Covid-19 eis Margot Luyt: ‘Sy kan nou rus’

Margot Luyt. (Foto: rsg.co.za)

“Ons is verlig daaroor dat dit ten minste vir ons klink asof sy nie gely het in haar laaste oomblikke nie.”

Só sê Ella Viljoen, suster van radio-aanbieder, regisseur en aktrise Margot Luyt. Luyt is Dinsdag in die ouderdom van 73 weens Covid-19 dood.

Luyt, ʼn Parkinson-lyer, is Vrydagoggend in die Karl Bremer-hospitaal in Kaapstad opgeneem met ʼn hoë koors en het positief vir Covid-19 getoets.

“Sy is Saterdag oorgeplaas na die Covid-saal in die hospitaal en het glo net geslaap. Ek het nog die oggend gebel om te hoor of ons haar selfoon vir haar soontoe kon laat stuur om met haar te gesels, want daar was geen manier om met haar te praat nie.”

Volgens die hospitaalpersoneel sou die De Rust-sorgsentrum in Durbanville, waar sy die afgelope paar maande gewoon het, net so goed na haar kon omsien soos die hospitaal en sy is ontslaan. Sy is egter in die ambulans op pad na die sorgsentrum oorlede, sê Viljoen.

“Hulle het haar teruggehaas na die hospitaal se noodeenheid, maar sy is toe dood verklaar. Sy was baie swak as gevolg van die Parkinsons en het die laaste ruk gebruik gemaak van ʼn rolstoel.”

ʼn Aanlyn begrafnisdiens word vir Luyt beplan aangesien talle van haar familielede in die buiteland woon. Predikant Johan Symington, ʼn jarelange vriend van Luyt se familie, sal die diens lei.

ʼn Datum vir die diens is nog nie vasgestel nie.

“Ons is uiteraard baie hartseer, maar aan die ander kant is ek bly dat sy nou kan rus. Die Parkinsons het haar geknou en sy het haar lewenslus effe verloor ná haar lewensmaat, Graham, se afsterwe in 2019.

“Ons hoor van soveel mense wat ly weens Covid-19, maar die hospitaalpersoneel sê sy was baie rustig. Daaroor is ons dankbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stephan ·

Margot was lewensgroot maar dit was haar hart wat so duidelik sigbaar was, Haar bydrae tot Afrikaans en die mensdom sal nooit gemeet kan word nie. Margot jou mooi hart en wat jy vir ander gedoen het, het tot ons hart gespreek en verskoon dan maar die trane vandag, ek sien jou vinger swaai en se moenie huil nie maar ons huil. My een groot spyt in die lewe is dat ek en jy nooit ‘n koppie tee saam kon drink nie. Rus sag Liefste Margot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.