Covid-19 eis lewe van nog ʼn skoolhoof

Chris Zaayman, hoof van Maragon Mooikloof. (Foto: Facebook)

Te midde van toenemende kommer oor die tol wat Covid-19 onder onderwysers eis, het die virus volgens aanduiding die lewe van nóg ʼn slagoffer in die onderwyssektor geëis.

Chris Zaayman, hoof van Maragon Mooikloof, ʼn private skool in Pretoria, is Dinsdagoggend dood, na verneem word weens Covid-19.

“Hy was ʼn wonderlike mentor vir leerders, ouers en personeel. Hy het daarin geglo om leiers groot te maak wat ʼn uitwerking op die toekoms sal lê en sy nalatenskap leef voort in almal wat hom geken het,” het die skool in ʼn verklaring gesê.

Die skool het ook sy medelye met Zaayman se vrou, Madeleine, en hul dogters, Madele en Carmi, betuig en gevra dat die gesin se privaatheid in hierdie tyd gerespekteer sal word.

Zaayman is beskryf as ʼn ongelooflike leier en onderwyser.

Brandon Schunke. (Foto: Facebook)

Brandon Schunke, hoof van die Parkrand Primary School in Boksburg, is op 1 Januarie weens Covid-19 dood. Schunke se dood is as ʼn groot verlies en as verwoestend vir sy skool en gesin bestempel. Die skool gaan ter nagedagtenis aan Schunke ʼn tuin van herinnering aanlê en het gevra dat plante, eerder as ruikers, by die skool afgelewer word.

Talle boodskappe van medelye het ook ingestroom ná die dood van George Henry Parker, hoof van Laerskool Generaal Beyers in Danville, Pretoria. Parker was sewe jaar lank hoof van dié skool en is beskryf as ʼn man met ʼn ongelooflike visie vir die skool- en ouergemeenskap.

“Hy het soveel vernuwing en energie gebring en sy leerders en personeel deel van sy hart en sy passie gemaak. Sy oop hand en hart vir swaarkry was bekend in die skool-ouergemeenskap. Onderwys en onderrig was sy lewe. Min hoofde ken hulle leerders op die naam soos hy geken het,” het die skool in ʼn verklaring gesê.

‘n Huldeblyk aan George Henry Parker, hoof van die Laerskool Generaal Beyers. (Foto: Facebook)

Parker is op Oujaarsdag dood, enkele dae nadat Covid-19 by hom gediagnoseer is.

Werner van Rensburg, adjunkrektor van akademie by die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, is ʼn dag tevore ook weens Covid-19 dood. Van Rensburg was 57 jaar oud.

Die rektor van die skool, André van Staden, het sy innige medelye namens die skool en gemeenskap met Van Rensburg se vrou, Sandra, en kinders, Emwee en Anieka, betuig.

Die skool het gesê huldeblyke van sy kollegas en oudleerders is ʼn weerspieëling van die soort mens wat Van Rensburg was.

Werner van Rensburg, ‘n adjunkhoof by Paul Roos Gimnasium. (Foto: Facebook)

“Hierdie liefhebber van die lewe, sy vrou en kinders, die viswaters, motorfietse, sy hond en soveel meer, word geprys vir sy dapperheid dat hy sy pligte by die skool getrou nagekom het met die wete dat hy daagliks aan die virus blootgestel is,” lui die skool se verklaring.

Die onderwysvakbond SAOU het Sondag gesê hy het reeds verskeie navrae van nasieners by matriek-merksentrums ontvang oor die veiligheidstoestande daar. Sommige nasieners het selfs gedreig om hulle weens die vlaag Covid-19-infeksies te onttrek.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van SAOU, het gesê die vakbond het die erns van die situasie onder die departement van onderwys se aandag gebring en daar is ooreengekom op regulasies wat die veiligheid van personeel tydens die nasienproses moet verseker.

Sowat 45 000 nasieners by 181 sentrums landwyd begin later vandeesmaand om die 14 miljoen eksamenvraestelle na te sien.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, het vroeër gesê daar is ernstige kommer oor die sterftes onder onderwysers.

“Die onmiddellike uitwerking van die tekort is kommerwekkend. Wanneer skole in Januarie heropen, is ons bekommerd oor die uitwerking wat dit gaan hê om te verseker elke onderwyser kan elke leerder in 2021 help,” het Mweli gesê.

ʼn Geraamde 1 600 onderwysers het volgens die departement al weens Covid-19 gesterf.

“Daar is die afgelope paar weke deeglik kennis geneem van die dodelike gevaar van Covid-19 en dat 1 659 opvoeders die hoogste prys betaal het. SAOU betuig hiermee opregte simpatie en meelewing met hulle families en die onderskeie skoolgemeenskappe.

“Die kennis, wysheid en ervaring van hierdie gewaardeerde kollegas is moeilik vervangbaar,” het Klopper gesê.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het aan Cape Talk gesê teen 28 Desember het altesaam 73 amptenare in die departement weens Covid-19 gesterf. Hiervan was 56 onderwysers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.