·

Opregte simpatie met die verlies van ‘n man wat ‘n groot verskil binne die Christelike Onderwysstelsel gemaak het.

Eragrostis ·

Neil was saam met my in die koshuis Over-de-Voor op die Noordwes Universiteit (toe nog die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys), en die primarius van die koshuis in 1997. Hy was altyd ń gemoedelike persoon met ń positiewe uitkyk op die lewe. Ons sal jou mis, Neil

Di ·

Sjoe wat ‘n groot verlies vir die samelewing! Innige simpatie aan sy gesin, familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.