Covid-19: EU begin om entstof te ontplooi

(Argieffoto: Unsplash)

Die Europese Unie het Saterdag begin om entstof te ontplooi terwyl lande in die blok weer streng afsonderingsmaatreëls toepas te midde van ʼn nuwe variant van die virus wat vermoedelik meer aansteeklik is.

Die pandemie het wêreldwyd reeds meer as 1,7 miljoen lewens geëis en lande wêreldwyd word steeds deur die virus geteister. Daar word gehoop dat entstof-veldtogte verligting sal bring in 2021.

Nuwe variant

Ure voor die eerste entstof-dosisse in Frankryk aangekom het, het die minister van gesondheid bevestig die eerste geval van die nuwe variant is geïdentifiseer in ʼn burger wat van Engeland teruggekeer het. Verskeie lande het gevalle van die nuwe variant aangemeld. Meer as 50 lande het reeds reisbeperkings van die Verenigde Koninkryk ingestel, maar gevalle van die nuwe variant is reeds wêreldwyd aangemeld. Japan het Vrydag vyf gevalle in passasiers van die VK bevestig, terwyl gevalle ook in Denemarke, Libanon, Duitsland, Australië en Nederland aangemeld is.

Suid-Afrika het ʼn soortgelyke mutasie in persone opgemerk, maar het Vrydag ontken dat dié variant meer aansteeklik of gevaarlik is as die een van die Verenigde Koninkryk.

Die sluiting van die grens vir 48 uur tussen die VK en Frankryk het tot ʼn bottelnek van 10 000 vragmotors in die suidooste van Engeland gelei. Vragmotorbestuurders was dae lank gestrand oor die feesgety. Die hoof van die Calais-grenspos het egter aan AFP gesê die situasie sal vinnig oplos nadat die grenspos ná Kersfees oopgemaak word.

Nuwe beperkings

Sommige lande wat afsonderingsregulasies kort voor Kersfees verslap het, het dit weer ingestel. ʼn Aandklokreël is onder andere in Oostenryk ingestel wat tot 24 Januarie sal voortduur.

Miljoene persone in die Verenigde Koninkryk word geraak deur die strenger regulasies, aldus die BBC. Meer as 40% van Engeland se burgers word geraak deur die streng regulasies, waaronder dat nienoodsaaklike ondernemings hul deure moes sluit en ʼn beperking geplaas word op sosiale kontak.

Nuwe regulasies is Saterdag ook in Skotland en Noord-Ierland ingestel en Wallis het ook weer beperkings ingestel ná dit voor Kersfees verslap is.

Meer as 25 miljoen gevalle is reeds in Europa bevestig.

Entstof

Inentings sal Sondag in al 27 lande in die Europese Unie begin ná reguleerders die Pfizer-BioNTech-entstof op 21 Desember goedgekeur het.

Terwyl inentings wêreldwyd ontplooi word, het Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie, Vrydag gewaarsku: “Entstof bied ʼn uitkoms vir die wêreld uit dié tragedie, maar dit sal lank duur voor die hele wêreld ingeënt is.”

Die pous se Kersboodskap het ook na die kwessie verwys met ʼn pleidooi dat “almal die entstof moet kry”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.