Covid-19-geval by spogskool in Bloemfontein bevestig

Personeel se temperatuur word gemeet by Grey-kollege in Bloemfontein. (Foto: Verskaf)

Hoewel Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein nie in dié stadium gesluit word nie, word dele van die skool ontsmet nadat ʼn leerder daar positief vir Covid-19 getoets het. Só sê die Vrystaatse departement van onderwys.

Die leerder is van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

Die departemente het die skoolgemeenskap gemaan om kalm te bly terwyl die ontsmettingsproses by die skool aan die gang is. Die dele van die skool waar die betrokke leerder was, word diep ontsmet en almal met wie hy in aanraking gekom het, word opgespoor.

Die leerder, asook sy nabye kontakte, is reeds in kwarantyn geplaas. Dit sluit sy grootouers in KwaZulu-Natal in.

“Daar is geen rede tot paniek nie, omdat die skool al die basiese stelsels in plek het om leerders teen Covid-19 te help beskerm,” het Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, gesê.

Volgens die departemente is dit ook danksy dié voorkomingsmaatreëls dat die geval so vinnig geïdentifiseer is.

“Ons moet ondersteunend wees en nie deur vrees gedryf word wanneer enige Covid-19-situasie by ʼn skool hanteer word nie. Volgens voorspellings kan die meeste mense in die koue wintermaande die infeksie opdoen,” het Ndaba gesê.

Duisende gr. 7- en gr. 12-leerders het Maandag te midde van die Covid-19-pandemie teruggekeer skool toe. Hoewel talle ouers bekommerd is dat hulle kinders moontlik die virussiekte kan opdoen, het verskeie kenners gesê dat kinders nié sogenaamde superverspreiders van die virus is nie.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Pediaters (Sapa) steun onder andere die besluit dat kinders terugkeer skool toe. Volgens die vereniging is dit so dat kinders ʼn verhoogde risiko het om terug by die skool die virussiekte op te doen, maar dat die uitwerking daarvan op hulle veel minder is in vergelyking met volwassenes.

Ndaba het gesê hoewel daar nog geen entstof teen Covid-19 is nie, herstel groot getalle mense wel van die siekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem ·

Ons moenie nou vrees nie. Hierdie virus gaan nog baie mense aansteek. Net soos ons vorige virusse beveg het sal ons die een ook beveg. Hou net aan Glo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.