Covid-19: Gesondheidspraktisyns vrees vir veiligheid

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Solidariteit se beroepsgilde vir gesondheidspraktisyns het Donderdag in ʼn skrywe aan Zweli Mkhize, minister van gesondheid, versoek dat strenger en duideliker maatreëls ingestel word om gesondheidspraktisyns se gesondheid en veiligheid te verseker. Dit te midde van die uitbreking van die nuwe koronavirus  in die land.

Die gilde sê hulle het verskeie klagtes vanaf lede gekry oor gevaarlike toestande waarin hulle moet werk.

Henru Krüger, sektorhoof by Solidariteit se beroepsgilde vir gesondheidspraktisyns, sê in een geval is ʼn verpleegster verbied om ’n masker te dra terwyl sy met ’n pasiënt wat moontlik Covid-19 onder lede het, moes werk. In ’n ander geval moes ’n dokter sonder beskermende klere ’n moontlike Covid-19-pasiënt behandel en daarna ander pasiënte verder behandel. Dit was glo omdat daar geen beskermende klere beskikbaar was nie.

“ʼn Algehele verskynsel in staatsklinieke is dat geen noukeurige ondervraging van pasiënte plaasvind nie alvorens ’n pasiënt in die kliniek toegelaat word. ’n Siek pasiënt wat moontlik Covid-19 opgedoen het, sit dan vir ure tussen ander pasiënte en wag om gehelp te word,” sê Krüger.

Hy sê die gilde rig die brief aan die minister om hom aan sy pligte teenoor gesondheidspraktisyns te herinner en ook om praktisyns bewus te maak van hul regte in die werkplek.

“Dit is kommerwekkend dat gesondheidspraktisyns onder uiters onveilige toestande moet werk sonder die nodige voorsorgmaatreëls en riglyne in plek,” het Krüger gesê.

(Argieffoto: pixabay)

Personeellede by die Universiteit van Pretoria (UP) se Fakulteit Veeartsenykunde kla dat die nodige voorsorgmaatreëls nie by hulle getref is om te keer dat die virus hier versprei nie. ʼn Personeellid, wat anoniem wil bly, het aan Maroela Media bevestig dat daar geen handreinigingsmiddel aan hulle verskaf is nie. “Ons vrees dat ons die virus kan optel omdat ons met baie mense in aanraking kom,” het die personeellid gesê.

Rikus Delport, woordvoerder van die UP, sê die universiteit kan bevestig dat handreinigingsmiddel orals vir personeel en studente op die UP se kampusse beskikbaar gestel word. “Dis moontlik dat daar geringe uitsonderings is waar die bestuur nog besig is om handreinigingsmiddels te versprei weens die groot vraag na middels by verskaffers, maar dit is enkele gevalle,” het Delport gesê.

Hy sê skoonmakers word ook van handskoene voorsien en daar is reeds met uitgebreide bewuswordingsveldtogte begin om alle personeel bewus te maak van die nodige voorsorgmaatreëls wat getref moet word.

Na aanleiding van die bogenoemde gevalle, het Solidariteit saam met die skrywe ook ʼn stel riglyne uitgereik wat die regte en pligte van topbestuur sowel as die beroepsgilde se lede uiteensit. “Gesondheidspraktisyns se regte om in ʼn veilige werkomgewing hul beroep te beoefen, kom nie ten koste van die publiek se gesondheid nie, dit is juis noodsaaklik daarvoor,” sê Krüger.

Krüger sê te midde van die Covid-19-krisis moet alle hulpbronne ingespan word en almal moet die ekstra myl stap om die verspreiding van die virus te bekamp.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het ook bevind dat gesondheidsgeriewe in Gauteng ʼn gevaar vir pasiënte sowel as personeel inhou. Die kommer ontstaan dat daar nie genoeg hospitaalbeddens en voldoende infrastruktuur in die openbare gesondheidstelsel is om die koronavirus te hanteer nie, volgens die DA.

Alan Fuchs, LUR vir infrastruktuur van die DA, het gesê infrastruktuurprojekte is in 2018 opgeskort weens finansiële beperkings, wat tot die agterstand in onderhoud en die agteruitgang van gesondheidsfasiliteite gelei het. “Die finansiële situasie het ook nog nie verbeter om die tekortkominge in die infrastruktuur aan te spreek nie.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan Venter ·

Maar by elke geleentheid en om elke hoek en draai verseker Cyril Ramaphosa en Dr Zweli Mkhize die media en almal wat wil hoor hoe paraat ons vir hierdie virus is! Hulle praat mos seker namens die staat se gesondheidsorg ook, ek meen veral!?

Astrain ·

Covid 19 gaan mense meer finansieel doodmaak as fisies.. dis baie duidelik!

BoerSonderRoer ·

Wag tot hy ‘n informele nedersetting penetreer, dan praat ons weer.

popsa ·

BAIE DANKBAAR, MM, dat hierdie sake uiteindelik ter sprake kom! Die prosedure by staatsklinieke is uiters kommerwekkend op hierdie stadium waarin daar gepoog word om die korona-virus te probeer stuit. Ja, mediese personeel, maar veral ook pasiënte, oud en jonk, wat vir chroniese medikasie of ander ongesteldhede aanmeld, verkeer letterlik vir ure saam in ‘n vertrek, en WIE WEET wie het die virus reeds onder lede? Tot baie onlangs was daar nog geen evaluering by ingange mbt koors, hoes of handreiniger nie. Mediese personeel gee hul allerbeste daar, maar streng noodmaatreëls vanaf hoër gesag is DRINGEND nodig by staatsklinieke, anders gaan daardie klinieke, wat eintlik ten doel het om genesing te bevorder, eerder die oorsaak wees van wydverspreide besmetting met die virus. Ons versoek dat daar asseblief dringend streng en effektiewe noodmaatreëls by elke staatskliniek ingestel word om die korona-virus te probeer bekamp. In die proses sal mediese personeel daar hopelik ook beskerm word.

BoerSonderRoer ·

Sover ek weet kan jy tronk toe gaan as jy toelaat dat 100 of meer mense saamtrek.

Ek dink Dr Mkhize gaan dalk ‘n strafregtelike saak op sy hande he een van die dae.

BoerSonderRoer ·

Agbare minister is mos ‘n dokter, laat hy inspring en help.

Johan Venter ·

Nou kan mens uit die bogemelde duidelik sien waarom die ANC regering die NGV so jaag en die private gesondheidsdienste wil nasionaliseer, hulle het eenvoudig net nie daardie kundigheid nie, selfs die basiese en ooglopende eerste sorg ontbreek hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.