Covid-19 eis man, vrou week uit mekaar

Barrie Erasmus (65) het Woensdag en sy vrou, Annelie (61), verlede Dinsdag weens Covid-19 gesterf (Foto: Verskaf)

’n Egpaar van Rustenburg wat 46 jaar lank getroud was, het ’n week uit mekaar weens Covid-19 gesterf. Barrie Erasmus (65) het Woensdag en sy vrou, Annelie (61), verlede Dinsdag weens Covid-19 gesterf.

Inwoners van Rustenburg is verslae oor die twee se heengaan, aangesien hulle so ʼn aktiewe rol in die gemeenskap gespeel het.  Barrie, ʼn pensioenaris, was sedert 2013 betrokke by die plaaslike buurtwag (RCCF) op die dorp. Hy was jare lank die ondervoorsitter van die buurtwag en baie geliefd onder lede van die gemeenskap.

Mandie van der Merwe (45), die Erasmus-egpaar se dogter, vertel Annelie het op 11 Junie Covid-19-simptome begin toon, waaronder moegheid, naarheid en lyfseer. Sy het aanvanklik nie gedink sy het die virus onder lede nie, aangesien sy die afgelope twee jaar meestal bedlêend was en soortgelyke simptome getoon het ná ’n rugoperasie wat skeef geloop het.

Barrie het verlede Dinsdag vir Mandie gebel en gesê dat hy sukkel om vir Annelie wakker te kry.

“Ek het dadelik na hul huis gery. My ma het met my gepraat en gesê sy voel beter. Sy het gesê dat sy nie meer lyfseer het nie, maar dat sy baie moeg is en bietjie wil slaap,” vertel Van der Merwe.

“Ons het besluit om haar hospitaal toe te vat. Ek en my pa het haar van die bed af opgetel en in ’n rolstoel gesit. Sy het toe stuiptrekkings gekry wat soos ’n beroerte gelyk het. Haar oë was groot, sy was verward, sy het op haar tande gekners en styf getrek.”

Van der Merwe vertel in die kar op pad na die hospitaal het haar ma weer stuiptrekkings gekry.

“Haar lyf het na my kant toe geval en sy het teen my gelê. Sy het nie weer asemgehaal nie. Ek het histeries ‘Mammie, Mammie’ gegil sodat sy my kan hoor en weer kan bykom.”

By die hospitaal se noodgevalle het die personeel vir Annelie uit die motor gehaal en op ’n bed die hospitaal ingestoot. Dokters het alles probeer, maar Annelie was reeds dood. “Haar hart het blykbaar gaan staan.”

Die familie het die middag ’n Covid-19-toets op Annelie gedoen en die resultaat was positief.

Intussen het Barrie en die egpaar se seun, Hennie Erasmus (40), ook positief vir die virus getoets.

. Barrie, ʼn pensioenaris, was sedert 2013 betrokke by die plaaslike buurtwag (RCCF) op die dorp (Foto: Verskaf)

“My pa het ná my ma se dood net in die kamer gelê. Hy wou nie eet of sy medikasie drink nie.

“Sy suurstofvlak was 75% en sy vingernaels het blou geword. Ons het hom in die hospitaal laat opneem. Voordat hulle hom opgeneem het, het ek hom gegroet en gesê hy moet gou beter word sodat ons my ma kan begrawe.”

Van der Merwe sê ná Barrie opgeneem is, kon hulle hom glad nie besoek nie, maar hulle was telefonies met hom in kontak.

Barrie se toestand het Maandagoggend verbeter, maar teen die middag handomkeer verander.

“Die hospitaal het Dinsdagoggend gebel en gesê my pa se suurstofvlak bly daal en dat ons kinders by hom ’n draai moet maak.

“My pa het op die kant van sy bed gesit. Sy gesigkleur was grys en sy vel yskoud. Hy het gesukkel om duidelik te praat. Hy het gehuil en gesê hy voel benoud en moeg. Ek het hom gesmeek om ons nie te los nie en terug te baklei. Hy het gesê hy mis my ma.”

Lede van die RCCF-buurtwag en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Rustenburg, asook vriende en familie het Dinsdagaand voor die hospitaal bymekaar gekom om vir Barrie te bid.

Van der Merwe sê haar pa het haar laat Dinsdagaand drie keer gebel. “Ek kon omtrent niks hoor nie. Hy het beangs geklink.

