Die getal Suid-Afrikaners wat positief getoets het vir Covid-19, die siekte wat veroorsaak word deur die nuwe koronavirus, het van 402 tot 554 toegeneem. Dit is ʼn toename van 37%, aansienlik minder as die toename van 46% tussen Sondag en Maandag.
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag aangekondig dat vyf mense reeds van die virus herstel het sedert die eerste geval op 5 Maart in Suid-Afrika aangeteken is. Twee mense word egter in die hoësorgeenheid in private hospitale behandel. Dit is onseker waar dié pasiënte hulle bevind.
Gauteng het steeds die meeste gevalle (307). Volgens die minister is die meeste van dié pasiënte in Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane. Kaapstad het 113 gevalle, en KwaZulu-Natal 80. In die Vrystaat het 18 mense tot dusver positief getoets vir die virus. “Die meeste van dié mense het ʼn kerkdiens bygewoon waar vyf buitelanders teenwoordig was wat die virus onder lede gehad het,” sê Mkhize. “Dit is van sleutelbelang dat ons nou al die kerkgangers opspoor en vir die virus toets.”
Mkhize sê ʼn stand van afsondering was nodig om die verspreiding van die virus so vinnig moontlik te bekamp, maar Suid-Afrikaners moenie verwag dat die gevalle nou skielik gaan afneem nie. “Ons gaan waarskynlik nog ʼn aansienlike styging in gevalle sien. Lande soos Korea het eers ʼn daling in gevalle gesien vier weke nadat soortgelyke maatreëls ingestel is. Maar ons hoop om in die volgende paar weke ʼn afname in dié getalle te sien,” sê Mkhize.
Hy sê dit is steeds goed dat daar nog nie baie gevalle van interne verspreiding was waar Suid-Afrikaners wat nié in die buiteland was nie, by mekaar aangesteek het. “Dit is ook goed dat nie baie mense ernstig siek is nie.”
Mkhize het gesê dat Suid-Afrikaners hulself as soldate moet beskou wat saam die virus beveg. “Elkeen moet verantwoordelik optree en sy deel doen om te keer dat die virus versprei.”
Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Ek stem saam die met dissipline gaan ok wees maar ongelukkig steur die meerderheid hulle aan geen reels of regulasies nie.
En dan sê besighede, dis nie so erg nie, jy MOET kom werk?
My man was in die hotel in Woodlands BFN. so is hy Mediclinic toe. Net oor hy nog nie koors het nie toets hulle hom nie. So hy kon 100 mense myself ingesluit aangesteek het al en ons weet dit nog nie. R900 vir ‘n toets wat hy sou betaal maar oor hy geen koors het nie is hy weg gestuur. Ons land is ‘n joke….
Covid-19 – 1
Suid Afrika – 0
Mens kan ongekukkig nie bly wees oor 46% vs 37% nie. Daar loop nog baie rond wat nie eers weet hulle is siek nie. Dag tot dag persentasies gaan nie werk nie.
Net jammer die regering gee net vir die swart mense of BEE klein besighede hulp