Covid-19-entstof: Dié ouer as 50 kan binnekort registreer

(Argieffoto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

Mense ouer as 50 kan van Donderdag begin registreer om teen Covid-19 ingeënt te word.

Volgens Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, sal daar teen 15 Julie met inentings vir hierdie ouderdomsgroep begin word. Die immunisering van mense ouer as 60, sowel as gesondheidswerkers, duur terselfdertyd voort.

Dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur van die departement van gesondheid, sê in sommige gebiede is mense ouer as 60 reeds almal ingeënt. Oor die algemeen het sowat die helfte van Suid-Afrikaners ouer as 60 vir inentings geregistreer en net meer as 50% van hulle het reeds entstof ontvang.

Crisp sê daar sal nou begin word om mense tussen die ouderdom van 50 en 59 te teiken. Sowat 4,8 miljoen mense val in dié ouderdomsgroep.

ʼn Gemiddeld van 85 000 inentings is die afgelope ruk daagliks gedoen, waarna dit vroeër vandeesweek toegeneem het tot sowat 100 000 per dag. Teen volgende week word daar gehoop om ʼn teiken van 150 000 inentings per dag te bereik, dit dan te verhoog tot 250 000 en om daarna uiteindelik pres. Cyril Ramaphosa se teiken van 300 000 inentings per dag te bereik.

Crisp sê daar is in hierdie stadium genoeg entstof om ononderbroke inentings te doen.

Volgens die minister word nog entstof boonop binnekort verwag.

“Pfizer het byna 4,5 miljoen dosisse soos onderneem in die tweede kwartaal gelewer. Dié maatskappy is verbind tot 15,5 miljoen dosisse in die derde kwartaal, waarvan byna 2,1 miljoen dosisse in Julie verwag word,” sê Kubayi-Ngubane.

“Johnson & Johnson (J&J) het tot dusver 500 000 vroeë toegang- dosisse vir Sisonke [die program waarvolgens gesondheidswerkers ingeënt word] gelewer, 300 000 markdosisse is verlede week afgelewer en nog 1,2 miljoen dosisse het gisteraand aangekom.

“Hierdie dosisse moet almal teen 11 Augustus gebruik word. Ons wag nog vir bevestiging van die aflewering van 500 00 dosisse, wat later verval as die ander, en dat dit dan die 2 miljoen dosisse sal opmaak om dié wat weens die besmettingsvoorval verlore gegaan het, te vervang.”

Kubayi-Ngubane sê ook indien daar vinnig beweeg word, kan mense ouer as 40 moontlik teen Augustus vir inenting begin registreer.

“As ons genoeg entstof gehad het, sou ons graag almal dadelik wou inent. Ons moet inent soos wat ons entstof ontvang.”

In hierdie stadium is daar drie gelyklopende programme waarvolgens inentings beoog word: Die inenting van die algemene bevolking, die inenting van noodsaaklike werkers, asook werkplekinentings van mense in ekonomiese sleutelsektore.

Inentings vir onderwysers en werkers in die basiese onderwyssektor het Woensdag begin.

Volgens Kubayi-Ngubane is sowat 50 000 mense die afgelope twee dae ingevolge dié program ingeënt. “Teen hierdie tempo sal ons die sektor binne tien dae afhandel, soos ons gehoop het.”

Maroela Media het vroeër berig daar is groot ongelukkigheid onder talle belanghebbendes in die vroeër kinderontwikkelingsektor wat nie in hierdie stadium – soos ander onderwysers – vir entstof kwalifiseer nie.

“Ek erken daar is onderwysers in die vroeë kinderontwikkelingsektor en die naskool-stelsel wat deur die program uitgesluit voel. Ek wil hulle verseker dat werk by die departement van maatskaplike ontwikkeling en hoër onderwys, wetenskap en innovasie daaroor gedoen word.

“Die sektor werk anders as dié van basiese onderwys en dit was nie prakties moontlik om hulle by die basiese onderwys-sektor se program in te sluit nie.”

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

Nou toe hier is n geleentheid,die wat wil,gaan, en die wat twyfel en onseker is wag maar eers.Ek het klaar my mind opgemaak.

Abraham

My ma is ouer is 50 en het al vir haar 2de inenting gegaan…

Misky

Ek praat gisteraand met ‘n vriendin wat ‘n onderwyseres is. Toe sy gister wou gaan vir haar inenting, sê die suster nee sy kan nie kry nie. Sy het April begin skoolgee by ‘n Durbanse laerskool en is blykbaar nie lank genoeg daar nie en dis nie vir “new educators” nie. Nou verstaan ek nie en was onder die indruk onderwysers word geent om sterftes en hospitalisasie te verminder op skoolvlak. Hoe dan nou? Sy kom daagliks met honderde kinders steeds in aanraking nes die juffrou in die klas langs haar en hulle sit in dieselfde personeelkamer en tee drink

Roebs

Begin ons land inent en hou op om bietjie vir bietjie te doen.

Carina

Ek het end Januarie covid gehad en letterlik by die dood omgedraai. Maar ek weet nie of ek die entstof kan vertrou nie. Jy moet weet wat in iets is om ‘n teenmiddel te kan maak. So die feit dat daar so gou ‘n entstof gemaak is, bly maar fishy vir my. Ek is oor 50 maar weet nie of ek sal registreer nie.