Covid-19 eis oud-Grey-leerder ná koma

Ruan Joubert voor die ongeuk (Foto: Verskaf)

“Hy het tot aan die einde toe geveg. Hy is ons legend.”

Só vertel Liesel Joubert wie se seun, Ruan Joubert (23), Vrydag in ’n hospitaal in Kimberley sy stryd teen Covid-19 verloor het. Ruan was in 2017 in ’n ernstige motorfietsongeluk en was daarna vyf maande lank in ’n koma. Ná die koma kon hy nie meer praat nie en het hy sy hande gebruik om te kommunikeer. Hy het net begin vordering toon, toe die virus by hom gediagnoseer is.

Liesel vertel Ruan het verlede Maandag positief vir die virus getoets toe sy voedingbuis in die hospitaal vervang is.

“Hy het geen simptome getoon nie. Hy het nie eers ’n hoë temperatuur gehad nie,” vertel Liesel.

Ruan het egter teen die Woensdag ’n koors ontwikkel, wat Donderdag vererger het. Hy het intussen ’n ander kiem ook opgetel en is Vrydagmiddag oorlede.

Ruan na die ongeluk by sy suster, Adri, se troue. Dit was haar groot droom dat haar broer by haar troue kan wees (Foto: Verskaf)

Ruan het in 2016 aan Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer. Hy het die jaar daarna sy eerste jaar as LLB-student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom afgeskop. In Julie dieselfde jaar was hy in die motorfietsongeluk waarin hy erge breinbeserings opgedoen het. Hy het eers vyf maande daarna uit ʼn koma ontwaak.

“Nadat hy sy oë oopgemaak het, is hy na ʼn rehabilitasiesentrum gestuur. Ons het besluit dat ons hom nie daar gaan los nie, maar eerder huis toe vat. Wonderbaarlik kon hy saam met ons huis toe gaan.”

Liesel het Ruan die afgelope vier jaar in hul huis in Kimberley versorg, waar hy in ’n na-koma-toestand verkeer het. Hoewel hy nie kon praat of loop nie, het Ruan die afgelope ruk baie goeie vordering getoon.

Ruan was ook lief vir sy rugby (Foto: Verskaf)

“Hy het goed aangepas. Hy het begin kos eet en drink, wat hy nie voorheen kon doen nie. Hy het ook op die 27ste Februarie vir die eerste keer ‘mamma’ gesê. Ek glo vas hy sou nog eendag uit die rolstoel opstaan en loop.”

Liesel sê in Ruan se stilte het hy soveel mense se lewens aangeraak.

“Hy het mense, wat hy nie eers ken nie, se harte aangeraak. In die hospitaal het mense na hom gekyk en gesien hoe hy met soveel veggees tot aan die einde toe baklei. Hy was beslis ’n inspirasie.

“Hy het ook sy lewe voluit geleef. Hy het alles gegee – tot aan die einde toe. Hy het so hard probeer om die virus te baklei, maar ek kon sien dat hy moeg is.”

Grey-kollege het ook op Facebook sy medelye aan Ruan se familie en vriende betuig.

’n Huldeblykdiens vir Ruan word Saterdagoggend op Vleissentraal-park in Kimberley gehou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper ·

My innige simpatie aan sy ouers en familie.Ons ken nie God se weë nie maar ons weet Hy is in beheer van ons lewens.Ruan is nou sonder enige probleme.

Cindy ·

huil ek nou oor ‘n kind wat ek van geen kant af ken nie.. so jammer :(

Mariaan ·

Hartverskeurend..so n mooie jong man….kan nie eers dink waardeer hierdie ouers en sussie moes gaan nie…sterkte vir jul pad vorentoe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.