Covid-19: Gauteng sal steier weens gebrek aan Charlotte Maxeke-hospitaal

Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)

Die portefeuljekomitee oor gesondheid is van mening dat die voortgesette onbeskikbaarheid van die Charlotte Maxeke-hospitaal ʼn negatiewe impak sal hê op die vermoë van die Gautengse staatgesondheidstelsel om die derde golf van Covid-19-infeksies te beheer.

Die komitee het ʼn oorsigbesoek afgelê in Gauteng om die provinsie se gesondheidsorgfasiliteite te assesseer tydens fase 2 van die inentingsprogram en maatreëls wat in plek gestel is om die derde vlaag infeksies te beheer.

“Dit sal feitlik onmoontlik wees vir die provinsie om die derde golf te bestuur sonder die meer as 1 000 beddens by die Charlotte Maxeke-hospitaal, insluitend die 124 beddens in die hoësorgeenheid,” het dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die komitee, Sondag in ʼn verklaring gesê. “Die kwessie moet dringend aandag geniet en as die portefeuljekomitee bly ons verbind daartoe om met die nasionale ministers te gesels om te kyk hoe hulle bystand kan lewer om seker te maak die fasiliteit is gereed en beskikbaar vir bystand tydens die derde golf.”

Die komitee is van mening dat alle belanghebbendes, insluitend die departement van gesondheid (provinsiaal en nasionaal), Stad Johannesburg en die departement van openbare werke en infrastruktuur dringend moet vergader om oplossings te bekom om die hospitaal gereed en beskikbaar te kry.

Die belangrikheid van die fasiliteit strek verder as net die bestuur van Covid-19, het Dhlomo bygevoeg. “Die hospitaal het spesialisdienste wat ook tot voordeel strek van ander provinsies. Die voortgesette onbeskikbaarheid van dié dienste is onhoudbaar en daarom is dringende optrede nodig.”

Maroela Media het vroeër berig die Charlotte Maxeke-hospitaal is op 17 April vanjaar gesluit nadat ʼn brand langer as ʼn dag daar gewoed en groot skade aangerig het. Meer as 800 pasiënte is na 17 ander mediese fasiliteite reg oor Gauteng oorgeplaas. Die brand het op 15 April in ʼn apteek se pakkamer uitgebreek en byna 12 uur lank gewoed voordat brandbestryders dit in bedwang gebring het.

Die komitee verwelkom egter die Gautengse departement van gesondheid se voorneme om nog inentingsgeriewe beskikbaar te maak. “Die komitee bly bewus daarvan dat die stryd teen die verspreiding van Covid-19 slegs versterk kan word deur ʼn doeltreffende inentingsveldtog wat uiteindelik tot kudde-immuniteit sal lei. Die komitee verwelkom die uitbreiding van persele as ʼn tree in die regte rigting om seker te maak die inentingsprogram is so doeltreffend as moontlik. Die persele wat die komitee besoek het, was almal operasioneel, maar die komitee het besware geopper by die Kopanong-hospitaal.”

Dhlomo sê die infrastruktuurontwikkeling wat byna ʼn jaar gelede opgeskort is by Kopanong-hospitaal verhoed die uitbreiding van die inentingsperseel om seker te maak dat hy nog meer mense kan bedien sodat inentings vinniger kan plaasvind. “Die komitee sal met die Gautengse departement van infrastruktuur in gesprek tree om oplossings te vind vir die vertragings in die infrastruktuurprogram.”

Die gebrek aan water by die Rahima Moosa-hospitaal, Helen Joseph-hospitaal en ʼn aantal gemeenskapsentrums is ook kommerwekkend. Die komitee versoek dringende samewerking deur alle belanghebbendes. “Die komitee verwelkom die moontlikheid dat Jojo-tenks beskikbaar gemaak kan word as ʼn tydelike maatreël om water beskikbaar te maak aan gesondheidsorgfasiliteite. Die komitee maan ook Rand Water en Stad Johannesburg om in te gryp en seker te maak dat water te alle tye beskikbaar sal wees.”

Die komitee is besorg oor die toenemende getal Covid-19-infeksies en maan almal om steeds aan gesondheidsprotokol te voldoen en groot byeenkomste te vermy.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Die selfde trant as skoole…Niks sal ooit hou

Werner

Omdat Niks instand gehou word nie alles is oppad om te brand

Anton

Laai hulle by Zweli se huis af

Elsabe

Weet iemand dalk wat geword het van al die nuwe beddens en toerusting wat in veldhospitale opgestel is, tydens ons eerste vlaag van Covid? Bv. by Nasrec in Gauteng, waar ‘n video van die minister van Gesondheid geneem is by al die beddens daar. Dit sal mos nou handig te pas kom in ons derde vlaag, veral hier in Gauteng.

Jacobus

Bestuur soos res van infrastruktuur. Dit grens aan kriminele wanbestuur.