Covid-19 eis skoolhoof van Mpumalanga

Covid-19 het die lewe van nog ‘n skoolhoof geëis. (Argieffoto)

Talle boodskappe van medelye het ingestroom ná die dood van ʼn laerskoolhoof in Mpumalanga.

Die 58-jarige Maleke Elizabeth Hlathi was die hoof van die Mhluzi Primary School en was die afgelope 26 jaar verbonde aan die departement van onderwys.

Sy is getroud met brig. Leonard Hlathi, die polisie in Mpumalanga se provinsiale woordvoerder. Benewens haar man laat sy ook vier dogters, ʼn seun, twee kleindogters, twee broers en vier susters agter.

Lt.genl. Semakaleng Manamela, polisiehoof in Mpumalanga, het die departement se opregte medelye met die Hlathi-familie betuig.

Die polisie het ook opnuut ʼn waarskuwing oor die gevare verbonde aan Covid-19 gerig en ʼn beroep op mense gedoen om maatreëls na te kom om die pandemie te help stuit.

Die polisie het mense ook aangemoedig om indien moontlik vir die Covid-19-entstofprogram te registreer.

Manamela sê die polisie sal die Hlathi-familie onvoorwaardelik in dié moeilike tyd ondersteun.

“Mag die bedroefde familie berusting in God vind en weet dat hulle in ons gedagtes en gebede is en dat ons hulle ten volle sal ondersteun,” sê Manamela.

“Ons weet as ʼn ma en vrou was sy ʼn steunpilaar vir brig. Hlathi en hul kinders. Sy sal geweldig gemis word. Mag haar siel in vrede rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.