Covid-19: ‘Ergste’ agter die rug

(Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

“As jy na die groter prentjie kyk, is ons oor die ergste.”

Dít volgens dr. Piet Streicher, ʼn kenner verbonde aan Pandemic Data & Analysis, oftewel Panda, oor die stand van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika.

Panda se vooruitskattings en ontledings oor die Covid-19-pandemie dwing toenemend gesag af, maar verskil dikwels wesenlik van die prentjie wat die regering skets.

“Dit is moeilik om te bepaal wanneer die piek is of was, maar as al die veranderlikes in ag geneem word – nuwe positiewe gevalle wat verminder, ʼn afname in hospitaal-opnames en ʼn afname in die aanvraag na hoësorgbeddens – is die ergste agter die rug,” sê Streicher.

Piek bereik

Die Thusong-sentrum vir Covid-19-pasiënte. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), stem saam.

“Ek dink ons kan met versigtige optimisme begin sê ons is tans op die kruin, of net-net oor dit.”

Streicher sê Panda se korttermyn-vooruitskatting vir Covid-19-sterftes staan in hierdie stadium op nagenoeg 15 000 teen 31 Augustus, ʼn beduidende verskil van die 25 000 (optimisties) tot 41 000 (pessimisties) sterftes teen 31 Augustus soos weerspieël in die regering se nasionale Covid-19-modelleringskonsortium- (SACMC) voorspelling op 19 Mei.

Aanvanklik is tussen 80 000 en 350 000 sterftes vir die jaar voorspel en dié voorspelling is later aangepas tot tussen 40 000 en 50 000 sterftes. In werklikheid is nog nie naastenby soveel sterftes aangemeld nie en teen Vrydag het Suid-Afrika se bevestigde Covid-19-sterftes op net meer as 9 600 gestaan.

Streicher sê Panda volg ʼn ander benadering as die SACMC wie se model op amper 20 veranderlikes berus. “Dit is ʼn komplekse model en hulle voorspellings pas nie by die werklike data nie.”

Panda se model berus op net drie veranderlikes en daar word groot klem daarop geplaas dat die skattings by werklike omstandighede moet pas.

Streicher sê siektes soos MIV en tuberkulose (TB) het eindelik nié so ʼn groot uitwerking op Covid-19-sterftes in Suid-Afrika gehad nie. ʼn Tagtigjarige persoon het ʼn kans van 17 keer meer om positief vir Covid-19 te toets en ʼn duisend keer groter kans om aan Covid-19 te sterf as byvoorbeeld ʼn tienjarige, verduidelik hy.

“In terme van MIV en TB styg jou risiko met ʼn faktor van twee of drie, maar die siektes het nie dieselfde uitwerking op Covid-19-sterftes as wat ouderdom het nie.”

Hy sê Suid-Afrika het baie minder bejaardes as lande soos Italië en dit tel in Suid-Afrika se guns.

Onderwysers word getoets vir Covid-19 by The Settlers High School in Bellville (Foto: Courtney Africa, ANA)

Volgens Streicher is die sogenaamde piek van die siekte ʼn breë periode en strek dit van 20 Julie tot 14 Augustus vir Suid-Afrika as ʼn geheel. Die Wes-Kaap het volgens hom reeds op 24 Junie die piek van die siekte bereik en terwyl 52 sterftes per dag in daardie stadium in die provinsie aangemeld is, het dit nou na sowat 30 afgeneem.

“Die Oos-Kaap het sowat twee weke gelede deur sy piek gegaan en sterftes daar neem nou elke dag af,” sê Streicher.

Gauteng gaan tans deur die Covid-19-piek en sterftes behoort teen Vrydag (14 Augustus) merkbaar te begin afneem.

Dié provinsies verteenwoordig sowat 55% van die land se bevolking. Die Vrystaat en KwaZulu-Natal behoort binne die volgende paar weke die piek te bereik en die ander provinsies gaan teen einde Augustus en September volg.

