Covid-19 eis munisipale amptenaar van Oudtshoorn

Pumzo Tofile. Foto: Verskaf

Die bestuurder van regsdienste by die Oudtshoorn-munisipaliteit is een van die mees onlangse slagoffers van Covid-19 in die Wes-Kaap.

Pumzo Tofile (55) is Saterdag in Kaapstad aan ʼn Covid-19-verwante siekte dood nadat hy vroeër in die intensiewesorgeenheid van ʼn hospitaal in die stad opgeneem is.

Altesaam 60 445 bevestigde gevalle van die virussiekte is teen Sondagaand in die Wes-Kaap bevestig en 1 764 in die provinsie het reeds daaraan gesterf.

Tofile het in 2012 as die hoof van regs-en-kontrakdienste by die munisipaliteit aangesluit. Talle boodskappe van medelye het ná sy dood ingestroom.

“Ons is diep bedroef deur die verlies aan iemand met Tofile se karakter,” het Noluthando Mwati, waarnemende burgemeester van Oudtshoorn, gesê.

“Ek het Tofile in 2016 leer ken en hy was altyd fluks, vriendelik en gehoorsaam en kon enige druk gemaklik hanteer ondanks al die uitdagings wat hy in die veeleisende pos as regsadviseur vir die raad moes hanteer.”

Reginald Smit, Oudtshoorn se waarnemende munisipale bestuurder, het Tofile as ʼn saggeaarde, toegewyde beampte beskryf wat altyd professioneel opgetree het.

“Ons sal hom as kollega en vriend mis,” het Smit gesê.

“Tofile het in Kaapstad siek geword toe hy vir die laaste keer tydens vlak 4 van die afsondering huis toe gegaan het. Ek het ʼn paar keer met hom gesels terwyl hy siek was. Ons laaste gesprek was Saterdag toe hy in die Vincent Palotti-hospitaal opgeneem is.

“Die laaste paar dae het ek met sy vrou gesels wat ons op die hoogte van sy toestand gehou het. Ons het so gehoop en gebid dat hy herstel.”

Tofile het in Kaapstad gewoon, maar in Oudtshoorn gewerk en sy dood vorm dus deel van Kaapstad se Covid-19-statistieke.

Begrafnisreëlings moet nog getref word.

Tofile word oorleef deur sy vrou, Gcotyiswa, en twee kinders van onderskeidelik tien jaar en drie maande oud.

Die munisipaliteit sê hy gaan ʼn erewag vir Tofile hou wanneer sy liggaam van Kaapstad deur die Tuinroete na sy tuisdorp Ezigodlo in die Oos-Kaap teruggeneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Tydens die kort tydjie wat ek saam met Pumzo gewerk het het ek hom leer ken as ‘n vriendelike persoon, altyd gewillig om te help en om oor mooi karre te gesels.
Riv.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.