“Hy het my Woensdagoggend omstreeks 05:16 weer gebel. Hierdie keer kon ek nog minder hoor, behalwe dat hy my naam uitgeroep het. Toe gaan die foon dood. Ek het vir hom ’n WhatsApp gestuur en gevra hy moet vir my ’n boodskap tik sodat ek kan verstaan wat hy sê. Hy het dit nooit gelees nie…”

Die hospitaal het omstreeks 06:30 laat weet dat Barrie aan ’n hartaanval dood is.

“My ouers se dood is vir ons kinders ’n groot skok en aanpassing. Hulle laat ’n enorme leemte. Al ons kinders was baie naby aan my ma en pa.”

Die egpaar word oorleef deur hul drie kinders, Mandie, Hennie Erasmus (40) en Santjie Scheepers (43), asook drie kleinkinders, Bernardo van der Merwe (25), Wikus van der Merwe (19) en Liané Scheepers (18).

Mandie beskryf Annelie as ’n sagte, liefdevolle en toegewyde ma, vrou en ouma.

“Sy was baie erg oor haar kleinkinders en het gehelp om hulle groot te maak. Sy was ook lief vir ander mense se kinders.”

Sy sê haar ma kon altyd deur ’n ring getrek word en sy het ’n goeie sin vir humor gehad.

Volgens Mandie was Barrie baie handig en kon enigiets doen, bou en regmaak.

“Hy was baie intelligent. Hy het almal gehelp met wiskunde. Hy was ’n liefdevolle oupa, wat ’n goeie sin vir humor gehad het en altyd poetse gebak het.”

Kobus Ferreira, voorsitter van die RCCF-buurtwag, sê Barrie het baie omgegee vir sy medemens en was altyd bereid om iemand in nood te help. Die buurtwaglede beskryf hom as ’n leier en ’n legende.

“Op patrollies was Oom Barrie altyd op die voorpunt gewees. Hy was ’n dryfkrag vir baie junior lede wat hom gevolg het,” vertel Ferreira.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Suzette ·

Hemel, dis hartseer – my innigste simpatie aan die familie.

Hein ·

En nogtans is daar mense wat dink dat die een of ander opgemaakte ding is. Mense moet wakker word die is nie ‘n grap nie. Veral as mense in jou familie het wat positief toets. Mense wat self gedink het dit is ‘n grap en nou self besef.

Hendrik Marthinus ·

Hein
Stem saam jou
Steeds mense wat Dink dus n normale griep
Ek stem van die mense se hulle vorige jare se griep was erger as toe Hulle nou Covid gehad het.
Great vir hulle
Maar die virus is eg en nie die regering se manier om mense te punish nie
Baie hartseer storie die en innige simpatie aand die familie

Hein ·

Beslis Hendrik dis nie net ons regering wat so optree nie. Ons land se mense kan nie eers na sekere lande toe reis nie. As die ding net ‘n normale griep was sou ons nie geblok gewees het om daar in te gaan nie.

MakersMark ·

Hendrik jy is reg dis ‘n haatlike siekte wat gesinne uitmekaarskeur. Snaaks vanaf die berigte oor oorvol hospitale en sterfgevalle agv CV19 is die groot tiere doodstil. Dalk nie meer so sha na na soos hul gespog het nie.

piet ·

Het jy nie gehoor wat die hardemanne se nie, dis net verkouetjies.

Raakvatter ·

Netso, sien my kommentaar “Raakvatter”. Was self maar op die kantlyn, ek sien nou wat dit doen. SCARY!!

melaney ·

Innige meegevoel met familie en vriende. Dit moet ‘n harde slag wees om albei ouers in so kort tyd te verloor.

Noels244 ·

Dit is hartverskeurend om hierdie artikel te lees, ek huil saam met julle. Dit maak my bang vir my eie ouers. Here, help ons!

Hein ·

Beslis my pa word 68 en my ma het borskanker en sy is 65. Dit maak ‘n mens bang. Ons weet ons ouers gaan eendag wel moet gaan maar nie op so manier nie.

Alma ·

Ja, dit is verskriklik, een dag is altwee ouers daar, lag en gesels, n week later is albei weg… Dis hartverskeurend, ons kan net bid. My innige simpatie aan hierdie familie.