Mulder meen Suid-Afrika was gelukkig dat die Wes-Kaap eerste getref is. Die provinsie het die pandemie baie goed hanteer, het sy kapasiteit goed bestuur en ander provinsies kon waardevolle lesse daaruit leer. Dit lyk egter of talle ander provinsies nie dieselfde vermoë as die Wes-Kaap het om die virus te pak nie.

“Die provinsies wat in die grond in bestuur is, soos die Oos-Kaap, gaan die swaarste getref word. Ek sidder ook vir wat in Limpopo en Mpumalanga kan gebeur,” sê Mulder.

Gerugte van ʼn “tweede golf”

Leë grafte in Gauteng. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Streicher sê die kans dat ʼn sogenaamde tweede golf van Covid-19 die land gaan tref, is onwaarskynlik en in ʼn provinsie soos die Wes-Kaap is die moontlikheid “weglaatbaar klein”.

“Die Wes-Kaap gaan nie weer op ʼn punt kom waar 50 mense per dag weens Covid-19 sterf nie.”

Hy sê in dié provinsie het die virus na bykans elke uithoek versprei, wat beteken diegene wat die kwesbaarste daarvoor was – bejaardes of diegene met onderliggende siektes – is reeds aan Covid-19 blootgestel. Dit maak die poel van diegene wat die virus kan opdoen beduidend kleiner.

In lande soos Australië en Nieu-Seeland, waar die siekte aanvanklik nié so wyd versprei het nie, is die kans op ʼn tweede uitbreking groter. Streicher sê ook in die VSA, waar talle nuwe Covid-19-gevalle aangemeld word, word dit nou in ander state as vantevore aangemeld. Hoewel dit dus lyk of die land deur ʼn sogenaamde tweede golf getref word, is dit nuwe state waarheen die virus versprei.

Verdere algehele afsondering

‘n Betoging in Kaapstad oor die afsonderingsregulasies wat die gasvryheidbedryf lamlê.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die afgelope week ook bevestig die aantal nuwe Covid-19 gevalle in Suid-Afrika neem af. Volgens die minister behoort Suid-Afrikaners teen volgende week te hoor hoe die regering voortaan die pandemie gaan hanteer – en of enige wysigings aan die afsonderingsbepalings aangebring kan word.

Panda het, nes talle ander instellings, organisasies en selfs politieke partye, reeds maande gelede gevra dat die afsonderingstydperk opgehef word. “Ons meen die regering het nie voldoende ondersoek na die nadele van die afsonderingstydperk ingestel nie. Jy verloor ook lewensjare weens die afsondering self en jy moet ál die faktore opweeg.

“Ek dink beslis ons het oorreageer in terme van afsondering. As jy mense keer om te werk, veroorsaak jy groot probleme. Mense het hul werk verloor. Hul sakeondernemings. Dit was heeltemal onnodig,” sê Streicher.

Volgens hom kon Panda geen verskil in Covid-19-syfers tussen vlak 5 van die afsonderingsregulasies en vlak 3 – wat tans heers – sien nie.

“Wat ons wél kon sien was ʼn onmiddellike oplewing in ekonomiese aktiwiteit elke keer wat die afsonderingsregulasies verslap is. Wat betref die siekte was daar geen uitwerking nie.”

Mulder sê ook daar is nie meer nut aan ʼn afsonderingstydperk nie. “Die ekonomiese skade is nie regverdigbaar nie. Die kapasiteit wat ons nié gebou het nie, is nie die publiek se skuld nie. Dit is die regering se skuld wat die geld in die middel van ʼn pandemie gesteel het. Dít is vir wie ons moet kwaad wees.

“Ons is in die middel van ʼn storm en ons moet vaar met dít wat ons het. Ons kan nie nou ʼn beter boot bou nie.”

