Covid-19: Gesondheidsdepartement reik riglyne uit vir gebruik van deksametasoon

(Foto: CTICC/Facebook)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê daar was tot dusver geen ander middel wat dieselfde vlak van doeltreffendheid as deksametasoon teen Covid-19 getoon het nie.

Deksametasoon, wat bestempel word as ʼn deurbraakmiddel in die behandeling van Covid-19, is ʼn steroïed wat reeds as anti-inflammatoriese middel vir byvoorbeeld die behandeling van asma, allergiese reaksies, outo-immuunsiektes en breinswelling gebruik word.

Mkhize het gesê studies het bevind deksametasoon verminder sterftes by pasiënte wat ventilators nodig het met ʼn derde en met ʼn vyfde in pasiënte wat bykomende suurstof nodig het. Die studie is deur die Universiteit van Oxford in Engeland gedoen.

Die studie het egter geen voordeel gevind vir pasiënte wat nie bykomende suurstof benodig nie.

Die minister het gesê Suid-Afrika het sedertdien na sy eie situasie gekyk en dat die land in ʼn gunstige posisie is. “Ons gesondheidsorgwerkers is reeds goed bekend met deksametasoon en gebruik dat al dekades lank as geregistreerde medisyne in Suid-Afrika.”

Volgens Mkhize het Suid-Afrika in dié stadium nagenoeg 300 000 ampules van die medikasie in voorraad.

“Dit is een van daardie medikasies waarvoor ons uitstekende plaaslike kapasiteit het. Daar is drie groot verskaffers van binneaarse deksametasoon in die land. Een van die maatskappye vervaardig die mondelikse ekwivalent en verskaf dit wêreldwyd. Ons kan dus op tuisbodem onderhandel vir die veiligheid van ons eie voorraad.”

Mkhize het gesê Suid-Afrika kan trots wees dat dit een van die lande kan wees wat ʼn oplossing vir ʼn wêreldwye krisis kan help bied.

Die ministeriële advieskomitee het ʼn kennisgewing uitgereik dat deksametasoon vir alle Covid-19-pasiënte op ventilators of wat bykomende suurstof nodig het, aanbeveel moet word. Deksametasoon word egter nie aanbeveel vir asimptomatiese pasiënte of diegene wat nie suurstof nodig het nie.

“Die deurbraak is uitstekende nuus vir ons en ons is veral bevoorreg dat dit kom terwyl ons voorberei op die komende vlaag. Die strategie is maklik om in werking te stel omdat die medisyne goedkoop, maklik om te vervoer én toe te dien is. Dit gaan nie veel meer bykomende opleiding vereis nie,” het Mkhize gesê.

Die advieskomitee het dit egter duidelik gemaak dat die aanbeveling gedoen word terwyl ʼn diepgaande studie van die bevindings nog  aan die gang is.

“Ons gaan dus voort om riglyne vas te stel vir die gebruik van deksametasoon vir gebruik in al ons fasiliteite vir uiters siek Covid-19-pasiënte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jaco ·

Ek gee die ding 1 week, dan begin smokkelhandel in deksametasoon en die ANC cash in daaruit.

JohanR ·

Hoop dit bring darem somer gou verligting vir die wat van Covid-19 baie siek is. Wees net op die uitkyk vir die newe-effekte van deksametasoon : The following side effects are common (occurring in greater than 30%) for patients taking dexamethasone:
Increased appetite.
Irritability.
Difficulty sleeping (insomnia)
Swelling in your ankles and feet (fluid retention)
Heartburn.
Muscle weakness.
Impaired wound healing.
Increased blood sugar levels.

Vriendelike Frikkie ·

Dank Vader daar is nou effense raad vir die pandemie. Nou wag ons vir die eerste Deksametasoon samesweringsteorieë om YouTube te haal.

netekalleen ·

En hier is die kans vir ons regering om vet sakke geld te maak. Dis nou goedkoop em maklik om te versprei. Tot een of ander mamparra se kop weer net na sy/haar bank rekening kyk

Kobus ·

Daar is nou al vir meer as ‘n week 208 mense wat krities gelys word op die Worldometer in Suid Afrika.
Is hulle besig om die mense met die meds aan die lewe te hou? Of het hulle net vergeet om die syfers weer te wysig?

Danie ·

Die effense “side effects” tel regtig nie punte indien jy moet kies om te lewe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.