Misky ·

Sterkte aan julle as familie. Bitter hartseer om albei ouers so kort op mekaar te verloor

Die Boerepompie ·

So so jammer om te lees van julle .Ek simpatseer saam julle my gebed vir julle is Here staan by die familie asd en bid ook dat U ons sal by staan met die Coved help ons Here Help ons … Asb Here Amen

Lorna ·

RIV
Dit moet onbeskryflik seer wees
Mag God julle styf vashou
Jammer maroela het nie my vorige kommentaar gelaai nie
My vriendekring dink die inenting is duiwels ek word beskuldig dat my geloof nie sterk genoeg is nie En ek GLO my GOD is GROOT net deur na die fotos te kyk voel ek die mense het GEGLO en daar word nie van inspuiting melding gemaak nie
Ek is baie verward

Alma ·

Weet jy Lorna, ek het net besluit dat ek hierdie inenting sal neem, kom wat wil. Ek wil my kinders baie graag sien groot word, ek wil nog baie dinge saam met my man doen. Laat ander dit weier, maar ek sal alles in my vermoee doen om myself en my gesin veilig te hou. Net sowel kan die inentings wat ons as babas gekry het vol “duiwelse dinge” gewees het.

Lorna ·

Ek stem Alma
Ek is n ouma van 3 en ek sal als gee om nog n tyd met hul te hê

Hein ·

Lorna op die stadium moet jy luister na jou brein en nie luister na wat ander mense bespiegel en “conspiracy theories” nie. Daar is nie nou tyd vir wonder nie. Of jy tree op of jy kry dit en het die moontlikheid om baie siek te word of erger. Dink jou kanse met die inenting is beter as jou kanse met die virus.

piet ·

Neem net die entstof, dis die beste manier om jouself en ander te beskerm. Meer as 2,75 Biljoen mense het dit al gekry in die wereld en dit hou net voordele in.

Belinda ·

simpatie aan die familie.
Net een ding, daar is meer as net die mense wat al so afgesterf het dae uitmekaar. (just saying)
My ma se buurman en buurvrou is onlangs oorlede, en die buurvrou se suster net n week voor dit. Hierdie virus is besig om ons almal uit te wis.

ES ·

Dit moet so erg wees om albei jou ouers so kort na mekaar te verloor. Baie sterkte aan jul almal!

popsa ·

Ai ai ai. En hulle is so mooi… Sterkte aan hulle kinders en geliefdes. Koester die mooi onthou in julle harte.

Tanya ·

Vader in die hemel. Wees met ons almal en al gaan ons deur donker dae dat ons weet U is altyd met ons. Al is ons bang Vader Dankie dat U elke pad saam ons stap. U is Groot Vader. Vader ons spreek Jesaja 43 oor almal. Vader gee die kinders berusting oor hul ouers. Dankie U is Groot. Amen

Raakvatter ·

Ek myself was ‘n neutrale observeerder oor Covid, my sussie het BAIE swaar gekry en doen steeds. Ek is sommer opnuut bang vir die virus. Sy is op suurstof gekoppel en kry swaar. En oor die algemeen gesond. Die virus is nie grap nie.

sopbeen ·

Dit is vreeslik hartseer. Lockdown is al wat ons gaan red. Hierdie ding gaan nie oor 2 jaar verdwyn nie. Hy word elke keer net sterker en sterker. Ek verloor eerder geld as my geliefdes

Lionel ·

Liana, lockdown gaan ons nie red nie. Die lewe moet aangaan en al hoe dit moontlik is, is deur inentings. 70% van die bevolking sal moet ineent dat ons herd immunity kan bereik om immuniteit teen die virus te hê. Ons kan nie vir die res van ons lewens met elke vlaag infeksies almal in die huis toesluit en wegkruip vir n maand of twee nie.

Lionel ·

Die virus is die nuwe griep, bedoelende dit gaan seisoenaal jaar na jaar terugkeer. Ek is jammer maar ek gaan vir seker nie vir die res van my lewe elke jaar vir 1-2 weke of selfs meer alles stop, myself gaan toesluit en wegkruip nie.

Regtigegtig ·

Dit is geweldig hartseer. Baie troos vir hierdie familie.

Pandora ·

‘n Vriendin van my se ouers is in Januarie gediagnoseer met COVID-19. Hulle is die Maandag gediagnoseer, die Donderdag is haar pa oorlede en die Vrydag haar ma. Sy het die Dinsdag daarna uitgevind sy het ook COVID en ‘n week later is sy ook oorlede. Dis ongelooflik traumaties…

agnes ·

Wil graag weet, het hulle die COVID inspuiting gekry? Daar is heel wat mense dood na soon inspuiting

Die Waarheid ·

46 Jr getroud.
Sy was 61.
So sy het op 15 getrou?
Die oumense was ook maar stout.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.