Covid-19 en jou huishulp: Dit is wat jy moet weet

(Foto: Pixabey)

Met die uitbreking van die koronavirus (Covid-19) in Suid-Afrika oorweeg baie mense dit om hul huishulpe vir die volgende paar weke op gedwonge verlof te plaas. Dit is nie net om hul gesinne te isoleer nie, maar ook om te verhoed dat werkers aansteek terwyl hulle gebruik maak van openbare vervoer.

Verskeie maatskappye het reeds besluit om hul werknemers van die huis te laat werk, maar daar is bepaalde soorte arbeid wat bloot nie van die huis af verrig kan word nie.

Maroela Media het kenners gevra oor ʼn paar kernkwessies wanneer dit by jou huishulp en Covid-19 kom.

Moet ek my huishulp steeds laat werk?

Prof. Shaheen Mehtar, van die Afrika-infeksiebeheernetwerk, sê weens die hoë aansteeklikheid van die virus is dit beter om onnodige kontak met ander mense te vermy.

“Bespreek die kwessie en die omstandighede rondom Covid-19 eerlik met jou huishulp, en of dit noodsaaklik is om wel voort te gaan met dienste.”

(Foto: Pixabay)

Kenners beveel aan dat werkgewers wat rondreis en onlangs uit die buiteland teruggekeer het, dit sterk moet oorweeg om vir ʼn 14 dae periode liefs sonder ʼn huishulp klaar te kom.

SuperChar, ʼn skoonmaakdiens wat in Johannesburg en Kaapstad werksaam is, sê hulle het nog geen kansellasies vir hul dienste ontvang nie. Hulle 16 skoonmakers gebruik egter geensins openbare vervoer nie en word vir werk op- en afgelaai. Die takbestuurder, wat verkies om anoniem te bly, sê hul werkers is ingelig om gereeld hul hande te was en bykomende higiëne toe te pas.

SweepSouth, nog ʼn skoonmaakdiens wat in die land se hoofstede werksaam is en meer as 7 000 huishulpe op sy databasis het, het in ʼn persverklaring die versekering gegee dat al sy werknemers goed ingelig is ten opsigte van voorsorgmaatreëls om hulself en die kliënt te beskerm.

Moet ek steeds my huishulp betaal?

Indien jou huishulp nie siek is nie, maar julle ooreenkom dat hy/sy nie inkom werk toe nie is daar geen wet wat vereis dat jy hulle moet betaal nie. Verskeie vakbonde en politici het egter reeds ʼn beroep op burgers gedoen om huishulpe te betaal al werk hulle nie.

Foto: Josh Appel/Unsplash.com

Dit hang dus van elke werkgewer af om die besluit te neem om hul huishulp op betaalde verlof te plaas al dan nie.

Op ʼn vraag oor hoe Covid-19 huishulpe beïnvloed, het Myrtle Witbooi, algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse huishoudelike diens- en geallieerde werkersunie (SADSAWU) gesê huiswerkers staar finansiële onsekerheid in die gesig. Sy meen die wet maak nie voorsiening dat werkgewers verplig is om huishulpe te betaal in die geval van afwesigheid weens ʼn siekte nie.

“Huishulpe word deur geen wet beskerm wanneer dit by hierdie soort siekte [Covid-19] kom nie,” sê Witbooi.

Sy is ook bekommerd oor die welstand van huishulpe.

“Dit is ʼn krisis bo-op ʼn krisis” sê Witbooi en verduidelik baie werkers is afhanklik van ʼn deurlopende inkomste om daaglikse uitgawes soos kos aan hul families te voorsien.

Witbooi doen ʼn beroep op werkgewers om huishulpe te vergoed al word daar ooreengekom dat hulle te midde van Covid-19 nie werk toe kom nie.

Bedrywighede by die taxi-staanplek in Rustenburg is Dinsdag tot ʼn stilstand gebring. Foto: ANA

Hoe gemaak met vervoer?

Sommige huiswerkers woon op die perseel terwyl ander na en van die werk moet reis.

Daar is tot dusver geen verbod geplaas op die gebruik van openbare vervoer nie, maar verbruikers word aangeraai om treine, busse en taxi’s met oorleg te gebruik.

As werkgewer kan jy reël dat jou huishulp buite spitsverkeersure na jou reis wanneer openbare vervoer nie te besig is nie. Of stel voor om hulle self op en af te laai indien dit moontlik is. Sommige werkgewers laat hul huishulpe tydelik by hulle inwoon.

Wat is my huishulp se regte?

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes vereis dat jy jou huishulp siekteverlof moet betaal wanneer hy of sy af siek is. As werkgewer mag jy ook in die geval van ʼn siekte ʼn mediese sertifikaat aanvra. Volgens wet is huishulpe geregtig op 30 dae siekteverlof oor ʼn tydperk van drie jaar. Die wet is van krag indien jou huishulp siek word, en nie wanneer hy/sy by die huis bly weens eksterne faktore nie.

Dit is nou dalk ʼn goeie tyd om jou huishulp vir werkloosheidsversekering te registreer, indien hy/sy nie reeds is nie. Indien jou huishulp geregistreer is, kan hy of sy salaris van die werkloosheidsversekering eis, sou hy/sy tuis moet bly.

Algehele higiëne is in alle omstandighede uiters belangrik en ook die werkgewer se verantwoordelikheid om die werksomgewing skoon en veilig te hou. 

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Belinda ·

Dit is elke werkgewer se pligsbesef, sy is altyd daar, doen al jou vuilwerk wat jy nie wil of noodgedwonge nie kan nie, omdat jy werk, so kyk na haar omdat sy nie kan werk oor die onsekerheid. In elk geval is hul die veiligste wanneer werk, hul werk heeltyd mt ontsmettingsmiddels. As sy bereid is om te kom werk , maar jy is bang, moet jy haar betaal.

Erik ·

Ek voel indien jy jou huishulp vra om eerder by die huis te bly is net moreel reg om aan te hou om hulle te vergoed. Ek vermoed dat teen die spoed wat die virus nou versprei in SA openbare vervoer binnekort verbied sal word. Indien jy jou salaris verdien en gevra word om tuis te bly, behoort dieselfde vir ‘n huishulp te geld. Indien jy nie betaal sou word nie, kan jou huishulp eis vanaf WVF.

Nina ·

Ek sou baie ongelukkig gewees het as my werkgewer besluit ek verloor my salaris omdat ek nie kan werk nie. My huishulp is in presies dieselfde situasie. Sy moet ook kos koop en lewe. Corona gee ons ‘n geleentheid om ons medemens te help. As ons kan moet ons doen wat reg is sonder dat die wet ons moet reg help, trek dan vervoer geld af maar asseblief moet hulle nie honger los nie.

Judge ·

Die huishulp 2 weke verlof gee is ‘n klug..
2 Weke isolasie kan slegs werk as elke liewe mens in SA hulself isoleer en 100% seker maak dat hy nie in daardie periode die virus opdoen.

So nou kry jou huishulp 2 weke verlof – gaan sy haarself isoleer? Waarskynlik nie moontlik vir meeste van hulle.
En die areas wat hulle bly is juis die areas wat die virus moontlik die vinnigste kan versprei.

Judge ·

Dan moet ek ook noem dat Covid 19 in die middel van die noordelike halfrond se winter uitgebreek het.
SA se winter moet nog kom en hy het alreeds hier begin uitbreek.
So waar 2-3 Maande – se isolasie moontlik vir Europa kan werk sal SA waarskynlik 5-6 maande se isolasie moet toepas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.