Hy sê die regering moes ook verseker dat daar genoeg geld is om bykomende medici en hulpbronne te betaal, maar dat die afsonderingstyd hierdie ekonomiese inkomste uitgewis het. Suid-Afrika gaan na verwagting tot R300 miljard minder belasting invorder as wat verwag is.

“Mkhize begin nou praat van ʼn tweede golf, maar dis tipies staatsamptenaar wat nog nie self die ekonomiese gevolge gevoel het nie.”

Streicher sê hoewel Panda vra dat die afsonderingsregulasies laat vaar word, beteken dit nie dat hulle wil hê die regering moet hande gevou oor die pandemie sit nie. Hy sê die internasionale reisverbod en die verbod op groot samekomste wat vroeg al ingestel is, was beslis suksesvol. “Ons is ten gunste van daardie twee beperkings in die begin stadium. Dit het ook ʼn baie klein ekonomiese uitwerking gehad en transaksies kon grootliks normaal voortgaan.”

Hy sê terwyl die sterftes ernstig opgeneem moet word, moet dit ook vergelyk word met ander probleme – en die regering se reaksie moet pas by die omvang van die probleem. Suid-Afrika het jaarliks ook sowat 14 000 padsterftes en dit “is ʼn wesenlike probleem. Ons kan daardie sterftes ook verminder deur almal 60 km/h te laat ry, maar ons doen dit nie.”

Bykomende gevolge van afsondering

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, tydens ‘n besoek aan die Clairwood-hospitaal in KwaZulu-Natal. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Benewens die ekonomiese uitwerking wat die afsonderingstyd op die land het, is daar ook al hoe meer gevolge wat ander siektes betref. “Mense met MIV of TB kom nie by die hospitaal uit nie. As jy vir mense sê daar word [weens Covid-19] ʼn miljoen grafte in Gauteng gegrawe, wil hulle nie meer hospitaal toe gaan nie.

“As hierdie mense nie hul medisyne kry nie, het ons ʼn baie groot probleem.”

Mulder sê ook daar is reeds ʼn toename in stresverwante siektes en dat ʼn ekonomiese afswaai ook ʼn langtermyngesondheidsuitwerking het.

Streicher sê mense se angs oor die siekte moet ook in ag geneem moet word. “Ons voel sterk dat mense nie onnodige vrees moet hê nie. Dié vrees word oordryf en het weer ander nadelige gevolge.”

Hy sê hulle sien ook toenemende gevalle waar diabete se ledemate byvoorbeeld afgesit moet word omdat hulle te lank gewag het om mediese hulp te soek. “Dít is wat gebeur as jy mense bang praat.”

Mulder sê dit is nou tyd dat die mag terug aan burgers teruggegee word.

“Dra maskers, gebruik ontsmettingsmiddels, maar kom aan die werk en kry die ekonomie aan die gang. Ons kan nie só aangaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Voordat almal nou bly word: onthou tog net dis ‘n wit dokter wat sê ons is oor die kruin van Covid-19. Wag maar eers vir wat ons regering sê. Tien teen een gaan hulle nou dié wit dokter se uitspraak afmaak as rassisme.

JohanR

Ons sal oor die kruin wees, of die ergste sal oor wees waaneer die ANC soe se. As hulle nog nie klaar is om die land ekonomies te vernietig nie, dan sal hulle seker maak op een of ander manier bly ons toegesluit. Het julle al die familie gesien? Ons het lekker Sondag(soe 20 van ons) by my broer se huis saamgekom vir ‘n beesstert potjie. Ons het nou wel sy tweede laaste bottel Johnny Walker uitgesuip, en ‘n paar het nog hier en daar ‘n bier of ‘n mixer gehad maar die voegies raak min!

Dorothy

Nou word die waarheid gepraat!!!!!

Hoekom

Die ANC regime bad te lekker in SA se geld…

Niklaas

Hoop dis waar woorde. Die tyd sal leer. Laat ons maar wag en sien. Daar is deurgans twyfel oor die egtheid van beriggewing en syfers wat verskaf word.