Covid-19 eis Richard Branson se ma

Sir Richard Branson en sy ma, Eve. (Foto: Richard Branson/Facebook)

Sir Richard Branson, bekende sakeman en stigter van die Virgin-groep, se ma is dood nadat sy Covid-19 opgedoen het. Eve Branson was 96 jaar oud.

Branson het Maandag in ’n verklaring gesê sy ma kon daarin slaag om van Covid-19 te herstel, maar die siekte “het al haar energie in die proses uitgeput”.

“My ma was 96 jaar oud, maar het dieselfde entoesiasme en energie gehad as toe ek ʼn seun was. Net soos vir soveel ander in hierdie tyd van die Covid-19-pandemie voel dit so vreemd dat die persoon wat nog altyd daar was vir ons, met soveel lewenslus, nou weg is.”

Eve is ten tyde van haar dood bygestaan deur een van Branson se susters, Vanessa, haar kleinseun Louis en verpleegsters.

Eve het vroeër in haar lewe haarself as ’n seun voorgedoen om sweefvliegtuiglesse te neem. Sy was ook tydens die Tweede Wêreldoorlog deel van die vrouekorps. Sy het ná die oorlog as balletdanser deelgeneem aan produksies op toer. Die dinamiese Eve het ook op die West End-verhoog opgetree en later by British South American Airways as lugwaardin gewerk.

Die sakeman skryf sy sukses toe aan sy ma.

“My ma het eendag in die laat 1960’s ʼn halssnoer in die pad naby Shamley Green [in Surrey, Engeland] sien lê en dit na die polisiestasie geneem. Niemand het ná drie maande die halssnoer opgeëis nie en die polisie het gesê sy kan dit hou. Sy het Londen toe gekom, die halssnoer verkoop en vir my die geld gegee. Sonder daardie £100 sou ek Virgin nooit kon begin nie.”

Eve word oorleef deur drie kinders, 11 kleinkinders en tien agterkleinkinders.

Amerikaanse ambassadeur in SA toets positief

Die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika, Lana Marks. (Foto: Twitter)

Die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika, Lana Marks, het intussen bekend gemaak dat sy onlangs tien dae lank in die waakeenheid van ’n hospitaal vir Covid-19 behandel is.

Marks het Maandag in ’n verklaring gesê sy en ’n familielid het kort ná Kersfees simptome begin toon en in selfisolasie gegaan.

Marks het egter kortasem en baie swak begin word waarna sy aangesê is om hospitaal toe gaan. Die Amerikaanse ambassadeur is op 28 Desember in die hospitaal se waakeenheid opgeneem, waar sy tien dae lank behandel is. Sy het nog drie dae in die hospitaal se Covid-19-eenheid deurgebring voordat sy verlede week eindelik ontslaan is.

Marks word nou tuis behandel.

“My toestand verbeter en die dokters is vol vertroue dat ek uiteindelik weer sal herstel. Dit is ʼn geweldige ernstige en onvoorspelbare siekte en dit was liggaamlik die aftakelendste ding wat ek in my hele lewe ervaar het,” het sy gesê.

Marks was verlede jaar in die nuus toe bewerings van ’n Iranse komplot om haar te laat vermoor die lig gesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kosie ·

Jammer dat die man se ma oorlede is. Ek wil net versoek, terwyl MM vir ons daagliks op hoogte bring van almal se ouers wat op hoë ouderdom sterf, of MM dalk met dieselfde toewyding ons ook op hoogte kan hou van mense soos Heidi Neckelmann (56) en Sonia Azevedo (41). Ek besef, die mense is nou nie heeltemal so bekend nie, maar hulle is ook dood weens ‘n direkte gevolg van COVID; om meer presies te wees, weens die inenting wat hulle dood veroorsaak het.

Monique ·

Heidi Neckelmann het nie gesterf nie, haar man Gregory Michael, wel. Sy het geen mediese agtergrond nie en daar is ook nog geen bewyse dat hy as gevolg van die inenting gesterf het nie so Maroela Media sal nie gerugte versprei nie! Dis net so ek goed ek sterf in ‘n motorongeluk nadat ek die inenting gekry het en nou is dit as gevolg van die inenting dat ek dood is! Mens moet darem nou ook nie die dam onder die eend uitruk nie, 5 miljoen mense is reeds ingeent in die VSA en 1 persoon is dood…

Sandra ·

Wow, Eve Branson was sowaar ‘n dinamiese vrou. Altyd naby iets te doen met vliegtuie. Daar moet ‘n film gemaak word oor haar lewe. My innige simpatie met die familie vir die verlies van so ‘n fantastiese vrou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.