Covid-19 eis lugballon-legende

Bill Harrop (Foto: Bill Harrop’s Original Balloon Safaris/Facebook)

Bill Harrop, stigter van die bekende Bill Harrop’s Original Balloon Safaris, is Sondag weens Covid-19 dood. Harrop (81) se dood volg kort ná dié van sy vrou, Mary.

Sy dood word as ’n groot slag vir die Suid-Afrikaanse toerisme bedryf bestempel.

“Pappa, jy was en sal altyd onthou word as ʼn ‘onverskrokke lugvaartverkenner’… Jou entoesiasme vir die lewe was aansteeklik en jy het soveel wonderlike herinneringe vir ander geskep en nagelaat,” het die egpaar se dogter, Sarah Bauling, Maandag in ’n inskrywing op Facebook gesê.

Bill Harrop’s Original Balloon Safaris is in 1981 op die been gebring en het bekend geword vir asemrowende lugballonvlugte oor die Magaliesberg-vallei.

Bill Harrop’s Original Balloon Safaris. (Foto: Facebook)

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het die maatskappy in ’n verklaring bestempel as ʼn wêreldbekende en daarby die oudste toeroperateur van sy soort in die land.

“[Harrop] was ʼn kleurvolle karakter en het oor baie jare ʼn belangrike rol in die toerismebedryf gespeel as mentor en gids. Hy het daarna gestreef om uitstekende, veilige en betroubare diens aan plaaslike en internasionale reisigers te lewer wat op soek was na ʼn ware avontuur,” lui die minister se verklaring.

Die Suid-Afrikaanse Toerismediensvereniging (Satsa) het ook Harrop se dood in ’n verklaring betreur. Hy was sedert 1982 ’n lid van Satsa.

“Daar was nie ʼn rol wat Bill tydens die 40 jaar en 17 dae [van lidmaatskap] by Satsa gespeel het nie… ʼn Legende, ʼn ikoon, ʼn held, ʼn onvergeetlike man. Bill, jou naam sal vir altyd met eerbied en liefde in die sale van die toerismebedryf genoem word.”

Bill en Mary Harrop se lewe word Saterdag tydens ’n virtuele diens gevier. Klik hier vir meer inligting oor die diens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie ·

So hartseer! Sterkte aan sy dogter en familie! Hy was inderdaad ‘n legende!

Samuel ·

Bill, rus in vrede. Innige simpatie met die naasbestaandes.

Tanniepetoors ·

Beslis ‘n kleurvolle karakter en ‘n legende in tyd. Medelye aan familie en vriende. RIV

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.