Covid-19: Gedwonge kwarantynregulasies geskrap

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: Twitter)

Die hooggeregshof in Pretoria het die burgerregtegroep AfriForum se dringende aansoek toegestaan waarin hy gevra het dat die kwarantynregulasies wat selfisolasie verbied, opgeskort word.

Diegene wat dus doeltreffende kwarantynmaatreëls vir hulself kan tref as hulle positief vir Covid-19 toets, word nou toegelaat om dit te doen.

AfriForum het die regulasies as “irrasioneel en drakonies” bestempel. Dit was gemik daarop om almal wat positief vir Covid-19 toets onder verpligte staatskwarantyn te plaas, maar AfriForum het aangevoer dit is ongrondwetlik en onwettig.

Die regulasies het onder andere bepaal dat almal wat positief toets vir Covid-19 in die regering se kwarantynfasiliteite geplaas sou word. Iemand sou ook sonder toestemming deur die staat gedwing kon word om in kwarantyn gehou te word.

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, wat verantwoordelik was vir die afkondiging van die regulasies, het nie die aansoek teengestaan nie.

“Die belangrikheid van burgerregteorganisasies en instellings wat outokratiese en irrasionele regeringsbesluite teenstaan, het tydens hierdie inperkingstyd al hoe duideliker geword. Wanneer die regering sy mag misbruik en die publiek probeer boelie deur mense se regte te skend, sal AfriForum daarteen opstaan – ten bate van almal in die land,” het Monique Taute, hoof van veldtogte by AfriForum, gesê.

Dit is AfriForum se tweede hofoorwinning oor kwessies wat met kwarantynregulasies verband hou. Die Pretoriase hooggeregshof het verlede maand beslis die Zithabiseni-kwarantynkamp, naby Groblersdal, wat in ʼn haglike toestand is, moet gesluit word en dat die mense toegelaat moet word om huis toe te gaan.

Die regering het Dinsdag boonop nóg ʼn terugslag beleef toe die hooggeregshof bevind het die afsonderingsregulasies vir risikovlak 3 én vlak 4 is ongeldig en ongrondwetlik. Vlak 3-regulasies bly egter vir twee weke ná die uitspraak steeds van krag.

Regter Norman Davis het in sy uitspraak beveel dat die regulasies hersien, gewysig en weer gepubliseer word in ag genome die beperking wat elke regulasie het op die regte wat in die Handves van Menseregte vervat is.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Cherokee ·

Willem, skryf vir die redaktrise daaroor. Jy het my daadwerklike ondersteuning.

Alleen Wolf ·

Mooi so AfriForum, sy moet vir haar kry, net jammer die belasting betaler gaan uiteindelik vir die kostes opdok, regter moes haar persoonlik verantwoordbaar gehou het, dan sal sy nie met nog sulke absurde reeltjies vorendag kom nie.

KB ·

Alleen, as jy die hofsake ophande mooi lees, dan sal jy weet DZ kry haar beurt wanneer die DA hierdie week hof toe gaan. Haar departement is skuldig aan baie misdrywe (soos hierdie een van Afriforum, waaroor berig word).
Sy is op bitter dun ys oor verskeie aspekte, waarvan die 108/112 amptelike parlementêre vrae wat sy nog agterstallig is, maar een van talle voorbeelde is!

PH ·

Nog ‘n snotklap vir Ramaphosa se regterhand.
Dankie AfriForum!

Cherokee ·

Iemand hou daarvan dat jy gesensor word, want jy word elke keer geduimop wanneer jy dit sê.

KB ·

Par. 2.3 vd Konstitusie van Suid-Arika spel tog duidelik uit dat daar geen diskriminasie tov enige Suid-Afrikaner mag wees nie, ongeag sy/haar ras, velkleur, ouderdom, opvoeding, ens. nie. Dit is so duidelik (soos daglig!) dat BBBEE diskriminerend is, en absoluut teen menseregte is. Enigeen sal dit verstaan (as hy/sy kan lees).
Dat burgerregteorganisasies en politieke partye dít kan mis kyk, gaan my verstand te bowe. Genade, lees tog net die Konstitusie!!!

marius ·

Gaan Afriforum diegene wie in die afsonderings plekke aan hel blootgestel is bystaan met eise , of gaan dit net gelos word ?

Cherokee ·

En vir die kommentators in hierdie forum (jy weet wie jy is) wat sê dat AfriForum bôggerol regkry. Dankie AfriForum.. mag julle voorspoed op voorspoed ervaar!

Pieter ·

Wat my opval en bekommer is dat noodsaaklik blank gebaseerde organisasies en partye die bewind aanpak op grond van grondwet -en menseregteskendings. Dit is taamlik afleibaar en duidelik dat die ander kommunistiese gesag goedsmoeds aanvaar en geen vryheid verlang nie. Hoekom die bohaai oor Apartheid?

Skyspy007 ·

Ek sou graag ook wil sê, gaan lees gerus en GROOT asseblief na Dr Johan Joubert se toesprake oor “Free Man on the land”. Die media het hom probeer afhaal en hy is uiteindelik vermoor in sy huis oor sy waarhede oor die mensdom en hulle regte en voorregte. Dit is beskikbaar op You……..Tube…. volgende, indien jy in besit is van ‘n paspoort, LEES WAT VOORIN STAAN baie duidelik en verklaar dit….onder andere, “freedom of movement, without hindrance or let and PROTECTED…..”
As julle verwyder MM, doen dit gerus. Dit is net die waarheid wat gesê word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.